Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Familie vind verdrinkte man se lyk langs Sondagsrivier

Nog voor die polisie se duikeenheid Maandag hul soektog na ’n 35-jarige vermiste man in die Sondagsrivier in die Oos-Kaap kon voortsit, het familielede op sy lyk afgekom.

Die lyk van Imraan Yousaf is Maandag omstreeks 07:00 op die oewer van die Sondagsrivier aangetref en deur sy familie uitgeken, het kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, gesê.

Sy lyk het uitgespoel sowat ’n kilometer van waar hy Sondag vermis geraak het.

Familielede en owerhede soek Sondagaand nog langs die Sondagsriviermond na Imraan Yousaf wat toe nog vermis was. Foto: Verskaf

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) sê in ’n verklaring dat die nooddienste Sondag omstreeks 18:00 van ’n moontlike verdrinking in die riviermond, sowat 40 km buite Port Elizabeth, in kennis gestel is.

’n Groep van sowat 20 mense het glo oor die rivier geswem toe drie mans in ’n sleurstroom weens die verandering in getye vasgevang is.

Ian Gray, stasiebevelvoerder van die NSRI in Port Elizabeth, sê met hul aankoms daar was twee van die drie mans reeds veilig uit die water en het net ligte beserings opgedoen.

Ondanks ’n uitgebreide soektog in die rivier, die see en op die oewers kon Yousaf nie opspoor word nie.

Familielede van Imraan Yousaf en lede van die polisie dra Maandagoggend sy lyk op die strand. Foto: Verskaf

Intussen sê Beetge hul soektog na Jacques Schamrel (39), wat einde Mei verlede jaar ook in die Sondagsriviermond vermis geraak het, het nog niks opgelewer nie.

Schamrel is op die aand van 30 Mei – sy 39ste verjaardag – laas lewend gesien.

Jacques Schamrel word steeds sedert ’n hengeluitstappie in Mei 2018 op die Sondagsriviermond vermis. Foto: Facebook

Schamrel en Ockert Erasmus (38), ’n vriend, het die vorige dag op hul boot in die rivier begin met ’n hengeluitstappie wat veronderstel was om tot daardie Vrydag te duur.

Erasmus het die Woensdagaand glo om middernag gaan slaap, terwyl Schamrel nog gehengel het. Die volgende oggend was hy nie meer op die boot nie. Buiten vir sy klere wat op die rivier se oewer aangetref is, was daar geen teken van hom nie.

Melissa Hooper, Schamrel se lewensmaat, het Maandagoggend op die nuus van Yousaf se verdrinking gereageer en gesê: “Ek het vanoggend die hartseer nuus gelees en my hart gaan uit na die familie, dis vreeslik om daar te staan en jou arms voel afgekap. Mag die Here daardie gesin vandag styf vashou, ek wens dit nie eens my grootste vyand toe nie.”

Sy sê die polisie het haar twee weke voor Kersfees weer in verband met Schamrel se verdwyning kom spreek, maar sy glo nie die owerhede soek verder na hom nie.

“Hoewel ons weet dat die see-mense nog elke paar dae in daardie gebied rondry, is dit maar roetine en nie net vir Jacques nie.”

Sy sê elke keer wanneer sy na die toneel terugkeer om die gebied te fynkam, raak dit vir haar moeiliker. “Jy stop op die parkeerterrein en jou bene voel soos sementblokke. Jy weet nie watter kant toe nie. Gaan jy deur die bos, oor die duine, langs die see af . . . of sak jy net daar in mekaar en herleef alles weer van vooraf?” het Hooper gesê.

Meer oor:  Nsri  |  Oos-Kaap  |  Verdrinking  |  Lyk Gevind  |  Soektog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.