Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Familie vergeefs gevra: Kom help

In haar desperaatheid om die familie van haar 82-jarige huurder sover te kry om na hul ma om te sien, het Hettie Swanepoel van Emalahleni (Witbank) die uitgeteerde tannie Heleen Dinkelmann nakend in ’n leë bad afgeneem.

Japie en Hettie Swanepoel, by wie Heleen Dinkelmann gewoon het, by haar begrafnis. Foto: Deon Raath

Maar toe word die foto die hele dorp vol aangestuur en skielik beskuldig almal haar van harteloosheid. Sy is jammer dat sy daardie foto geneem het, sê Swanepoel. Maar sy verdien nie die beskuldigings nie.

Dinkelmann is intussen dood, ses dae nadat sy erg gedehidreer, met dubbele longontsteking en nierversaking in die hospitaal opgeneem is. Sy is Vrydag begrawe.

Swanepoel sê sy het Dinkelmann by die kerk leer ken. Nadat die tannie twee keer in haar ou blyplek beroof is, het sy 18 maande gelede by Swanepoel ingetrek. Daar was geen ooreenkoms dat Swanepoel haar sou versorg nie.

Dinkelmann het haar twee dogters, Marie Strydom (65) in Mbombela (Nelspruit) en Hannie van der Westhuizen (57) in Emalahleni, selde gesien omdat hulle nie motors het nie.

Só het Heleen Dinkelmann in die afgelope maand gelyk.

Swanepoel het Dinkelmann wel partykeer na hulle toe geneem om te gaan kuier. Nie Hannie of Marie het op Rapport se navrae gereageer nie.

Die laaste tyd het Dinkelmann se gesondheid agteruitgegaan. “Ek het haar doeke geruil, haar gebad, haar gevoed en haar rondgedra. Ek het regtig alles gedoen wat ek kon. Ek het niks om weg te steek nie, want my hart is skoon,” sê Hettie.

Toe dit te veel raak, het sy gesê Dinkelmann se familie moet kom help, maar niemand het op haar versoeke gereageer nie. Dis toe dat sy die foto op WhatsApp gestuur het. Ook dít het geen reaksie van die familie ontlok nie. In plaas daarvan het mense net oor háár begin skinder, sê Swanepoel.

In September het ’n kuiergas uiteindelik Solidariteit se Helpende Hand gekontak. Annemarie van Heerden van Helpende Hand sê: “Sy was so swak, sy kon nie eens hoes nie. Sy het soos ’n katjie gekreun.” Dis duidelik Swanepoel het goeie bedoelings gehad, “maar is absoluut onkundig om na ’n bejaarde om te sien”, sê sy.

Heleen Dinkelmann was nog gesond in Desember.

’n Ambulans is ontbied. Phillip du Plessis, ’n ambulansman, was ontsteld. Dinkelmann kon glad nie meer praat of regop sit nie. Sy was te swak om ’n glas water in haar hand vas te hou. Haar

naels was nooit geknip nie en sommige van haar toonnaels was afgebreek. Haar lyf was vol bedsere en haar suikervlak was heeltemal te laag. “Dit het my hart gebreek,” sê Du Plessis.

’n Dokter by die hospitaal het gesê haar toestand was afgryslik.

Dinkelmann is ses dae later in die hospitaal dood aan septisemie, ’n infeksie in haar bloedstroom.

Haar kleindogter Lucille van Gass sê sy was onbewus van haar ouma se siekte.

“Ons het haar in Julie laas gesien en sy was nog heeltemal gesond,” sê sy. “Niemand het vir my gesê nie.”

Die ses dae wat haar ouma in die hospitaal was, het sy elke dag van Pretoria af deurgery om haar te besoek.

“Sy het albei haar mans begrawe asook twee van haar seuns,” sê Van Gass. “Toe haar derde seun, Hennie Lindeque, in die afgelope jaar dood is, het dit haar gebreek. Sy was baie lief vir daardie oom van my,” sê sy.

Swanepoel beaam dit: “Sy wou nie eet nie en het die heeltyd gesê sy wil gaan waar haar Hennie gegaan het.”

Van Heerden sê sy hoop die gemeenskap leer uit hierdie tragedie dat hulle Helpende Hand kan kontak vir hulp vir bejaardes. Dan spruit daar minstens iets goeds uit Dinkelmann se eensame dood.

jaco.nel@rapport.co.za

Meer oor:  Bejaardes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.