Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Enock roerend gegroet, familie vra geregtigheid
Enock Mpianzi

’n Enkele traan het afgeloop teen die wang van Enock Mpianzi se ma terwyl ’n boodskap vir haar 13-jarige seun op sy begrafnisdiens voorgelees is.

Mpianzi se begrafnis is Saterdag by Kensington Secondary School in Johannesburg gehou.

“Jy het my 13 jaar lank vreugde besorg, maar jy het nie gegroet nie,” het Anto Mpianzi in haar boodskap aan haar seun gesê.

Anto se ander seun, Yves Kadilo, het die brief voorgelees.

“Ek weet nie wat om te doen nie, maar ek soek geregtigheid van God asook van mense. Ek is lief vir jou en sal altyd wees.”

Die tiener het verlede maand verdrink tydens ’n skoolkamp by die Nyanti-boskamp naby Brits in Noordwes. Hy was ’n gr. 8-leerling aan die Parktown Boys’ High School in Johannesburg.

Vraag na geregtigheid

Die laaste keer toe Mpianzi gesien is, het die vlot waarop hy en ander seuns op die Krokodilrivier gery het, omgeslaan. Dit was enkele ure nadat die groep seuns vir die oriënteringskamp opgedaag het.

Sy lyk is twee dae later gevind; ’n dag nadat ’n uitgebreide soektog na Mpianzi begin het.

Sy broers het op die begrafnis weer gevra dat geregtigheid moet geskied en dat diegene wat aanspreeklik was vir sy dood, aan die pen moet ry.

Die familie is nog in skok en kwaad dat hy kon doodgaan terwyl hy in die sorg van personeellede was.

“Ons het nie ’n speletjie met sy lewe gespeel deur hom skool toe te stuur nie,” het Kadilo tydens ’n eerbetoning aan sy broer gesê.

Faith Mazibuko, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Gauteng, het die begrafnis bygewoon en die roubeklaers toegespreek.

Sy het beloof die familie sal ’n volledige verslag ontvang ná ’n ondersoek na Mpianzi se dood. Sy het bygevoeg dat die aanbevelings van die verslag “sonder twyfel uitgevoer sal word”.

Die departement van opvoeding is ook besig om sy beleid rakende leerlinge se veiligheid te hersien.

’n Ondersoek is tans aan die gang oor Mpianzi se dood. ’n Voorlopige verslag deur die departement het bevind die oriënteringskamp van die skool se gr. 8-leerlinge is nie deur die distriks- of hoofkantoor goedgekeur nie.

Voorlopige bevindinge

Die voorlopige bevindinge kom soos wat ’n onafhanklike regsfirma, Harris Nupen Molebatsi, die omstandighede rondom die voorval ondersoek.

Die ondersoek sal na verwagting fokus op die skool, sy beheerliggaam en die departement van onderwys se onderskeie rolle.

Die finale verslag sal openbaar gemaak word.

Mpianzi se familie het hom tydens die roudiens beskryf as ’n nederige en gehoorsame seun met baie drome vir sy toekoms.

“Hy was ’n merkwaardige kind. Selfs met sy dood, laat hy ’n merk,” sê Guy Itamba, Mpianzi se pa.

Hulle het onthou hoe opgewonde hy was die aand voor die kamp sou begin. Hy het vir sy ma gesê hy kon nie slaap nie weens opwinding.

Die tiener is ook Dinsdag tydens ’n spesiale gedenkdiens by die Parktown Boys’ High School vereer.

Daar het Mpianzi se broer, Shadrack Intamba, roubeklaers gevra om te “onthou jou buurman is jou verantwoordelikheid; jou buurman se kind is ook jou verantwoordelikheid.”

Malcolm Williams, skoolhoof, is intussen geskors hangende die afhandeling van die ondersoek na die voorval.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het tydens die gedenkdiens gesê Parktown bly een van die provinsie se topskole, maar dat “moeilike besluite” geneem sal moet word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.