Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Esidimeni-families wil DA dagvaar oor reklamebord

Families van die Life Esidimeni-slagoffers oorweeg regstappe teen die DA weens sy nuwe buitelug-reklamebord in die Johannesburgse middestad.

Op die reklamebord waarop ’n bebloede vuis en die woorde “Die ANC moor ons” pryk, is die name van onder andere die minstens 144 psigiatriese pasiënte wat in die Esidimeni-tragedie gesterf het.

Die DA het Dinsdag ’n nuwe boodskap op sy gevandaliseerde reklamebord in die Johannesburgse middestad geplak. Die boodskap lui dat die ANC nie omgee vir Suid-Afrikaners nie. Foto: Twitter/@Our_DA

Christine Nxumalo, wie se suster in die tragedie dood is, sê die families is nog in gesprek met hul regsverteenwoordigers oor moontlike regstappe.

Die burgerregtegroep Section27, wat families van die gestorwe pasiënte in die bemiddelingsverhoor verteenwoordig het, het kommer oor die omstrede reklamebord uitgespreek.

Ngqabutho Mpofu, Section27-woordvoerder, sê families is kwaad dat die DA die lyding en hartseer van arm gesinne en die oorledenes vir politieke gewin gebruik.

Solly Malatsi, nasionale DA-woordvoerder, sê die party is nie bewus van moontlike regstappe nie. Hy wou nie sê of die party die families verskoning gevra het nie.

Die DA sê hy gaan nie die reklamebord verwyder nie, hoewel dit Donderdag, ’n dag ná die onthulling daarvan, gevandaliseer is.

Die party het Dinsdag ’n nuwe boodskap oor die gevandaliseerde deel geplak, wat lui: “Die ANC gee nie om vir Suid-Afrikaners nie.”

Solly Msimanga, die DA se premierskandidaat in Gauteng, sê as hy premier word, sal dit die eerste punt op sy sakelys wees om seker te maak dat die families van die oorledenes almal volle vergoeding ontvang.

“Dit is die minste wat gedoen kan word vir die families wat aan die hand van ’n onbesorgde regering verlies gely het,” sê Msimanga.

Hy sê Esidimeni is ’n hoofstuk wat al lankal afgesluit moes gewees het.

“Die DA wil toesien dat geregtigheid geskied en alles moontlik sal gedoen word totdat diegene met bloed op hul hande in die tronk sit. Ons kan nie toelaat dat die ANC met moord op ons mense wegkom nie. Nie onder my toesig nie,” sê Msimanga.

Meer oor:  Section27  |  Da  |  Dagvaar  |  Reklamebord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.