Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Familie hoor ná 44 dae hul kind met downsindroom sterf

Nié lank na die skietdood van Nathaniel Julies (16) met downsindroom in Eldorado Park nie, moes hierdie gemeenskap afskeid neem van nóg ’n kind met dieselfde intellektuele gestremdheid.

René Andrews (15) is op 27 Augustus in ’n staatshospitaal dood, maar haar familie is eers 44 dae later daarvan in kennis gestel. Hulle het verlede week uitgevind die geliefde tiener is dood – dit in Oktober wat downsindroom-bewusmakingsmaand is.

Die Gautengse gesondheidsdepartement ondersoek die voorval.

Drie polisielede is aangekla van die moord op 26 Augustus op Nathaniel naby sy ouerhuis.

René Andrews (15) is Donderdag in Johannesburg begrawe.

René is op 9 Augustus met water op die longe in die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg opgeneem en weens streng Covid-19-regulasies kon die familie haar nie besoek nie.

Haar ouers, Colin en Jasmine, het die hospitaal daagliks gekontak om op die hoogte te bly van hul jongste dogter se toestand, en is meegedeel dat dit goed gaan met haar.

Hulle het ook gereeld pakkies vir haar by die hospitaal afgelewer wat die personeel dan aan haar sou gee.

Een van hierdie kere is René se familie in kennis gestel dat sy van saal 8 na saal 13 oorgeplaas is.

Haar suster, Venash (18), het verlede Vrydag nog ’n pakkie vir haar gaan aflewer, maar is toe ingelig dat daar nie ’n pasiënt met die naam van René Andrews in die hospitaal is nie, sê Charis Pretorius, direkteur van die Caitlin Douman-stigting wat namens die Andrews-familie praat.

“Sy het volgehou dat René in die hospitaal is, maar die personeel het haar aangeraai om die volgende dag terug te keer en intussen self na haar te soek.”

Die familie is die volgende dag terug, wat verlede Saterdag was, en het die slegte nuus ontvang dat René op 27 Augustus reeds dood is. Hulle is ook toegang geweier om haar lyk dieselfde dag te identifiseer, omdat die lykshuis glo gesluit was, sê Pretorius.

Volgens die hospitaalpersoneel het hulle alles moontlik gedoen om die familie in die hande te probeer kry, maar die kontaknommer en adres was verkeerd, sê Pretorius.

Die hospitaal kon hulle glo ook nie op die bykomende kontaknommer bereik nie.

René se lyk is Maandagmiddag uitgeken en sy is Donderdag in die Oliphantsvlei-begraafplaas begrawe.

René Andrews (15) Foto: Verskaf

“Hulle (die familie) is nog besig om die gebeure te verwerk. Dit het alles net te skielik gebeur,” sê Pretorius.

“Ek dink die grootste probleem vir Jasmine op die oomblik is dat sy nie die geleentheid gekry het om haar finale totsiens te sê nie. Dit is baie moeilik vir hulle.”

Jacob Mamabolo, waarnemende LUR vir gesondheid in Gauteng, het sy departement sedertdien opdrag gegee om ondersoek in te stel na die hantering van die gebeure.

“Hy het ’n span senior amptenare aangewys, wat met die Andrews-gesin vergader het,” sê Kwara Kekana, woordvoerder van die departement.

Mamabolo het ook sy meegevoel aan René se familie betuig.

“Dit is nooit maklik om ’n geliefde te verloor nie, veral nie as die geliefde ’n jong mens is wat nog hul toekoms voor hulle het nie. Die ondersoek na die hantering van René se saak behoort ons te help om pasiënte se sorg-ervaring te verbeter.”

Intussen het Downsindroom Suid-Afrika die manier veroordeel waarop die personeel van die Helen Joseph-hospitaal die situasie hanteer het.

“Hoe begin ons as samelewing die dood van twee adolessente met downsindroom uit dieselfde gemeenskap verstaan en verwerk,” vra Ancella Ramjas, nasionale direkteur van die organisasie, in ’n verklaring.

Die organisasie eis dat die skuldiges aan die pen ry en vir die uitkoms van die ondersoek om bekend gemaak te word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.