Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Eskom kry interdik, maar beurtkrag dalk ons voorland

Eskom het Donderdagaand met fase 1-beurtkrag begin weens die arbeidsoptrede by sy kragstasies.

Betogers soos R.J. Janse van Rensburg is glad nie gediend met Eskom se standpunt oor salarisverhogings nie. Foto: Deaan Vivier

Die beurtkrag het sowat twee uur lank tot omstreeks 20:00 geduur, maar dit kan die volgende paar dae Suid-Afrikaners se voorland bly.

Volgens Eskom kan hy weens “intimidasie en sabotasie” nie waarborg dat hy deurlopend elektrisiteit sal kan verskaf nie.

Hy vra verbruikers om krag te bespaar om beurtkrag teen te werk.

Fase 1 beteken volgens Eskom se webwerf hy moet 1 000 MW krag bespaar deur sekere gebiede se kragtoevoer beurtelings af te skakel.

Dit blyk dat die nasionale kragtoevoer ook Vrydag onder erge druk gaan wees, sê Dikatso Mothae, adjunkwoordvoerder van Eskom. Munisipaliteite besluit self hoe beurtkrag toegepas word en daarom het sommige vlak-2 beurtkrag ingestel. Kragonderbrekings kan dan langer aanhou en gereelder gebeur.

Ondanks betogers se kille ontvangs het Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, onderneem om onderhandelinge oor salarisverhogings te hervat. Foto: Deaan Vivier

Werkers het Woensdag met ontwrigtende optrede begin omdat Eskom nie vanjaar ’n loonverhoging wil toestaan nie.

Vakbonde het Eskom Donderdag sewe dae gegee om die skaakmat-situasie oor loonverhogings op te los, anders gaan hulle met ’n volskaalse staking begin.

Dit is ondanks die dringende hofbevel wat Eskom gister gekry het om werkers van ontwrigtende optrede te weerhou.

Die arbeidsoptrede en beurtkrag is nie die enigste slegte nuus vir verbruikers nie.

Die nasionale energiereguleerder (Nersa) het bekend gemaak dat hy Eskom die reg gee om die sowat R32 miljard te verhaal wat hy in die vorige drie boekjare te min as inkomste ingekry het.

Dit kan ’n verdere prysverhoging later vanjaar afgee.

Nersa het vroeër beslis Eskom is net geregtig op ’n tariefverhoging van 5,23% vir dié boekjaar.

Nomfundo Maseti, reguleerder van Nersa, het Donderdag gesê hulle sal nou eers ’n plan opstel oor hoe die R32 miljard van kragverbruikers verhaal sal word.

Dit sal in September bekend gemaak word.

Intussen het die oproer buite Eskom-geriewe Donderdag voortgeduur.

Eskom sê in ’n verklaring steenkoolaflewering by minstens ses van sy kragstasies is weer ontwrig.

'n Betoger. Foto: Deaan Vivier

Alle steenkoolaflewerings per vragmotor is nou gestaak en net treine word gebruik.

Khulu Phasiwe, Eskom-woordvoerder, sê die kragtoevoer na Megawatt Park in Johannesburg, Eskom se hoofkantoor, was gister in ’n stadium “onverklaarbaar afgesny”.

Sowat 30 busse vol betogers het daar opgedaag en ’n griefskrif is aan Phakamani Hadebe, Eskom se uitvoerende hoof, oorhandig. Hy is luidkeels uitgejou.

Hadebe sê Eskom is bereid om gesprekke met die werkers te hervat.

Luidens die griefskrif het Eskom sewe dae om werk van die vakbonde se eise te maak.

Solidariteit eis ’n verhoging van 9,5%, terwyl die NUM en Numsa verhogings van 15% eis.

Al drie dié vakbonde het loondispute by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie verklaar. 

Phakamile Hlubi-Majola, Numsa-woordvoerder, het gistermiddag bevestig dié vakbond sal nie op die arbitrasieproses wag nie, maar gee Eskom ’n week voordat sy lede voluit begin staak.

Cosatu sê in ’n verklaring Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het beloof hy sal seker maak Eskom keer na die onderhandelingstafel terug met ’n aanbod van meer as 0%.

Betogers. Foto: Deaan Vivier

’n Betoger van Numsa het buite Megawatt Park om verskoning gevra vir die ongerief wat hul optrede vir Suid-Afrikaners kan inhou.

“Ons is jammer daaroor. Daar is nog kragstasies wat werk, maar as dit so aangaan, sal julle die kerse, komberse en kragopwekkers gereed moet kry,” sê hy.

’n Ander Numsa-lid het aan lede van Solidariteit gesê hy skuld hulle ’n verskoning omdat Numsa-lede nie gedink het hulle sal by die arbeidsoptrede betrokke raak nie.

“Soos hulle sê: ’n Boer maak ’n plan en hulle het groot boots, so hulle kan Eskom m**r toe skop.”

– Francois Williams, Christiaan du Plessis en Simon Sonnekus 

Meer oor:  Eskom  |  Numsa  |  Beurtkrag  |  Betogers  |  Kragstasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.