Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Engele versorg diere weer dié Kerstyd
Die gemeenskap in Deben staan en wag dat die kenners van Kalahari Heart hul troeteldiere ondersoek.

Met Kersfees en Nuwejaar om die draai, verwag die onbesonge helde wat reeds daagliks mishandelde en verwerpte troetel- en ander diere in sentraal-Suid-Afrika red, dat hulle nog besiger gaan wees.

Hulle werk in dorpe waar die Dierebeskermingsvereniging (DBV) nie teenwoordig is nie.

Die diere-engele gee hul tyd, gebruik hul eie geld of steun op skenkings om kos en brandstof te koop, hokke en kampe in stand te hou en veearts- en munisipale rekeninge te betaal.

Piet du Toit, oudtreindrywer, het onlangs ná sy aftrede by Adele Jonck se span by die De Aar-diereskuiling op die skougronde ingeval. Hy is klaar besig om ’n dossier van dieremishandeling saam te stel nadat hy ’n hond gered het waarvan die eienaar nooit haar ketting afgehaal het nie en dit in haar nekvel ingegroei het.

“Die eienaar het laat weet ons moet die teef kom vat of van kant maak, want sy word nie vet nie. Hoe kan die dier vet word as ’n ketting in haar nek en keel insny?” vra hy. Volgens hom het die hond twee bakke kos opgevreet nadat hy die halsband afgehaal en die wonde ontsmet het.

Piet is ook die nutsman. “Ek het reeds die heiningdraad herstel sodat die perde nie kan wegraak nie. Van die infrastruktuur is gesteel. As ek nie nou ingespring het nie, sou dit seker ook weggedra word. Ons benodig dringend boumateriaal om die hokke op te knap en kampe te skep en te vergroot.”

Jonck, wat die skuiling bestuur, werk voltyds. “Ek gaan middagete uit om mishandelde diere te gaan haal en na ons hokke of die veearts te bring. Die polisie staan my baie keer by om die honde uit haglike omstandighede te red. Ons ry tot sover soos Hanover, Philipstown en Britstown.”

Geld is skaars, maar hulle oorleef hoofsaaklik van die huurinkomste van ’n huis op die perseel. “Dit dek net-net ons uitgawes. Gelukkig vir Rina Edwards wat koeke bak en verkoop, asook geskenkte breekware en klere om die veearts te betaal. Die inperkingstyd het egter ons inkomste geknou.”

Anna Nel hou van die katte by die Kuruman-dieresorgvereniging vas. Sy werk soggens hier.

Volgens haar kom die staatsveearts baie min De Aar toe om troeteldiere te steriliseer. Haar pleidooie vir grootskaalse sterilisasie, wat die lyding sal verminder, het nog geen gehoor gevind nie.

Verder wes, in Kuruman, werk Antoinette van den Heever saam met Anna Nel en Taury Mapfumo by die Kuruman-dieresorgvereniging om hul nuwe terrein koel vir die diere te hou en die nuutgeboude gebou in te rig. Die mure en ingang is met geskenkte verf opgehelder.

“Ons vorige terrein het baie koeltebome gehad, anders as hier. Ons gebruik waterspreiers om die hokke te verkoel. Ons benodig ook dringend besproeiingstoerusting en gras om die kampe geriefliker te maak.”

Benewens honde het hulle ’n koei en haar kalf op die terrein wat vermoedelik gesteel is en deur ’n afslaer na hulle gebring is. Beseerde voëls en katte word deur twee vrywilligers elders versorg.

Izandri Jansen van Vuuren en haar ma, Marietjie Jansen van Vuuren, van die Kathu-dieresorgvereniging, gebruik meestal hul eie geld om diere in die Kathu-omgewing te help.

“Ek en my ma werk voltyds en boer op ’n plaas waar ons gerehabiliteerde perde en donkies aanhou. Ons hou geen diere in hokke aan nie, maar voer diere in die omgewing waar hulle is. Ek skat ons gee tussen 50 en 60 honde in die dorp en buurte, en sowat 100 katte by die ou Kai Appel- munisipale oord en 20 katte in die dorp kos.”

Hulle koop elke drie maande sowat R7 000 se hondekos en R11 000 se katkos.

Beseerde diere word na die Kuruman-dieresorgvereniging of ander dieresorgplekke oor die land heen gestuur. “Gelukkig het een van die omgewing se myne ’n voertuig aan ons geskenk om mee rond te ry. Ons betaal maandeliks ons rekeninge by die private en staatsveearts af.”

Linda Visser van Kalahari Heart bekyk van die troeteldiere wat die Deben-gemeenskap tydens ’n uitreik-aksie gebring het.

In Deben staan Linda Visser en Crystal Lezar van Kalahari Heart gereed om beseerde perde, donkies, honde, hoenders, hase en enigiets anders wat hulp benodig, by te staan.

Volgens Linda het die munisipale skut vervalle geraak. Selfs die polisie bring gereeld beseerde diere by hulle aan.

“Ons het veral gedurende die inperkingstyd ’n plaaslike dieretuin geword waarheen kinders gebring is om oor dieresorg en behandeling te leer.

“Ons verkies om natuurlike medisyne te gebruik omdat ons so afgeleë is en dit moeilik is om groot diere na ’n veearts te bring.”

Crystal sê hul familielede en vriende is ook aktief betrokke. Hulle verdien ’n inkomste deur stalletjies by hul gereelde straatmark te verhuur en Linda se handgemaakte kalenders en strokiesprente waarin die diere rolle vertolk, te verkoop.

Louise van Schalkwyk van Upington werk vrou-alleen.

“Die DBV in Johannesburg betaal my R2 000 per maand vir brandstof om inspeksies te doen en verslae te skryf, maar ek ry daagliks sowat 40 km.”

Haar kinders kla dat hulle haar nooit kan besoek, of sy vir hulle nie. Sy sê sy kan nie die 35 honde by haar eie hokke alleen laat nie. Wat nog te sê van die bykans 100 katte by Die Eiland-vakansieoord wat sy voer.

“My kinders stuur geld sodat ek kos en medisyne kan koop, terwyl ander mense geld skenk.”

Op 77 jaar oud is sy moedeloos. “Ek sien hoe wreed mense teenoor diere is.”

Die besonderhede vir aannemings en skenkings is:

Taury Mapfumo sit saam met Mercy in een van die speelkampe by die Kuruman-dieresorgvereniging waar die diere daagliks kan speel.

Kuruman-dieresorgvereniging: Antoinette van den Heever by kalaharikreef@gmail.com

De Aar-diereskuiling: Rina Edwards by rinaedwards01@gmail.com

Kathu-dieresorgvereniging: Izandra Jansen van Vuuren by 083 336 9422

Kalahari Heart: Linda Visser by lindaleevisser@gmail.com

Louise van Schalkwyk: Honde- of katkos kan afgelewer word by die veearts se kantoor by Ribbok-straat 9, Upington.

Crystal Lezar van Kalahari Heart bekyk iemand se hondjie in Deben om te bepaal hoe gesond hy is en of hy medisyne nodig het.
Antoinette van den Heever van die Kuruman-dieresorgvereniging by haar eie hond, Queenie.
Die hardwerkende personeel van die De Aar-diereskuiling is voor van links Janine Masala en Adele Jonck, en agter van links Lauretta Stolk en Surani Henning.
Piet du Toit van die De Aar-diereskuiling met sy eie hond, Bella.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.