Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Eskom-baas uit kantoor gedra’

Phakamani Hadebe, Eskom se hoof, het vanjaar glo al twee keer ineengestort en is per ambulans van sy kantoor weggery.

Hoewel Eskom dit nie amptelik wou bevestig nie, het ’n betroubare bron binne Eskom aan Rapport gesê Hadebe se senuwees het ooglopend ingegee en hy het al twee keer tevore sy bedanking ingedien, maar is gevra om aan te bly tot ná die verkiesing.

Phakamani Hadebe: Erge eise.

Prof. Anton Eberhard, voorsitter van pres. Cyril Ramaphosa se advieskomitee oor Eskom se volhoubaarheid, het Vrydagaand die skok-bedanking verwelkom en gesê die bestuur moet nou “versterk” word.

Eberhard het ook gesê dit is al sedert verlede maand agter die skerms bekend dat Hadebe op pad uit is.

Hadebe het Vrydag in ’n nuusverklaring gesê: “Dit is geen geheim dat die pos gepaard gaan met ondenkbare eise nie, wat ongelukkig ’n negatiewe uitwerking gehad het op my gesondheid.”

Hadebe se bedanking het die markte geskok omdat dit kom net voordat Eskom sy finansiële state vir goedkeuring aan die direksie moet voorlê.

Eskom het massiewe reddingsboeie van die regering nodig om as ’n lopende saak geklassifiseer te word, maar die regering is oënskynlik traag om polities ongewilde stappe te doen.

Kragreus leierloos en uitgelewer.

Eskom verwag ’n verlies van minstens R20 miljard en kan nie bekostig dat die ouditeure hom nie as ’n lopende saak klassifiseer nie, want Eskom se berg skuld van R500 miljard kan dan opgeroep word.

Tito Mboweni, minister van finansies, het verlede week gesê Eskom moet homself eers help deur miljarde rande agterstallige skuld by munisipaliteite in te samel.

Maar Eskom se pleidooie aan die nasionale regering in die laaste dekade om in te gryp met die wanbetaling van munisipaliteite, het nog weinig opgelewer.

Met dié groter wordende probleme is Eskom in vele opsigte leierloos en uitgelewer.

  • Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, wat Eskom probeer regruk, is onder beleg nadat die Openbare Beskermer Vrydag bevind het hy het onbehoorlik opgetree met die goedkeuring van vroeë aftrede van ’n grootkop by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Sommige opposisiepartye en selfs faksies in die ANC wil hê Rama­phosa moet hom nou uit sy nuwe kabinet skop.

  • Hadebe sal einde Julie sy pos neerlê. Mboweni het vroeër aangekondig dat ’n “hoofherorganiseringsbeampte” aangestel gaan word, maar dit is steeds onduidelik wat dié beampte se werk gaan wees of wie dit sal wees.

Deon Reyneke, adjunksekretaris-generaal van die vakbond Solidariteit, sê Hadebe het op ’n vergadering met vakbonde laat blyk die regering het hom uitgesluit van hul beplanning oor Eskom se ontknoping in drie dele. Hy en sy bestuur was ook gefrustreerd omdat die regering skynbaar nie die erns van die Eskom-krisis behoorlik ter harte neem nie, sê Reyneke.

Bronne in Eskom sê dit het gelyk of Hadebe oorweldig gevoel het deur die omvang van Eskom se probleme. Sy taak is waarskynlik bemoeilik deur die verskeidenheid rolspelers wat ’n sê moet hê.

  • Eskom se direksie, onder leiding van Jabu Mabuza, is reeds gedeeltelik opsygeskuif deur die aanstelling van ’n presidensiële taakspan wat die kragverskaffer se strategie vir die toekoms moes bepaal – iets wat die werk is van enige maatskappy se direksie.

Daar was boonop ’n tegniese taakspan wat aan Gordhan gerapporteer het oor die onderliggende probleme en bedryfsprestasie van Eskom.

Mabuza het Saterdag buite Loftus Vers­feld by die inhuldiging van Ramaphosa gesê sy uitvoerende hoof se bedanking was onverwags “maar verstaanbaar”, berig Jacob Rooi.

“Gelukkig sal ons nog twee maande lank in ’n oorgangstydperk saamwerk. Dit gaan ’n uitdaging wees om hom te vervang.”

  • Khulu Phasiwe, Eskom se woordvoerder wat sy erg brose openbare reputasie moes bestuur, het einde April bedank weens werkdruk.
Meer oor:  Phakamani Hadebe  |  Eskom  |  Bedanking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.