Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Eskom ‘wil krag weggee’

Terwyl kragverbruikers moet vrede maak met die idee van permanente beurtkrag wat tot twee jaar kan duur, heronderhandel Eskom tans die langtermynkontrak met sy grootste kliënt – aan wie die kragverskaffer reeds dekades lank elektrisiteit teen ’n reuseverlies verkoop.

André de Ruyter

Maar eerder as om dié afslag – wat sommige jare tot 75% onder kosprys gedaal het – uit te wis, vrees energiekenners dat Eskom sal voortgaan om groot verliese op dié verkope te ly.

Volgens die onafhanklike ontleder Ryk de Klerk het Eskom sedert 2013 reeds ’n verlies van R30 miljard gely uit sy kragverkope aan die Hillside-aluminiumsmeltery in Richardsbaai en Mozal in Mosambiek. (Dit verteenwoordig amper 7% van Eskom se totale skuld van R454 miljard.)

Die twee smelterye is verreweg Eskom se grootste kliënte en gebruik saam sowat 10% van Eskom se huidige opwekkingsvermoë.

Eskom heronderhandel nou ’n nuwe langtermynkontrak om 900 MW se elektrisiteit aan Hillside te lewer. Die kontrak verstryk in Julie.

Volgens die ou kontrak het South32, die eienaar van die smeltery, krag by Eskom gekoop teen ’n reusagtige afslag, en kenners meen dat ’n nuwe kontrak nie die afslag sal kan uitwis nie. South32 se aluminiumafdeling ly tans ’n verlies en markverwante kragpryse sal die einde van hul Suid-Afrikaanse bedrywighede beteken.

‘Hierdie eenhede gaan afgeskakel bly.’

Graham Kerr, South32 se uitvoerende hoof, het verlede jaar selfs geskimp dat hulle nog méér afslag wil hê om lewensvatbaar te bly.

Terwyl Eskom 2 000 MW teen ’n verlies aan South32 se twee smelters verkoop, moet Suid-Afrikaners nou regmaak vir permanente beurtkrag.

Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof, het Vrydag verduidelik dat permanente beurtkrag nodig is om hulle toe te laat om opwekkingseenhede vir tot drie maande op ’n keer af te skakel vir deeglike onderhoudswerk.

“(Daarom gaan) ons situasies bereik waar die vraag na krag byvoorbeeld rondom 28 000 megawatt is, maar ons net 25 000 megawatt beskikbaar het.”

Op die oomblik is ses van Eskom se 78 steenkooleenhede afgeskakel vir langtermyn-onderhoudswerk – wat tot drie maande kan duur.

Die volle omvang van die nuwe en meer deeglike plan sal die land egter eers in die tweede kwartaal tref wanneer ’n volledige rooster vir die onderhoudswerk opgestel is en gevorderde onderdele bestel, afgelewer en gereed is om te installeer.

Dan sal nog meer eenhede vir maande op ’n keer af wees, wat permanente beurtkrag sal noodsaak. Dit sal 18 maande tot twee jaar duur, maar daarna behoort dié ongerief iets van die verlede te wees.

“Hierdie beplande beurtkrag is nodig om te sorg dat die land in die toekoms weer betroubare, voorspelbare en volhoubare elektrisiteitsvoorsiening sal hê,” het Oberholzer gesê.

André de Ruyter, wat verlede maand uitvoerende hoof van die wankelende elektrisiteitsreus geword het, het vroeër die week in ’n onderhoud met eNCA beloof dat die beurtkragrooster só opgestel sal word om onderbrekings op die lange duur te voorspel, sodat mense en ondernemings hul lewe daarvolgens kan inrig.

Daar word gehoop dat die opwekkingseenhede, wat nou gemiddeld 38 jaar oud is, ná die ontwrigtende en duur proses stabiele krag sal lewer vir minstens nog tien jaar wanneer hulle om en by 50 jaar oud of ouer sal wees, het Oberholzer gesê.

Hy en De Ruyter het Woensdag die groen lig van Eskom se direksie gekry om met voorbereidings vir die omvattende onderhoudsprogram te begin.

Hulle noem dit “filosofie-onderhoud”, want dit is onderhoudsvoorskrifte wat deur die oorspronklike vervaardigers van die toerusting in kragstasies voorgeskryf word, maar die afgelope twee dekades glad nie gevolg is nie.

Vyf opwekkingseenhede by Hendrina, Kendal, Lethabo, Kriel en by Majuba is reeds as deel van die loodsfase vir die langtermyn-onderhoudsprogram afgeskakel. Die eenhede, wat saam 3 200 MW kan opwek, sal tot drie maande lank buite werking wees. Eenheid 3 van Medupi is ook af om ontwerpfoute reg te maak.

“Hierdie eenhede gaan afgeskakel bly totdat die langtermyn-onderhoudswerk heeltemal afgehandel is,” het Oberholzer gesê.

In die verlede is sulke onderhoudswerk uitgestel om beurtkrag te vermy.

“Filosofie-onderhoudswerk gaan nie weer ondergeskik gestel word aan ander oorwegings nie,” het Oberholzer gewaarsku.

Al die onderhoudswerk is tot dusver intern deur Eskom-personeel gedoen, maar De Ruyter en Oberholzer wil ook langtermyn-onderhoudskontrakte met die oorspronklike vervaardigers van die toerusting sluit om die vaardigheidstekorte in Eskom te verlig.

Die ander belangrike ontwikkeling is dat die Eskom-direksie toestemming verleen het dat onderhandelinge kan begin om kontrakte te sluit met private kragopwekkers soos suikermeulens en ander nywerheidsmaatskappye wat groot hoeveelhede krag vir interne gebruik opwek, maar surplus elektrisiteit beskikbaar het.

Die kragverskaffer het sedert die eerste beurtkragkrisis in 2008 deurgaans geweier om krag by private opwekkers aan te koop, omdat dit die einde sal beteken van sy monopolie op kragopwekking.

De Ruyter wou hom nie uitlaat oor hoeveel krag op dié manier aangekoop kan word nie, maar vroeër is bereken dat tot 1 000 MW só aan Eskom beskikbaar gestel kan word. Dis egter nie naastenby genoeg om beurtkrag af te weer nie.

Die onderhoudswerk gaan miljarde rande kos. Dit sluit ook sogenaamde middelleeftyd-onderhoudswerk in wat gedoen moet word tussen ’n opwekkingseenheid se 25ste en 36ste lewensjaar. In dié tydperk kan onderhoud aan ’n enkele opwekkingseenheid tot R2 miljard per jaar beloop.

Oor hoe die onderhoudswerk gefinansier gaan word, het De Ruyter gesê: “Die regering het R250 miljard vir Eskom bewillig oor die volgende tien jaar, daarom is ek nie bereid om nou nog geld van die regering te vra nie. Ons kan die onderhoudskoste met interne besparing en die hertoekenning van geld finansier.”

’n Spesiale afdeling is ook op die been gebring om weer na alle moontlike maniere te kyk waarop die vraag na elektrisiteit verminder kan word.

Groot verbruikers sal saam met die beurtkrag-rooster ook gevra word om hul vraag na krag te verminder.

  • Lees ook die berig in Sake-Rapport.
Meer oor:  André De Ruyter  |  Jan Oberholzer  |  Elektrisiteit  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.