Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Engelrokkies gaan van krag tot krag

Wat aanvanklik ’n guns sou wees vir een vrou, het ’n internasionale organisasie geword wat ouers help wat babas verloor het.

Sedert 2017 het die Angel Gown (The Angel Gown Initiative) van krag tot krag gegaan en is onlangs vir ’n gesogte prys benoem.

Een van die trourokke wat geskenk is. Foto: Verskaf

Eric Elronde, ’n modeontwerper van Gordonsbaai, het as ’n guns ’n vriendin wat as ’n suster by die Vredendal-hospitaal gewerk het, engelrokkies van haar trourok gemaak. Dit was ook by dié hospitaal waar hy die eerste engelrokkie oorhandig het.

Angel Gown is onlangs benoem vir die African Business Excellence Awards vir 2021. In Mei vanjaar is Angel Gown® ook as handelsnaam geregistreer.

Elronde sê ’n nieregeringsorganisasie het nog nooit die kategorie gewen nie en hy hoop Angel Gown® gaan dié patroon verbreek.

Hierdie engelrokkies is van die geskenkte trourok (boonste foto) gemaak. Foto: Verskaf

“Ek is baie trots! Die feit dat ons benoem is, wys dat ons internasionaal raakgesien word, en dit gee erkenning vir die werk wat ons doen en die impak wat ons op bedroefde ouers het,” sê hy.

Die engelrokkies is daar vir babas wat nooit na hul aardse huis kan gaan nie.

Elronde het in 2018 aan Netwerk24 gesê sy eerste behoefte was om ouers te help wat babas by geboorte aan die dood moes afstaan.

Tans verskaf hulle rokkies in sewe van die nege provinsies en drie hospitale in Namibië. Dit het hulle amptelik die status van internasionale organisasie gegee.

Elronde sê die realiteit is dat daar nog baie hospitale is met wie hulle nog nie saamwerk nie.

Die rokkies word mooi verpak met ’n persoonlike boodskap aan die ouers wat ’n baba verloor het. Foto: Verskaf

“Alle vroue gaan ook nie na hospitale vir die kraam nie. Gevolglik praat ons nou met geselekteerde begrafnisondernemers om te kyk hoe ons kan saamwerk om by die ouers uit te kom.”

Hulle is ook genooi om deel te wees van die Amerikaanse organisasie Angel Gown Neighborhood wat internasionaal werk om alle organisasies wat engelrokkies maak, saam te bring. Angel Gown® is die enigste organisasie wat Suid-Afrika verteenwoordig.

Elronde sê daar is baie mense van oor die land heen wat by sy maatskappy aansluit omdat die infrastruktuur reeds bestaan en dit makliker is as om ’n nuwe maatskappy te begin.

In April het Elronde vir Michelle Groenewald van Gauteng as sakebestuurder aangestel om hom te help omdat die maatskappy te groot geword het om alleen te bestuur.

Elronde sê Angel Gown® is vir hom en sy man soos ’n kind.

“Ons is trots op Angel Gown® en ek kan met ’n geruste hart gaan slaap met die wete dat wanneer ek nie meer hier is nie, Angel Gown® steeds sal aanhou om bedroefde ouers te help.”

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Wes-Kaap  |  Gordonsbaai  |  Kaapstad  |  Babas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.