Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
'Dis ’n ou in ’n kakiebroek wat ’n trap klim,' maar ...

Daar is talle kwessies wat Suid-Afrikaners verdeel, maar oor een ding is ons dit eens – mooi bly mooi.

Dit sien ’n mens uit die reaksie op sosiale media op 'n foto van 'n jong man in 'n stywe kakiebroek wat 'n trap klim.

Die foto is deel van 'n Afrikaanse advertensieveldtog van Boerboel Wear.

Op Facebook is die plasing sedert 20 November sowat 4 800 keer gedeel en daar was sowat 9 300 kommentare, én nie net Afrikaanse mense praat saam nie! 

Die man in die denimhemp en ’n kort kakiebroek wat van agter afgeneem is, is die 22-jarige Reinard van der Vyver, 'n landboustudent aan die Universiteit van die Vrystaat.

“Hy is ’n boerseun in murg en been en die aandag is vir hom oorweldigend,” sê Stephan Hugo, baasbrein agter die advertensieveldtog.

Hugo, mede-eienaar en bemarkingsbestuurder van Boerboel Wear, sê ook die opslae wat die plasing gemaak het, is vir hulle en vir Van der Vyver verrassend. "Dis ’n ou in ’n kakiebroek wat ’n trap klim.”

Die foto wat onlangs die aandag getrek het op sosiale media. Die bewoording by die foto lees: “Met hierdie foto wil ons graag klem lê op die feit dat ons liggewig Denim Kalahari- hemp spoggerig vertoon by enige van ons broeke. Let ook op die aanskoulike sakdetail op die linkermou. #VleiswysVrydag.”

Die mense se kommentaar spreek boekdele.

Die Facebook-gebruikers Precious Sihler Zondie en Mbalenhle Zimande meen albei dit is plasings soos dié wat Suid-Afrikaners bymekaarbring.

Die televisie-aanbieder Eloise Cupido het haar ook uitgespreek oor dieselfde plasing: “Kom dié lyf saam met julle klere? Genadetjie!”

Mariaan Swanepoel sê in reaksie op die foto dat sy “skielik wil boer”.

Maar dit is nie net die foto’s van die aantreklike mans geklee in Boerboel Wear wat aandag trek nie, maar ook die unieke Afrikaanse bewoording daarby.

Die onderskrif by Van der Vyver se foto lui: “Met hierdie foto wil ons graag klem lê op die feit dat ons liggewig- Denim Kalahari-hemp spoggerig vertoon by enige van ons broeke. Let ook op die aanskoulike sakdetail op die linkermou. #VleiswysVrydag.”

Kom dié lyf saam met julle klere? Genadetjie!

As ’n plaaskind uit ’n Afrikaanse gesin bring Hugo ook die manier waarop sy familie Afrikaans praat en hul humorsin in die bemarking na vore.

“Ek het nie noodwendig altyd ’n plan nie. Ek doen die fotosessies saam met die modelle en dan kyk ek wat werk.

“Omdat daar so baie negatiwiteit in die wêreld is, probeer ons om ons bemarking lig en humoristies te hou. Dis wat die mense trek – die bietjie ironie en humor in die byskrif. Dit noop mense om hul eie kommentaar te lewer.

"Ons sê glad nie dat ons van die kommentaar se trant goedkeur nie, maar dit is hoe sosiale media vandag werk.

“Ons kan nie noodwendig altyd beheer wat mense sê nie, maar ek dink regtig die meeste kommentare is eintlik baie skerp en snaaks. Ek dink veral in hierdie jaar wat daar so baie negatiwiteit weens Covid-19 was, is mense nou ’n bietjie lus om die bolla los te maak.”

“Ek feed baie op die kommentaar wat ons op Facebook kry.”

Hoewel die bewoording by die foto’s op sosiale media in Afrikaans is, trek dit ’n breër gehoor se aandag.

“Dis presies wat ons wil hê. Ons is nie skaam om in Afrikaans te adverteer nie – dit is ons kultuur en die stigters van die handelsnaam is Afrikaans. Dit is die soort woorde en uitdrukkings wat ek ken, maar ons probeer niemand uitsluit nie,” sê Hugo.

Boerboel Wear het nog nooit ’n professionele model vir sy bemarking gebruik nie. Van sy modelle is boere, terwyl baie van hulle manne is met ’n liefde vir jag en die buitelewe.

“Dit is gewone ouens – ouens wat ons raakloop en vriende van vriende. Ek het al ’n oog ontwikkel vir wat gaan werk vir ons mark. Ons val buite die norm, want ons gebruik nie tipiese modelle nie.

“Jy moet omtrent ’n 32-broekgrootte dra om ’n professionele model te wees. Al ons modelle dra 34- en 36-broeke. Hulle is baie groter gebou as ’n tipiese model.

Khail Kotzenberg (23) leun teen ’n lae muur in die Boerboel Wear-kleredrag.

Khail Kotzenberg (23), ’n student in BCom-bemarkingsbestuur aan die Universiteit van Pretoria, het einde verlede jaar betrokke geraak by Boerboel Wear deur ’n vriendin wat hom aan die span voorgestel het.

“Ek het nog nooit só iets gedoen nie of eens aan ’n kompetisie deelgeneem nie. Hulle het gehou van hoe ek lyk en toe het ek basies deel van die familie geraak,” sê Kotzenberg.

Khail Kotzenberg (23) wys dat hy gemaklik op ’n trekker kan klim in die Boerboel Wear-kleredrag.

Sedert hy as ’n model optree vir die handelsnaam, is dit veral jong mense wat hom in kuierplekke herken en groet. Die ouer garde skroom nie om kommentaar oor hom en sy lyf op sosiale media te lewer nie, vertel hy.

Hy het nie ’n Facebook-rekening nie, maar sy vriende sal hom dan en wan op die hoogte bring.

“Omdat ek dit nie lees nie, beïnvloed dit my nie eintlik nie.”

Sy ma neem wel aanstoot wanneer daar vulgêre, of onder-die-belt-kommentaar oor hom gemaak word.

Gé Jooste (47) van Zwavelpoort, oos van Pretoria, doen sedert 2018 modelwerk vir Boerboel Wear deur ’n vriend wat hom na hulle verwys het.

Gé Jooste (47) werk daagliks in Boerboel Wear se klere. Hier dra hy een van die handelsmerk se tweekleurige hemde en ’n kort kakiebroek.

Oor die kommentare sê hy dit is nie vir hom ’n “groot krisis” nie.

“Dit is vermaaklik. Daar is beledigings soms, veral van mans af, maar ’n ou neem dit maar met ’n knippie sout,” sê Jooste. Mense is veral uitgesproke oor sy gladde bene.

“Mense sal sê hulle twyfel sterk of dié persoon ’n boer kan wees en dat hy heeldag net in die gym lê,” sê Jooste.

Hy bou voltyds boormasjiene vir boorgate en mynmasjinerie. Hy boer ook deeltyds met wildsbokke.

“Ek werk elke dag in die Boerboel-klere. Naweke is ek steeds in my Boerboel-klere tussen my bokke en op my motorfiets. Ek jag ook in dié klere.”

Gé Jooste (47) wys bietjie lyf in Boerboel Wear se kamoefleerdrag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.