Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Erfgename ly glo oor ‘gemors’ by meester

Nie net is sy nou ’n weduwee nie, sy is gestrand gelaat weens die “voortslepende gemors” waarin die meesterskantore en nou ook die Staatskoerant verkeer.

Hilda van Wyk (78) se verdriet ná haar man se dood op 8 Januarie word vererger weens die rompslomp om sy boedel af te handel.

“Kan iemand nie net help nie? Ek kan nie so op my eie aangaan sonder enigiets nie,” sê Van Wyk moedeloos.

Sedert haar man, Hendrik (81), se afsterwe, moet Van Wyk sonder sy inkomste oor die weg kom. Sy is ook sonder medies en pensioen tot tyd en wyl sy boedel afgehandel kan word.

Hendrik se boedel moet deur Absa Trust geadministreer word. Weens die krisis waarin die meesterskantoor hom bevind, is dit moeilik vir Absa Trust om kliënte by te staan, sê Bongani Mageba, bestuursamptenaar van finansiële dienste (nie-bankwese).

“Die situasie het vererger deur ’n beduidende toename in die aantal nuwe boedels wat sedert 2020 aangemeld is,” sê Mageba.

Kan iemand nie net help nie? Ek kan nie so op my eie aangaan sonder enigiets nie.

Intussen funksioneer die Staatskoerant weens “tegniese probleme” al meer as ’n maand nie meer nie.

Sihle Ngubane, waarnemende bedryf-en-produksiebestuurder van die Staatsdrukker, het in twee skrywes aangekondig wetlike kennisgewings kan nie gepubliseer word nie.

Waar presies die probleem lê, is nie duidelik nie.

Personeel het Maandag aan Netwerk24 gesê die internet en telefoonlyne is reeds die afgelope drie weke af.

Ngubane het in ’n brief, gedateer 3 Februarie, aangedui die tegniese probleme is uit die weg geruim en dat die “koerant van 5 Februarie teen 12 Februarie op die webblad gelaai sal word”. Dié brief was die eerste teken dat daar probleme is, sê verskeie prokureurs met wie Netwerk24 gepraat het.

Weens die grootte en formaat van die tenderblaaie, padvervoerpermitte en wetlike kennisgewings kon dié nog nie gepubliseer word nie. Dit is ook nie moontlik om te sê wanneer ons dit weer sal kan publiseer nie.

Op 24 Februarie skryf Ngubane dat die tegniese probleme van vroeër nog nie opgelos is nie.

“Deur per hand te werk kon ons daarin slaag om die buitengewone Staatskoerante, asook die provinsiale en nasionale regulasies, te verwerk.

“Weens die grootte en formaat van die tenderblaaie, padvervoerpermitte en wetlike kennisgewings kon dié nog nie gepubliseer word nie. Dit is ook nie moontlik om te sê wanneer ons dit weer sal kan publiseer nie,” lui die skrywe van Ngubane.

Dié kennisgewings het ’n kolossale impak, nie net op die afhandeling van boedels nie, maar ook op die dag-tot-dag-werk van alle prokureurs, sê Anton Theron van die Pretoria-prokureursvereniging, ’n vrywillige organisasie wat nou met die meesterskantore in veral Pretoria en Johannesburg saamwerk.

Wanneer ’n eksekuteur aangestel is, moet twee kennisgewings eers in die Staatskoerant geplaas word. Daarsonder kan die boedel nie afgehandel word nie.

Theron, ook ’n ervare prokureur wat boedels en trusts betref, sê dit wat by die meesterskantore gebeur, is niks nuuts nie.

Volgens hom sukkel die meesterskantore onder meer om behoorlik te kommunikeer en dis baie nog papier-georiënteerd.

Die ontvouende krisis by die Staatskoerant beteken ’n bykomende klip in die pad wat veral erfgename uitgelewer laat.

“Dit is nie net die administrasieproses wat vertraag word nie; koste hoop ook op,” sê Theron.

Steve Mahlangu, woordvoerder van die departement van justisie en korrektiewe dienste, het Woensdag by navraag ontken dat tegniese probleme by enige meesterskantore ervaar word.

“Daar is geen meesterskantoor wat worstel met verouderde tegnologie nie,” sê Mahlangu.

Dit is nie net die administrasieproses wat vertraag word nie; koste hoop ook op.

Personeel by die kantore werk nou ook op ’n rotasiegrondslag, sowel as van die huis af, om seker te maak alle werk word afgehandel, aldus Mahlangu.

Theron meen wel daar is probleme wat aandag moet geniet en dit is vir hom ’n riem onder die hart dat daar al samesprekings gehou is. Die volgende vergadering word vir later in die maand beplan.

“Ons is toegewyd om ’n oplossing te vind en ons samewerking te gee, nie net vir ons en ons lede se onthalwe nie, maar ook vir die publiek,” sê Theron.


Meer oor:  Staatskoerant  |  Meesterskantore
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.