Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Eskom ondersoek chirurg se dood weens kragdrade
Dr. Oliver Raynham (47).

Eskom ondersoek die omstandighede waarin dr. Oliver Raynham (47) van Kaapstad Donderdag dood is, nadat die mas van die seilboot waarop hy was, aan oorhoofse kragdrade oor die Kleinrivier in Stanford geraak en hy doodgeskok is.

Raynham het glo aan die seilboot, ’n Hobie 16-katamaran, se mas vasgehou toe dit aan ’n kragdraad wat oor die rivier gespan is, geraak het.

Joylene Henn, Wes-Kaapse woordvoerder van Eskom, sê die kragdraad is ’n oorhoofse kraglyn van 11 kV (11 000 Volt) van Eskom, bekend as die Stanford Plase 2-kraglyn. Dit is oor die Kleinrivier gespan.

Die oomblik toe die mas van die Hobie 16 met die kragdraad kontak gemaak het, het dit ’n kortsluiting veroorsaak, sê Henn.

Oliver het diens gedoen by ’n jaarlikse Padvinders-jeugkamp wat op Hermanus gehou is, en het die kinders vergesel op die katamaran.

Henn sê Eskom het dadelik ’n kraglyn-operateur na die toneel gestuur. Met Eskom se aankoms was die nooddienste en die polisie reeds op die toneel.

“Eskom het reeds begin om inligting oor hierdie baie ongelukkige en hartseer ongeluk in te samel en ’n formele ondersoek word op 9 Januarie gehou,” sê Henn.

Intussen stroom boodskappe van medelye vir die gesin van Raynham, ’n oor-neus-en-keelspesialis, in.

Raynham se pa, dr. William Raynham (86), ’n afgetrede chirurg, het Maandag gesê Raynham se vrou, Maria, en kinders, Josh, Tom, Peter en Sophia, asook die res van die familie is verpletter.

Raynham was ’n welbekende en gerespekteerde chirurg verbonde aan die Universiteit van Kaapstad (UK) se private akademiese hospitaal, asook die Life Vincent Pallotti-hospitaal en Rooi Kruis-hospitaal.

Hy het ook spreekkamers by die nuwe Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in die middestad, wat hy nog aan sy pa wou gaan wys, het Raynham sr. gesê.

“Hy wou dat jong mense die avontuur van die natuur ervaar en hulle help om hul lewens te verryk,” het Raynham gesê.

Gazelee Alexander, ’n leser, het in kommentaar op die berig van Raynham se dood gesê Raynham het haar seun op 20 Desember behandel.

“Wat ’n lieflike man . . . Sy reputasie as ’n wonderlike dokter en dat hy uiters goed is met kinders, het hom vooruitgegaan. God neem altyd sy beste soldate eerste,” het Alexander gesê.

Raynham word Donderdag om 15:00 vanuit die Jubilee-gemeenskapskerk in Nelsonstraat in Observatory begrawe.

Die 11 000 volt-kraglyn oor die Kleinrivier buite Stanford op die plek waar dr. Oliver Raynham (47) Donderdag in ’n ongeluk dood is. Foto: Jaco Marais

Meer oor:  Eskom  |  Stanford  |  Doodgeskok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.