Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Etzebeth trek saak teen MRK terug ná skikking

Die Springbok-slot Eben Etzebeth wil so spoedig moontlik die saak oor die aanklag van haatspraak teen hom in die gelykheidshof afgehandel kry.

Dit volg nadat hy en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) Vrydag ’n skikking bereik het ingevolge waarvan hy die hersieningsaansoek sal terugtrek wat hy laat verlede jaar teen die MRK by die hooggeregshof in Pretoria ingedien het.

Eben EtzebethFoto: www.foto24.co.za

Hy wou daardeur onder meer hê dat die hof die MRK moes beveel om sy ondersoek oor ’n beweerde voorval op Langebaan in die Weskus teen hom te “staak” en dat ’n aanklag van haatspraak teen hom in die gelykheidshof tersyde gestel word.

Die MRK het Vrydag in ’n bondige verklaring bevestig dat die twee partye so ’n ooreenkoms bereik het. “Die aangeleentheid sal nou voortgaan in die gelykheidshof om op ’n vinniger en vriendeliker wyse afgehandel te word. Sowel Etzebeth as die kommissie is vol vertroue dat dit in die beste belang van al die partye sal wees,” lui die MRK-verklaring.

Dr. Llewelyn Curlewis, strafregkenner aan die Universiteit van Pretoria, het Vrydag in reaksie hierop gesê so ’n skikking is nie ongewoon nie. “Die partye se regspanne het waarskynlik om ’n tafel gesit en gevra wat hulle met die hersieningsaansoek wil bereik. Dit is omdat so ’n aansoek die gelykheidshof-aangeleentheid vir nog maande kan vertraag en terselfdertyd ook tot hoër regskoste kan lei. Dit mag op die ou end oor geldbesparing en ander praktiese redes gaan,” sê Curlewis.

Vroeër is berig hoe daar kort ná die beweerde rassistiese voorval op 24 Augustus verlede jaar ook ’n strafregtelike klag teen Etzebeth by die polisie ingedien is.

Die klaers, Enver Wilsenach (42) en Siyaad Smith (21), beweer dat hulle die betrokke oggend omstreeks 02:00 verby die kuierplek Die Watergat in Langebaan geloop het toe Etzebeth en ’n groep mense by wie hy was hulle die h-woord toegesnou en hulle aangerand het.

Daar is ook beweer dat Etzebeth ’n wapen op hulle en omstanders gerig het.

Etzebeth het dit egter uit die staanspoor ten sterkste ontken.

Dít alles word gesê sonder dat daar ’n deeglike ondersoek was en sonder dat my kant van die saak aangehoor is.
Eben Etzebeth

Vroeër is ook berig hoe hy in hofstukke in sy hersieningsaansoek veral die MRK weens dié se “onwettige” optrede teen hom gelooi het, en omdat die kommissie onder meer ’n “aggressiewe mediaveldtog” teen hom gevoer het.

“Die MRK se verteenwoordigers het my van haatspraak, aanranding en poging tot moord beskuldig. Hulle het in die openbaar gesê dat ek in die tronk behoort te wees en dat die kommissie sal seker maak dat ek nie ‘weer daarmee wegkom nie’.

“Dít alles word gesê sonder dat daar ’n deeglike ondersoek was en sonder dat my kant van die saak aangehoor is,” het hy onder meer in die hofstukke aangevoer waarin hy ook die MRK daarvan beskuldig het dat die kommissie partydig is, irrasioneel opgetree het, ’n verskuilde agenda het en onder “politieke druk” geswig het.

Etzebeth het hiermee verwys na die uitlatings van Buang Jones, die MRK se hoof van regsdienste, verlede jaar op ’n gemeenskapsvergadering op Langebaan.

Die MRK het Jones kort daarna van die saak verwyder.

Jones het egter in November verlede jaar in die parlement gesê dat hy “buite konteks” aangehaal is.

Etzebeth speel tans klubrugby in Frankryk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.