Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Esperé Brink Vrydag begrawe

Esperé Brink (77) van Middelburg in Mpumalanga wat verlede week in ’n fratsongeluk met ’n grondverskuiwingsmasjien dood is, word Vrydag begrawe.

Sy begrafnisdiens is om 11:00 op die Keerom-kleinhoewe, waar hy en sy vrou, Rika (77), die afgelope 25 jaar gewoon het. Hy word ook daar begrawe.

Volgens Marie Brink, sy skoondogter, gaan dit onder die omstandighede goed met die familie.

“Met my skoonma en my man gaan dit beter, maar hulle is nog baie hartseer.”

Marie is getroud met Esperé Brink jr., vir wie die werkers gebel en gesê het hy moet kom, want sy pa het seergekry.

Die fratsongeluk het verlede Woensdag omstreeks 10:00 gebeur terwyl hulle op die plaas Rocky River Lodge op die Elandslaagte-pad naby Middelburg besig was om grond vas te stamp om ’n damwal te bou. Brink jr. was aan die ander kant van die dam.

Esperé Brink (77)

Brink het op die wal gestaan waar die grondverskuiwingsmasjien gewerk het, toe die grond meegee. Hy het geval en die masjien het oor hom gery.

Hy is op slag dood.

Van sy kleinkinders het roerende briewe aan hom geskryf.

“Oupa was ons rots, ons Ware Noord, ons skuiling wanneer ons seer gehad het en ons ouer wanneer ons dit nodig gehad het. Soos Oupa altyd daar was vir ons deur al ons moeilike tye, sal Oupa altyd in ons harte wees en altyd in ons gedagtes bly,” skryf Beanca Koster (22).

Nolene Brink (23) skryf dat sy as klein dogtertjie haar drome met haar oupa gedeel het.

“Jy het my met woorde van bemoediging gemotiveer om my te wys dat alle drome waar kan word. Ter herinnering sal ek jou wysheid koester en elke geleentheid wat my pad kruis, aangryp.”

Sameul Stoltz (27) skryf in sy brief: “Oupa was hard en het soms baie met my baklei, maar hy was my alles. Hy het my baie geleer. Al was hy so oud – mense, ek sê vir julle – daai ou kêrel het spoed gehad. Moenie dink jy hardloop vir hom weg en gaan omdraai en lag nie.”

Leika Stoltz (25) skryf sy onthou hoeveel “Oupie” haar geleer het “met min geduld en soveel liefde”.

Toe die kleinkinders nog klein was en sou seerkry, het Brink hulle altyd getroos met “ek sal nou vir jou ’n sweetie gaan koop”.

“Maar dan kry jy ’n hele warm brood, want sweeties maak jou tande vrot. Vandag as troosprys werk dit nie.”

Brink word deur sy vrou, vier kinders en tien kleinkinders oorleef.

Meer oor:  Middelburg  |  Plaas  |  Fratsongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.