Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Familie verslae oor dogter se dood in Hermanus
Phillip Poole, Teene-Rose Hofmeyer se pa, kyk hoe sy dogter se lyk na ’n polisievoertuig gedra word. ‘n Polisiebeampte het hom ondersteun.Foto: Anena Burger

Familie van die vrou wie se lyk Saterdag aan ’n boom by die gewilde Fick se poel in Hermanus gevind is, is gebroke en wonder wat tot die dood van Teen-Rose Hofmeyer (33) gelei het.

Vriende en familie het hul medelye kom betoon aan ’n gebroke Jean Poole wat toe pas gehoor het haar dogter is dood.

Haar lyk is Saterdagoggend vroeg deur ’n veiligheidswag ontdek waar dit in ’n bebosde gebied aan ’n boom gehang het.

“My kind het afskuwelik gesterf, maar alles is die wil van die Here,” sê sy terwyl sy na haar asem snak.

“Omdat ek die Here dien, vat ek dit dat God ’n plan het met Teene-Rose.” Sy druk Hofmeyer se niggie, Vachti Daniels, se hand stywer vas.

“Hulle was mekaar se tweeling,” sê Poole oor die niggies se hegte vriendskap.

“Teene was ’n mensemens. Albei my dogters het soos ek ingegaan in caring waar hulle oumense oppas.”

Omdat ek die Here dien, vat ek dit dat God ’n plan het met Teene-Rose.
Die lewenslustige Teene-Rose Hofmeyer voor haar dood.Foto: Verskaf

Poole beskryf haar dogter as uitgesproke en groothartig.

Sy was ’n borrelende vrou wat geliefd was onder die mense van Mount Pleasant.

Volgens die familie het niemand Vrydagaand onraad vermoed toe Hofmeyer en haar man, David, omstreeks 20:00 by die huis weg is nie.

Die egpaar, wat slegs sewe maande getroud was en hul eersteling verwag het, het saam uitgegaan. Teene-Rose het ook drie jong seuns tussen die ouderdom van 15 en 3 jaar uit ’n vorige verhouding.

Teene-Rose was volgens haar suster, Philreanne Poole, vier maande swanger.

Die paartjie is later die aand, omstreeks middernag, gewaar by ’n vulstasie in Hermanus, waar hulle by ’n kafee aangedoen het.

Jean sê haar skoonseun het omstreeks 01:00 by die huis aangekom.

Sy het wakker geword toe sy iemand by die skuifdeur hoor. “Ek het nog geraas met die een wat so hard deur die huis loop. David het geantwoord en gesê dit is hy en dat hy na Teene-Rose soek.”

David het glo oral na haar gesoek, maar kon haar nie opspoor nie. Aan sy skoonma het hy glo gesê hulle het gestap en toe hy weer sien, was sy vrou spoorloos.

Jean sê sy was toe nog nie bekommerd nie omdat haar dogter soms by Daniels oorslaap as sy met haar man baklei het.

Jean sê sy het Saterdagoggend bekommerd geraak toe sy vir Teene-Rose ’n boodskap stuur, maar geen antwoord gekry het nie.

Poole het omstreeks 07:00 vir Daniels gebel om te hoor waar Teene-Rose is aangesien sy Saterdagoggend na ’n bejaarde pasiënt moes omsien. Daniels het gesê sy was nooit by haar nie. Toe het die familie dadelik na haar dogter begin soek.

Hulle het kort daarna ’n oproep ontvang dat haar lyk by die getypoel ontdek is.

David Hofmeyer en nog familie het hulle na die toneel gehaas.

Poole sê sy was verbaas omdat haar dogter nie net sou wegraak nie.

Teene-Rose se pa, Phillip, en haar suster, Philreanne wat van die Kaap af deurgejaag het, was ontroosbaar toe hulle by die toneel opdaag.

Phillip het verward rondgedwaal en gesê: “Dis my baby girl. Dis my baby.”

Die familie is steeds geskok en verstaan nie waarom dit gebeur het nie.

“Sy was my laggende dogter. Sy het altyd gekráái van die lag,” sê Jean.

Kapt. Fadila September, polisiewoorvoerder, het Saterdag gesê die polisie doen ’n geregtelike nadoodse ondersoek.

Meer oor:  Hermanus  |  Lyk  |  Boom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.