Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ena Jansen kry eredoktorsgraad vir werk in Afrikaans

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het in Oktober ’n eredoktorsgraad toegeken aan prof. Ena Jansen vir haar bydrae om Afrikaans in die Lae Lande (Nederland en België) te bevorder.

Prof. Ena Jansen met die toekenning van die eredoktorsgraad. Links is prof. Rantoa Letsosa, waarnemende uitvoerende dekaan van die NWU se fakulteit teologie, prof. Refilwe Phaswana-Mafuya, adjunkvisekanselier: navorsing en innovasie, en prof. Wannie Carstens, voormalige direkteur van die NWU se skool vir tale. Foto: Verskaf

Dié gesoute akademikus het ’n groot bydrae gelewer om die status van Afrikaans as vak in die Lae Lande te laat herleef – in besonder aan universiteite wat (vroeër) polities sterk gekant was teen kontak met Suid-Afrika, en veral Afrikaanssprekendes, sê prof. Wannie Carstens, voormalige direkteur van die skool vir tale aan die NWU.

“Die toekenning bewys dat die NWU hom sigbaar tot Afrikaans verbind.”

Jansen, wat sedert 2002 permanent in Nederland woon, het ook ’n aktiewe rol gespeel om die Zuid-Afrika-Huis in Amsterdam as ’n bate vir Afrikaans en Suid-Afrika te behou en uit te bou.

Carstens sê Jansen het in 2011 die Suid-Afrikaanse literêre gemeenskap se aandag gevestig op die moontlike sluiting van Zuid-Afrika-Huis (ZAH) in Amsterdam.

“Dit was ’n bedreiging vir die versameling Suid-Afrikaanse literatuur en geskiedkundige bronne wat daar gehuisves word.”

Jansen het toe saam met ander akademici in Suid-Afrika en die Lae Lande ’n aktiewe veldtog in die Suid-Afrikaanse en Nederlandse media begin, deur ’n beroep op Suid-Afrikaners en Nederlanders te doen om te help om in Zuid-Afrika-Huis se geldelike behoeftes te voorsien.

“Hierdie veldtog het uiteindelik gelei tot die toetrede van Naspers (in die naam van Die Burger) wat fondse beskikbaar gestel het vir die herstel van ZAH,” sê Carstens.

Prof. Wannie Carstens, voormalige direkteur by die Noordwes Universiteit se skool vir tale, by prof. Ena Jansen wat onlangs ’n eredoktorsgraad van die unviversiteit ontvang het. Foto: Verskaf

“Sáám met die fondse van die eienaar kon die huis herstel en gemoderniseer word. Hierdeur is ’n kosbare kulturele, geskiedkundige en taalbate vir Afrikaans bewaar. En die gemoderniseerde ZAH het nou opnuut weer die plek in Amsterdam geword waar vergader word om Afrikaans se belange in die Nederlandse konteks te bevorder.”

Jansen was in 2002 medeprofessor in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand, voordat sy in 2003 die gesogte pos as professor in die “leerstoel Zuid-Afrikaanse letterkunde” aan die Universiteit van Amsterdam gekry het.

Terwyl sy dié pos tot met haar aftrede in Junie 2016 beklee het, het Afrikaans weer ’n vastrapplek in Europa gekry, sê Carstens.

“Gehalte was deurgaans haar vertrekpunt in haar lang en produktiewe akademiese loopbaan,” sê Carstens. “Sy het (onder meer) verskeie boeke en akademiese (asook populêre) artikels geskryf, as gasdosent op verskeie plekke in die wêreld opgetree, talle nagraadse studente begelei en lei tans vier doktorsgraadstudente in Nederland.”

* Jansen kon nie Dinsdagoggend vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Ena Jansen  |  Noordwes-Universiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.