Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Enkele dae ná swartmamba pik, is hy uit hospitaal
Die bytmerke op Andries Burger se hand nadat ’n swartmamba sy tande die afgelope naweek in hom geslaan het.Foto: Verskaf

Minder as drie dae nadat hy deur ’n swartmamba gepik is, is hy uit die hospitaal ontslaan en mik Andries Burger van Mbombela terug werk toe.

“Ek het aanvanklik toe ek in die hospitaal in skok gegaan het, gedink die einde is hier. Ek het gevoel ek is nou net op een pad,” sê Burger, ’n gewapendereaksiebeampte, nadat ’n swartmamba hom Saterdagaand gepik het.

Hy het omstreeks 18:00 by die huis aangekom ná ’n dag se werk en die erf se hek oopgemaak.

“Die hek het oopgegaan en ek laat val toe my sleutel langs ’n stapel bakstene. Ek het die hek met my regterhand vasgehou en nie mooi gekyk waar my linkerhand gaan om die sleutel op te tel nie.”

Toe hy weer sien, is daar ’n slang.

Andries Burger sterk in die hospitaal aan nadat ’n swartmamba hom die naweek gepik het. Foto: Verskaf

Hy kyk weer en besef daar is bloed op sy hand en dit brand.

“Ek besef die slang het my gepik. My foon was pap. Ek kon nie bel nie.”

Hy besluit toe om na sy buurman te strompel wat sowat 100 m van hom af in Rocky Drift bly.

“Ek het twee keer gevoel of ek gaan flou val terwyl ek soontoe stap en my arm het toe soos ’n kool vuur begin brand.”

Die buurman het besef dit gaan te lank duur voordat die ambulans kom. Hy bind toe ’n belt om Burger se arm, laai hom in sy bakkie en neem hom na die naaste hospitaal.

“Op pad soontoe het ek net al hoe slegter begin voel. Teen die tyd dat ons by die hospitaal gekom het, kon ek nie uit die bakkie klim nie.”

Andries Burger in sy werkklere. Wanneer hy aan diens is by Divergent Ops in Mbombela, staan hy as “Smoke” bekend. Foto: Verskaf

Burger sê hy is toe met ’n gesukkel uit die bakkie na die hospitaal se noodeenheid.

“Ek het gedink dis te laat. Ek het my bewussyn verloor. Ek het gesukkel om asem te haal en die onderkant van my oë het swart geword. Ek het naderhand in skok gegaan. Dit was soos ’n epileptiese aanval.”

’n Plaaslike slangkenner, Chris Hobkirk, is ontbied. Hy het ook die nodige teengif vir ’n swartmamba se gif gehad.

Burger sê hy is 100 ml se teengif toegedien en is Maandag uit die hospitaal ontslaan.

“Ek is baie dankbaar ek het dit gemaak. God is goed vir ons.”

Hy voel nou weer klopdisselboom en gaan Donderdag weer aanmeld vir werk.

“ ’n Ou vat emosioneel maar ’n knock met so ’n ding, maar ek is nou weer reg en gereed om te begin werk.

Slangkenner gee raad oor slangbyte

Arno Naudé, slangkenner van Snake Bite Assist, sê ’n mens oorleef nie sommer ’n swartmamba se byt as jy die teenmiddel nie betyds kry nie.

Naudé sê hy het gehoor van Burger se geval en het op Facebook oor dié voorval geskryf: “Sommige dae is jy gelukkig.”

Naudé sê ’n mens moet dié raad volg om nie deur ’n slang gepik te word nie:

* As jy ’n slang in jou tent, chalet of huis teëkom, moet hom nie konfronteer nie. Moet hom nie probeer vang of doodmaak nie. Los hom.

* Kontak ’n plaaslike slangkenner om die slang te verwyder.

* Voordat jy ’n gebied besoek waar slange voorkom, vind uit watter hospitaal teengif hê en bêre die hospitaal se kontakbesonderhede.

Hoe gemaak as ’n slang ’n mens pik?

* Hou die persoon wat gepik is, kalm.

* Sit ’n verband om die arm of been van die gepikte persoon (slange pik gewoonlik op die hand of voet). Dit sal help dat die gif stadiger versprei.

* Hou die persoon stil. Moet die persoon nie na ’n motor laat stap nie.

* Ry solank met die persoon na die naaste hospitaal wat teengif het en bel op pad soontoe die ambulans en laat weet watter pad jy ry en in watter motor.

* Probeer sonder risiko ’n foto van die slang neem, al is dit net ’n klein deeltjie van die slang. Moenie die slang vang of doodmaak en saamneem nie.

Meer oor:  Mbombela  |  Swartmamba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.