Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Engeland wil vir Rassie hê

Rassie Erasmus, Suid-Afrikaanse rugby se towenaar-afrigter wat die Bokke binne 18 maande van "zeros" na "heroes" gebrei het, is een van die gunstelinge om Engeland se nuwe afrigter te word.

Rassie Erasmus. Hy het die afgelope tyd gesprekke met die Engelse rugbyunie gehad Foto’s: Getty Images

Rapport kan vandag onthul dat Erasmus die afgelope tyd gesprekke met die Engelse rugbyunie gehad het wat hom graag Twickenham toe wil lok om by ’n beleërde Eddie Jones oor te neem. Dit sal beteken dat hy die einste span gaan afrig wat in die Wêreldbekereindstryd so deur die Bokke verniel is.

Erasmus is juis op die oomblik in Brittanje waar hy gister die Sesnasieskragmeting tussen Skotland en Engeland op Murrayfield bygewoon het met die oog op die twee toetse wat die Skotte teen die Bokke in Julie in Kaapstad en Durban speel.

Jones het gespog dat sy span die Franse Hane met ‘absolute brute krag’ gaan vermorsel – net om 24-17 te verloor.

Daar word nou gewaarsku dat die rugbybase vinnig uit hul wegspringblokke moet kom as hulle wil verhoed dat Erasmus sy tasse Londen toe pak. Die vierjaarkontrak wat hy as afrigter met SA Rugby gesluit het toe hy aan die einde van 2017 van Ierland na Suid-Afrika teruggekeer het, eindig volgende jaar, net ná die besoek van die Britse en Ierse Leeus aan Suid-Afrika. (Daar is destyds berig dat hy ’n kontrak vir ses jaar gesluit het, maar Rapport verstaan dat dit nie korrek is nie). Erasmus kan boonop vanweë ’n klousule in sy kontrak selfs vroeër wegstap as hy en die Engelse Rugbyunie ’n ooreenkoms bereik, het twee onberispelike bronne die afgelope week gesê.

Rapport verstaan dat die moontlike skuif Engeland toe swaar op Erasmus se gemoed rus. Die feit dat sy drie dogters nog op skool is en so ’n verskuiwing baie ontwrigtend vir die familie gaan wees, maak dit waarskynlik glad nie makliker nie.

Eddie Jones: Sy aandele onder Engelse rugbyondersteuners is nie vreeslik hoog nie.

Engeland vry blykbaar nou al geruime tyd na Erasmus. Dié belangstelling word aangevuur deur die Springbokke se oortuigende oorwinning oor Jones se Rose verlede jaar – en nadat hulle agtergekom het dat Erasmus se kontrak reeds volgende jaar eindig.

Voorts was daar nog geen aanduiding vanuit die Engelse Rugbyunie se hoofkwartier by Twickenham dat hulle haastig is om Jones se kontrak – wat soos Erasmus s’n volgende jaar eindig – tot ná 2023 se Wêreldbeker te verleng nie.

Dit is vreemd dat Erasmus se kontrak nie saam met dié van Nienaber heronderhandel en verleng is nie.

Die grootbek-Australiër se aandele onder Engelse rugbyondersteuners is op die oomblik nie vreeslik hoog nie, veral nadat hy twee weke gelede gespog het dat sy span die Franse Hane met “absolute brute krag” gaan vermorsel – net om 24-17 te verloor, ’n telling wat boonop die Engelse gevlei het.

Die Engelse Rugbyunie sal waarskynlik verdere gerusstelling daaruit put dat dit Erasmus net 18 maande geneem het om die Bokke tot Wêreldkampioene te brei. Hulle is dus nie onder veel druk om Jones se kontrak nou te verleng nie, al was daar gesprekke dat hy sou aanbly tot die volgende Wêreldbeker.

Goeie werk! Erasmus met die Wêreldbeker.

Erasmus het wel amptelik ná die Wêreldbeker as die Bokke se hoofafrigter uitgetree, maar as direkteur van rugby sou hy steeds 98% van sy tyd aan Springbokrugby bestee. Hy bly dus ’n uiters belangrike rat in die Bokke se afrigtingsmasjien.

Boonop het Jacques Nienaber, die man wat by hom oorgeneem het as Bokafrigter, geen vorige ondervinding as hoofafrigter nie. Hy en Erasmus kom egter al vir baie jare lank saam en die verwagting onder plaaslike rugbyliefhebbers is dat die Dawid-en-Jonatan-kombinasie nog lank ’n doring in teenstanders se vlees sal bly. Daarom is dit so vreemd dat Erasmus se kontrak nie saam met dié van Nienaber heronderhandel en verleng is nie. Nienaber se kontrak verstryk eers in 2023.

In rugbykringe word natuurlik ook gevrees dat Erasmus vir Nienaber saam met hom sal weglok Engeland toe. ’n Bron met kennis van die situasie sê egter Nienaber se kontrak het geen vrystellingsklousule nie en hy sal dus sukkel om hom daaruit los te wikkel om sy vriend en mentor na Twickenham te volg.

SA Rugby het teen Saterdagaand nog nie gereageer op versoeke om kommentaar nie.

Meer oor:  Rassie Erasmus  |  Eddie Jones  |  Jacques Nienaber  |  Springbokke  |  Afrigter  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.