Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Eskom lê beslag op munisipaliteit se bates

Daar is gister op kantoortoerusting, meubels en motors van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit in die Vaaldriehoek beslag gelê omdat dié plaaslike owerheid Eskom sowat R2,3 miljard skuld.

Balju’s het Dinsdag ook op voertuie van die verkeersdepartement in Emfuleni beslag gelê na aanleiding van ’n hofbevel wat Eskom bekom het. Foto: Felix Dlangamandla

Sikonathi Mantshantsha, woordvoerder van Eskom, het gister getwiet die kragvoorsiener het reeds in Maart 2016 ’n hofbevel bekom omdat Emfuleni hom toe R615 miljoen in agterstallige betalings vir elektrisiteit geskuld het.

’n Beslagleggingsbevel is op 14 Februarie vanjaar bekom om dié hofbevel uit te voer.

“Hulle lê beslag op roerende eiendom. Ons het ook ’n dagvaarding bekom vir die res van die geld,” het Mantshantsha getwiet.

“Balju’s is nou by drie munisipale kantore.”

Hy het ook video-opnames op Twitter gedeel van voertuie en meubels waarop daar glo beslag gelê is.

Eskom het verlede jaar gedreig om Emfuleni se krag heeltemal af te sny. Vanderbijlpark, Vereeniging, Evaton en Sebokeng val onder dié munisipaliteit.

Emfuleni sou sy skuld afbetaal het met 10% rente per jaar daarop gehef.

Volgens hofstukke wat ingedien is om die beslagleggingsbevel in die hooggeregshof in Pretoria te bekom, het Emfuleni versuim om die volgende ooreengekome betalings in 2018 te maak: R25 miljoen teen 31 Maart; R15 miljoen teen 30 April, 31 Mei en 30 Junie; en R8,6 miljoen teen 30 Julie.

Nog twee onbetaalde paaiemente, R35,8 miljoen en R107,6 miljoen, word ook genoem.

Stanley Gaba, woordvoerder van die munisipaliteit, het gesê die skuld is veroorsaak deur ’n ooreenkoms wat tydens die apartheidsbewind gegeld het wat groot vervaardigers in die Vaaldriehoek toegelaat het om goedkoper, gesubsidieerde elektrisiteit aan te koop.

Kantoormeubels en yskaste gereed om weggery te word. Foto: Felix Dlangamandla
Van die rekenaartoerusting waarop daar beslag gelê is. Foto: Felix Dlangamandla
Werknemers van die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit staan en toekyk hoe kantoormeubels opgelaai en weggery word. Foto: Felix Dlangamandla
Werknemers van die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit staan en toekyk hoe kantoormeubels opgelaai en weggery word. Foto: Felix Dlangamandla

“Hulle het 33 jaar lank laer tariewe betaal vir elektrisiteit ingevolge die sogenaamde 1987-ooreenkoms wat tussen hulle en die Vanderbijlparkse munisipaliteit aangegaan is.

Dié ooreenkoms het hulle toegelaat om aansienlik minder te betaal en was ’n poging om ondernemings hierheen te lok,” sê hy.

R368 miljoen se rente is al deur daardie historiese skuld opgehoop.

“Die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit het in November 2019 ’n skuldafbetalingsplan ingedien, waarop Eskom steeds nie gereageer het nie.

“Die LUR het dringend ’n vergadering aangevra tussen die munisipaliteit en Eskom om ’n blywende oplossing te vind.”

Hy het bygevoeg die munisipaliteit gaan aanhou probeer om Eskom sover te kry om ’n rentevrye afbetalingsooreenkoms te onderteken.

Gaba het gesê die beslaglegging sal ’n negatiewe uitwerking op dienslewering hê, maar niemand se elektrisiteit sal afgeskakel word nie.

Duncan Mthembu, voorsitter van die DA-koukus in Emfuleni, het gesê die beslaglegging skok niemand nie.

“Hierdie munisipaliteit moet onder administrasie geplaas word. Niks werk hier nie. Hulle kan nie eens die mees basiese noodsaaklikhede verskaf nie,” het hy gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.