Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Familie sien op video hoe 2-jarige tweeling verdrink
Sebastian en Ethan Dunn. Foto: Facebook/ Ivan Ikes

Die familie van ’n twee jaar oue tweelingseuns het ná die tyd op kringtelevisiebeeldmateriaal gesien hoe die twee in ’n swembad beland en lank aan ’n Kreepy Krauly vasklou voordat hul doeke te swaar geword en hulle verdrink het.

Dié tragedie het hom die naweek by Sebastian en Ethan Dunn se ouerhuis in die Kloof-woongebied in Durban afgespeel.

Hul oupa, Ivan Ikes, het Dinsdag aan Netwerk24 gesê die seuns is in hul oppasser se sorg gelaat terwyl hul ouers byna 180 km weg in Port Edward was, juis om met ’n ander familie te gaan simpatiseer.

“Hul ouers het vir die oppasser streng opdrag gegee om die tweeling op te pas. Sy woon in die huis by die gesin.”

Ikes sê die paartjie se ouer dogters, waarvan die oudste 20 jaar oud is, was ook tuis.

Die susters het Saterdagmiddag aan die oppasser gesê hulle gaan winkel toe en is by die huis uit.

“Die oppasser het geweet sy is alleen saam met die kinders. Sy sê sy het ’n omgekrapte maag gehad en het die seuns alleen gelos, maar sy het nie die deur gesluit nie. Hulle het by die deur uitgekom en die hek by die swembad oopgekry.”

Ons kon alles op beeldmateriaal sien. Alles wat met hulle gebeur het, is op beeldmateriaal vasgevang.

Een van die boeties is daarna na die swembad en het sy broer geroep om nader te kom, waarna een in die swembad geval het.

“Die boetie wat nie in die swembad was nie, het sy broer probeer red. Hy het ook in die swembad beland en hulle het lank aan die Kreepy Krauly vasgeklou.”

Ikes sê die seuns se doeke het net te swaar geword en hulle kon nie langer vasklou nie.

“Ons kon alles op beeldmateriaal sien. Alles wat met hulle gebeur het, is op beeldmateriaal vasgevang.”

Hy sê dit is ook hoe die familie weet dat die oppasser die tweeling 48 minute lank alleen gelos het voordat sy besef het hulle is weg.

“Die beeldmateriaal wys alles. Van die tyd dat hulle die hekkie oopgemaak het.”

Hy sê baie mense op sosiale media vra nou hoekom die seuns nie kon swem nie.

“My dogter en haar man kom uit ’n township. Hulle huur daardie huis in die voorstede. My skoonseun het die heining om die swembad uit sy eie sak laat oprig.”

Sebastian en Ethan Dunn se oupa, Ivan Ikes, het hulle Petrol en Diesel genoem omdat hul ouers destyds by ’n petrolstasie ontmoet het Foto: Facebook/ Ivan Ikes
Boodskappe van medelye stroom op sosiale media in vir Sebastian en Ethan Dunn, wat Saterdag in hul gesin se swembad verdrink het. Foto: Facebook/ Ivan Ikes

Hy sê hy gaan die tweeling verskriklik baie mis.

“Hulle was fantasties, vol vreugde. Hulle het met liefde gegloei. Hul ouers het by ’n vulstasie ontmoet. My skoonseun was ’n petroljoggie en my dogter het petrol ingegooi by die vulstasie waar hy gewerk het.”

Hy sê hy het daarom die tweeling altyd “Petrol” en “Diesel” genoem.

“Ons het die Kersfeesliggies reeds in Oktober vir hulle aangeskakel. Dis amper asof hul ouers geweet het . . .”

Ikes sê hy wil hê ander mense moet hoor van die tragedie, in die hoop dat dit ander kinders se lewe sal kan red.

“Sodat hul dood nie verniet was nie. Mense moet regtig ondersoek instel wie hulle aanstel om na hul kinders te kyk.”

Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, het bevestig dat lede van die Pinetown-polisiekantoor die verdrinking ondersoek.

“Die tweeling het op 28 November omstreeks 16:15 in die swembad by hul huis in Kloof verdrink,” sê Mbele.

Meer oor:  Verdrink
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.