Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Erg om te sien, sê pianis nadat pa aan Covid-19 sterf
Elton en Lucie se sewe maande oue babadogtertjie, Victoria. Foto: Verskaf

“Die een oomblik was my pa nog daar en die volgende was hy weg.”

So sê die Suid-Afrikaanse pianis Elton Lodewyk (38) wie se pa, Willem (72), op 11 Januarie langs hom in die hospitaal aan Covid-19 dood is.

Lodewyk is Woensdag uit die hospitaal in Stellenbosch ontslaan nadat hy geruime tyd op ’n ventilator en ander masjiene was.

Hy en al drie sy broers het die virus gekry nadat hulle vermoedelik by hul pa aangesteek het.

Lodewyk het verlede jaar spesiaal uit Tsjeggië gekom om sy siek ma, Anne (68), by te staan. Die dokter het bevestig dat sy ’n ligte beroerte gehad het en die week ná Kersfees het sy pa sieklik siek geword en moes hy hospitaal toe geneem word.

Sy pa is positief vir die virus getoets en dadelik opgeneem en kort daarna is Lodewyk ook positief getoets.

Volgens hom was dit baie swaar om te sien hoe sy pa in die hospitaalbed langs hom ly.

“Dit was nie hoe ek hom geken het nie. Hy kon nie eet of praat nie. Wanneer ’n mens hom iets gevra het, het hy net gemompel. Hy was ook baie deurmekaar.”

Volgens Lodewyk kon hy self by tye nie praat nie omdat hy in geweldige pyn was.

“Die laaste gesprek wat ek met my pa gehad het, was om te vra of hy ’n glas sap wou hê. Hy het ‘ja’ gemompel. “Ek het gesien dat hy nie lekker kon sluk nie en toe ’n strooitjie gaan haal. Toe ek terugkom in die kamer was my pa so deurmekaar dat hy in my hospitaalbed geklim en per ongeluk die bed natgemaak het.

Elton Lodewyk saam met sy vrou, Lucie, in Praag. Foto: Verskaf

“Hy was net nie homself nie en dit was nie lekker om hom so te sien nie,” het Lodewyk Donderdag hoesende uit sy bed by die huis aan Netwerk24 gesê.

“Ek kan onthou die verpleegsters het na my toe gekom om my te was. Ek het na my pa gekyk en hy het net daar gelê. Ek vermoed hy was toe reeds dood. ’n Uur voor dit het ek nog vir hom gevra of hy orraait is en al wat hy kon doen, was om ‘ja’ te mompel.”

Lodewyk sê sy pa is omstreeks 06:00 daardie dag dood.

“Ek is nog nie 100% nie, maar kan by die huis aansterk. Ek hoes nog baie en het nog baie slym op my bors. Ek is ook kortasem, maar ek is verlig om by die huis te wees.”

Hy sê sy ma en broers sterk goed aan.

“Hierdie virus is iets wat ek nooit enigiemand sal toewens nie. Dit wat ek beleef het, is iets anders. Om daagliks mense rondom jou te sien doodgaan, is baie traumaties. Jy sien hoe mense verdwyn. Soos hulle ingebring word, so word hulle weer uitgeneem. Dis regtig erg.”

Volgens hom is dit nie duidelik waar sy pa die virus opgedoen het nie.

Sy pa is Maandag in Stellenbosch ter ruste gelê, maar hy kon nie die diens bywoon nie.

“Ek kon ongelukkig nie my pa se begrafnis bywoon nie en dit is baie hartseer. Ek gaan my pa baie mis. Hy het nooit gekla nie. Hy was ’n rustige mens met ’n goeie hart en hy het altyd mense uitgehelp. Ek gaan hom voorwaar mis. Die familie het ’n reus verloor.”

Lodewyk woon die afgelope ses jaar saam met sy vrou, Lucie, in Praag en hulle het ’n sewe maande oue baba, Victoria.

Hy was in 2005 een van die vyf finaliste in Die Burger-Vodacom-Plusster-kompetisie op kykNET.

Volgens hom wil hy net eers goed herstel voordat hy terugkeer Praag toe.

Elton, Lucie en Victoria. Foto: Verskaf

Meer oor:  Pianis  |  Pa  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.