Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Eskom: ‘Nee dankie, ons kort nie hulp!’

Eskom het nie een van die 480 ervare en kundige mense wat gesê het dat hulle bereid is om die elektrisiteitsreus uit die moeilikheid te help, se aanbod aanvaar nie.

Pravin Gordhan

Onder hulle is 12 projekbestuurders (van wie baie al voorheen Eskom-projekte bestuur het); 101 ingenieurs (van wie talle ook voorheen vir Eskom gewerk het); 98 ambagslui, 67 tegnici en tegnoloë, 11 finansiële bestuurders en sewe kontrakteurs met ervaring van Eskom-kontrakte.

Nadat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, in die parlement gekla het oor die enorme vaardigheidstekort binne Eskom het Solidariteit in Februarie die lys aan Elsie Pule, hoof van mensehulpbronne by Eskom, oorhandig.

Pule het Saterdag by navraag gesê sy kan nie onthou dat enigiemand vir haar só ’n lys gegee het nie.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het Saterdag gesê hulle het die lys persoonlik aan Gordhan tydens ’n vergadering op 19 Februarie gegee en dit weer met hom bespreek in ’n ontmoeting op 11 April. Jan Oberholzer, die bedryfshoof van Eskom, het ook by ’n latere geleentheid ’n afskrif van die lys gekry.

Dis duidelik dat regstellende aksie nog net so lewendig in Eskom is soos vroeër.

Hermann meen dis “by verre die volledigste lys van oud-Eskom-vaardighede wat bestaan”. Hy het Saterdag beklemtoon dat alle mense op die lys aangedui het dat hulle wíl help.

“So, dit is ’n geselekteerde lys van mense wat gewillig is om te help. In ons persoonlike gesprekke het hulle almal aangedui hulle wil graag terugploeg by Eskom. Hulle is nie bitter teenoor Eskom nie weens die ongelooflike ervaring wat hulle opgedoen het.”

Sedertdien het niks gebeur nie en Eskom het nog nie een van die mense op die lys gekontak nie, het Deon Reyneke, adjunkhoofsekretaris van die vakbond, aan Rapport gesê.

Hy glo dat die feit dat die meeste van die mense op die lys wit is, ’n rol speel.

“Dis duidelik dat regstellende aksie nog net so lewendig in Eskom is soos vroeër,” het Reyneke gesê.

Dr. Dirk Hermann

Dit ten spyte daarvan dat Thobile Lamati, direkteur-generaal van arbeid, in Februarie aan Rapport gesê het sy departement het verlede jaar, op versoek van Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, ingestem om die wankelende elektrisiteitsreus se regstellendeaksieplan op te skort. Dit was nadat Eskom se jongste regstellendeaksieplan vereis het dat wit werknemers in die poskategorie vir ingenieurs, tegniese vaardighede en ambagslui met 1 308 mense verminder moet word.

Lamati sê Hadebe het hulle ingelig dat Eskom met herstrukturering besig is en daarom nie aan die regstellendeaksieplan kan voldoen nie.

“Hy het gevra dat die departement van arbeid Eskom uitstel gee met die toepassing van die hele regstellendeaksieplan totdat die herstrukturering afgehandel is. Ons het ingestem,” het Lamati destyds aan Rapport gesê.

In Maart vanjaar nog het Gordhan op ’n vraag van dr. Corné Mulder in die parlement gesê dat Eskom transformasie sien as ’n “strategiese noodsaaklikheid” en dat hulle daarna strewe dat die kragreus se arbeidsmag die demografie van die ekonomies aktiewe bevolking weerspieël.

“In geen stadium het Eskom sy mandaat om op die transformasie-agenda te fokus, gekompromitteer nie,” het Gordhan destyds gesê, en bygevoeg dat dit ook nodig is om kritieke vaardighede “te lok en te behou”.

Matshela Koko

Reyneke sê die vaardigheidstekorte by Eskom is by uitstek in tegniese poste soos ambagslui, tegnici, tegnoloë en ingenieurs in verskillende ingenieursdissiplines. Aan die ander kant is daar hopeloos te veel “sagte” vaardighede soos mensehulpbronbestuurders, finansiële kundiges en ’n duisternis ander ondersteuningsdienste.

Uit die sowat 48 000 mense wat by Eskom werk, is net minder as ’n kwart, 9 639, in poste wat regstreeks met kragopwekking te doen het. Daarvan werk 8 834 by Eskom se 15 kragstasies en 805 in gesentraliseerde ondersteuningsdienste wat spesialisdienste aan verskeie kragstasies lewer.

Reyneke benadruk dat nie alle regstellendeaksie-aanstellings in Eskom onbevoeg is nie. “In sommige van die tegniese poste is daar taamlik goed gekwalifiseerde mense aangestel, maar hulle het geen of min ervaring in hul poste. Onlangs het ’n vrou in só ’n tegniese bestuurspos reguit aan ondergeskiktes gesê sy is in dié pos aangestel omdat sy ’n vrou is, nie oor haar kennis of ervaring nie. Sy het hulle aangesê om haar niks te vra oor hul werk nie – hulle moet liewer die mense rondom haar vra, want hulle weet meer as sy.”

Gordhan het Dinsdag in die debat oor die staatsrede gesê tien van Eskom se 15 kragstasies het nou permanente bestuurders. Toe hy in Februarie ’n negepuntplan aangekondig het om die beurtkragkrisis by Eskom op te los, het net enkele stasies permanente bestuurders gehad. Dis omdat Matshela Koko, voormalige hoof van kragopwekking, tugstappe teen talle van die bestuurders ingestel het wanneer hul eenhede tydens beurtkrag breek. Dikwels was die probleme buite hul beheer.

Een van die kragstasiebestuurders wat destyds uit protes bedank het, Bheki Nxumalo, is verlede maand aangestel as hoof van kragopwekking. Nxumalo was bestuurder van die Matimba-kragstasie, Eskom se mees stabiele sentrale ná Koeberg, en is reeds twee keer aangewys as die kragreus se beste kragstasiebestuurder. Hy kon dit egter nie meer uithou onder Koko nie.

Reyneke sê die vakbond het “baie vertroue” in Nxumalo.

“Hy is uiters bekwaam. Ek bid ook elke aand dat Jan Oberholzer, wat aangestel is as bedryfshoof, toegelaat word om ongehinderd sy werk te doen. Hy is iemand met ’n visie en ’n plan om ons uit hierdie moeilikheid te kry.”

Reyneke het egter gewaarsku daarteen dat politici in Eskom se interne sake betrokke raak en besluite neem oor kwessies waarvan hulle min of geen kennis het nie. “Dinge (by Eskom) het eers regtig begin skeefloop sedert Malusi Gigaba minister geword het en sy neus in Eskom se interne sake begin steek het.

“Gordhan sal baie versigtig moet wees om nie dieselfde fout te maak nie,” sê Reyneke.

Meer oor:  Pravin Gordhan  |  Matshela Koko  |  Dirk Hermann  |  Regstellende Aksie  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.