Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Fairview-boer: 'Om te leef moes ek maak of ek sterf'

“Ek is dankbaar ek leef. Ek kon vanoggend my vrou en kinders groet.”

Dit was die woorde van Charles Back (61), eienaar van die bekende Fairview-kaas-en-wynplaas en die Spice Route-plaas buite die Paarl in die Wes-Kaap.

Charles Back Woensdag nadat hy aangeval is. Foto: Jaco Marais.

Hy is Woensdag in die vroeë oggendure in sy slaapkamer in die opstal deur drie onbekende mans met ’n lang ystervoorwerp, vermoedelik ’n koevoet, aangerand en vir dood agtergelaat.

Hy moes 70 steke in sy kop kry en hy sal Woensdag of Donderdag ’n operasie aan sy linkeroog ondergaan.

Back sê hy het wakker geword van ’n yslike hou met ’n ysterstaaf teen sy kop.

Die huis waarin Charles Back aangeval is. Foto: Jaco Marais

“Toe ek wakker skrik van die hou, sien ek die drie atleties geboude mans voor my bed staan.”

Hy sê hy het met ’n groot geskreeu opgespring en onmiddellik met die aanvallers begin stoei. Hulle het hom egter aanhoudend met die stuk yster (hy vermoed dit was ’n koevoet) geslaan.

“Ek is nogal redelik fiks vir my ouderdom, maar het gou besef dat die mans niks daarvan gaan dink om my dood te maak nie. Hulle was aggressief, hulle was daarop uit om my seer te maak.”

Back sê dat hy een van sy aanvallers beetgehad het toe ’n ander een met die ysterstaaf naderkom en vir hom mik. Hy wou probeer om die aanvaller wat hy beetgehad het, teen die een met die ysterstaaf te gooi.

Die man met die ysterstaaf het egter geslaan en hy is teen sy regteroog getref. Back het toe sy bewussyn verloor.

Hy het wakker geword terwyl sy aanvallers besig was om sy hande en voete met die muskietnet wat om sy bed was vas te bind en hom in ’n mat wat in sy kamer was, toe te rol. Hulle het die muskietnet in repe opgeskeur.

Een van die mans het hom gevra waar die kluis se sleutel is.

“Ek het besef om te oorleef moet ek maak of ek besig is om dood te gaan.”

Hy het die man sleeptong geantwoord dat sy vrou dit het.

Back se vrou het tydens die aanval by hul seun in die Kaap gekuier.

Charles Back

Hy sê die man het hom toe gelos. Hy het onder sy bed ingerol en daar gewag totdat hy niemand meer in die huis kon hoor nie.

“Ek het intussen probeer om my hande en voete los te wikkel, maar ek kon nie.”

Back het toe onder die bed uitgerol en al met die muur langs uit die huis op sy vasgebinde voete gehop. Buite die huis het hy in ’n gat neffens die wingerde geval. Hy wou tot in die wingerde kom sodat hy daar kon “wegraak”, sou sy aanvallers besluit om terug te kom.

Toe hy besef die aanvallers is weg, het hy sy voete uit die repe muskietnet geruk en met sy hande nog steeds vas na sy motor gehardloop.

“Ek is na my buurman onder my en het daar op die toeter gelê. Hulle het egter vas geslaap.”

Hy het verder na nog ’n buurman gery wat hom toe na die Paarl Mediclinic geneem het.

Volgens Back het sy aanvallers toegang tot sy huis verkry deur ’n venster oop te dwing aan die kant van die huis waar daar nie honde is nie. Hulle het ook die ysterhek tussen die slaapkamers en leefvertrekke met ’n koevoet, vermoedelik dieselfde een waarmee hulle hom geslaan het, oopgebreek.

Hy sê twee televisiestelle en sy selfoon is gesteel. Die televisiestelle is later langs die Suider-Paarl-pad gevind.

Die polisie het die aanval bevestig. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Back is vroeër deur lede van die Landbouskrywers SA as Boer van die Jaar vir 2017 aangewys.

Meer oor:  Charles Back  |  Fairview  |  Aangeval  |  Boer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.