Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Faith se department weer in sop oor finansiële state

Die departement van samewerkende regering, wat plaaslike bestuur koördineer, stoei met die ouditeur-generaal (OG) om sy finansiële state goed te keur weens buitensporige onreëlmatige besteding aan die gemeenskap-werkprogram (GWP), waaraan die vorige twee jaar meer as R1 miljard onreëlmatig bestee is.

Die krisis by die departement het Dinsdag aan die lig gekom toe geen departementele verteenwoordiger opgedaag het by die portefeuljekomitee vir samewerkende regering en tradisionele sake waar die departement se jaarverslag voorgelê sou word nie.

Die vergadering is boonop in een van die geboue van die departement in Centurion gehou waar die munisipale afbakeningsraad gehuisves word. Die komitee is daar op ’n oorsigbesoek om plaaslike owerhede te ondervra wat bankrot is weens beleggings in VBS Bank.

Mashwahle Diphofa, direkteur-generaal van die departement, het bloot ’n kort brief by die gebou laat aflewer kort voordat die vergadering begin het waarin die voorsitter, Faith Mu­tham­bi, meegedeel word dat hy met die OG se kantoor in Pretoria vergader oor die departement se finansiële state, wat by die jaarverslag ingesluit moet word.

“Al die parlementslede was ontsteld oor die ongeërgdheid waarmee die portefeuljekomitee behandel word terwyl plaaslike besture oral in ’n krisis is,” sê Cilliers Brink, DA-komiteelid.

Hlengiwe Mkhaliphi, EFF-lid op die komitee, het van Muthambi geëis dat die minister, Nkosazana Dlamini-Zuma, voor die komitee verskyn om te verduidelik waarom die departement se finansiële state nie afgehandel is nie en waarom haar amptenare die komitee só behandel.

“Muthambi het onderneem om Dlamini-Zuma en Diphofa in te lig oor die ontevredenheid van die komiteelede. Diphofa is die rekenpligtige amptenaar en is veronderstel om alle vergaderings van die komitee by te woon,” het Mkhaliphi aan Rapport gesê.

Die OG moet die finansiële state goedkeur, maar Diphofa en Parks Tau, adjunkminister vir samewerkende regering, het die res van die week tot laat saans by die kantore van die OG in Pretoria met die ouditeure vergader om aan die probleme in die state te werk.

Die OG het die vorige twee jaar negatiewe bevindings gemaak oor meer as R1 miljard se onreëlmatige GWP-besteding waarvoor R14 miljard per jaar begroot word om deeltydse werk in gemeenskappe te finansier. Sowat 256 000 werkloses word in dié program R780 per maand betaal vir twee dae se werk per week.

Die GWP, ’n afdeling van die uitgebreide openbarewerkeprogram, was ook die afgelope jaar in hofsake betrokke oor ongerymdhede met die toeken van kontrakte vir “implementeringsagente” wat die werk moet toeken en toesig hou dat dit gedoen word.

Die Seriti-instituut, wat sedert die begin van die GWP in 2010 ’n implementeringsagent was, het verlede jaar skielik die kontrak verloor en beweer dis omdat daar ernstige afwykings van die voorgeskrewe tenderprosedures was. Die OG het verlede jaar in sy oudit bevind dat daar nie voldoende bewyse van betalings aan die implementeringsagente gevind kan word nie.

Michal Groenewald, VF Plus se verteenwoordiger, het gesê die onbevoegdheid en minagting waarmee die portefeuljekomitee behandel is, wys dat die regering nie die erns van die ineenstorting van plaaslike owerhede besef nie.

“Plaaslike owerhede het krisisbestuursentrums geword. Dis een van die ernstige krisisse waardeur die land in die gesig gestaar word,” sê Groenewald.

Lungi Mtshali, woordvoerder van Dlamini-Zuma, het gesê die voorlegging van die departement se jaarverslag is laat. “Die OG het daarom meer tyd nodig om dit te verwerk en af te teken.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.