Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ewie Cronjé ’n besonderse mens’

Ewie Cronjé was nie net een van die beste sportmanne wat hy nog gesien het nie, hy was ook ’n besonderse mens wat geweet het hoe om die beste uit ander te haal.

Ewie Cronjé word in 2002 by Hansie se begrafnis ondersteun deur sy swaer Wiester Strydom se dogter, Gerda. Foto: Gallo

Só sê Johan Volsteedt, oudskoolhoof van Grey-kollege en voormalige Vrystaatse krieketafrigter, ná Cronjé (80) se dood Maandag.

“Ek dink hy was die veelsydigste sportman wat Grey-kollege in 160 jaar opgelewer het,” sê Volsteedt.

Cronjé het op skool die Vrystaat in rugby, krieket en tennis verteenwoordig.

Hy het onderwys studeer en diep spore as sportafrigter by Grey-kollege getrap.

“Ewie het ook ’n massiewe rol gespeel om sport by die Universiteit van die Vrystaat te ontwikkel. Sport het onder hom gedy.”

Nadat hy by Grey weg is, was Cronjé die adjunk-direkteur van sport by die UV.Al het hy baie meer as ’n afrigter geweet, sou hy nooit inmeng nie, sê Volsteedt.

Hy sê Cronjé het as president van die Vrystaatse Krieketunie die kans gekry om die Vrystaat-krieketspan af te rig.

Dié span het in 1988-’89 die eerste keer in 100 jaar ’n trofee gewen toe hy WP op Nuweland in die Benson&Hedges-reeks geklop het.

Hansie en Frans, Cronjé se seuns, was self lede van die Vrystaatspan.

Dit was vir hom moeilik, dit het aan hom gevat.

Cronjé was meer as net ’n buitengewone sportman.

“Hy het geweet hoe om mense met probleme te help dat hulle beter word, hy het ’n slag met kinders gehad en iets uitgestraal wat mense aangetrek het.”

Hy was ’n fyn waarnemer en het ’n besonderse sin vir humor gehad, sê Volsteedt.

Hy het baie swaar gekry toe Hansie verhoor en later oorlede is.

“Dit was vir hom moeilik, dit het aan hom gevat.”

Frikkie van Rensburg, oudsportredakteur van Volksblad, sê Cronjé was geseën met ingebore leierseienskappe.

“Hy het nie altyd die erkenning gekry vir sy onbaatsugtige diens aan sport in die algemeen en krieket in die besonder nie.”

Hy het ook ’n ongelooflike kennis van sport gehad, sê Van Rensburg.

Onder sy leiding het deelname aan sport by die UV toegeneem en het Vrystaat-rugby ’n krag in Suid-Afrika geword.

Die UV se bydrae tot Vrystaatse sport het in dié tyd só toegeneem dat Vrystaat Rugby as een van die voorste rugbyunies in die land beskou is. Op atletiek-, tennis-, netbal-, hokkie- en krieketgebied kon Vrystaters met die heel grotes in Suid-Afrika begin saam gesels.

Oom Ewie, jy sal altyd in ons harte en gedagtes bly.

“Ewie was ’n koerantman se droom, hy sou jou in sy vertroue neem en sou nooit inligting weerhou nie.”

Hy sou ook altyd erkenning gee en dankie sê.

Cronjé het as sportadministrateur Vrystaatse sport ontwikkel en op talle gebiede ’n leiersrol in die sport in die Vrystaat gespeel.

Hy was bedlêend nadat aggressiewe maagkanker by hom gediagnoseer is. Hy het ook ’n beroerte gehad wat die spraakgedeelte van sy brein aangetas het.

Zola Thamae, president van die Vrystaatse Krieketunie, het Maandag simpatie met die Cronjé-gesin betuig en gesê Cronjé se dood is ’n groot verlies vir sport in Suid-Afrika.

Grey-kollege het in ’n huldeblyk gesê Cronjé het die skool gereeld besoek en die familie sterkte toegewens.

“Oom Ewie, jy sal altyd in ons harte en gedagtes bly,” sê die skool.

Meer oor:  Johan Volsteedt  |  Ewie Cronjé  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.