Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Familie waarsku teen onwettige drank ná man sterf
Juan Martin Joubert was voor sy dood ’n kranige hengelaar. Foto: Verskaf

’n Man van die Oos-Rand is dood nadat sy organe vermoedelik ingegee het weens vermoedelik tuisgemaakte drank.

Juan Martin Joubert (34) van Brakpan, ’n pa van twee kinders, is Dinsdagoggend in die Verre Oos-Rand-hospitaal dood.

Sy vrou se stiefpa, wat glo ook van die drank gedrink het, is in ’n kritieke toestand in die hospitaal se waakeenheid.

Die drank is by iemand in die Oos-Rand gekoop. Die familie het op versoek van die polisie nie die verkoper se naam aan Netwerk24 bekend gemaak nie.

Joubert se familie wil mense waarsku om nie tuisgemaakte of onwettige drank te koop nie.

Die familie beweer ander slagoffers wat drank van dieselfde verskaffer ontvang het, het ook na vore gekom.

Dit kon egter nie bevestig word nie.

Joubert se vrou, wat op voorwaarde van anonimiteit met Netwerk24 gepraat het, sê sy en haar man het verlede Saterdag die eerste keer van die drank gedrink.

“Die volgende oggend het ek verskriklik dronk in my kop gevoel. Ek was van balans af en ek het ook ’n verskriklike hoofpyn gehad.

“My man het opgestaan en dit het gelyk of hy nog gedrink was. Hy en my stiefpa het toe ’n nuwe bottel oopgemaak en elkeen ’n glas daarvan gedrink,” sê Joubert se vrou.

Die egpaar het die Sondag by vriende in dieselfde straat gaan kuier en nog van die drank gedrink.

Toe Joubert Maandag te siek voel om te gaan werk en begin braak, is hulle dokter toe.

“Die dokter het gesê as ons teen 16:00 nie beter voel nie, moet ons teruggaan. My man het nog opgegooi en was baie deurmekaar. Ons het toe besluit om liewer hospitaal toe te gaan.”

Haar stiefpa het dieselfde simptome as Joubert getoon en het ook gekla hy sukkel om asem te haal en is toe saam met hulle hospitaal toe.

“Die hospitaal het baie vinnig gereageer.

“Ek het gesit en wag omdat ek beter gevoel het.”

Hy het gesê sy ander organe is ook besig om in te gee en hy is kritiek, maar stabiel.

Sy sê die dokter het net ná 22:00 vir haar gesê haar man is aan ’n ventilator gekoppel en sy niere het reeds ingegee.

“Hy het gesê sy ander organe is ook besig om in te gee en hy is kritiek, maar stabiel.”

Toe sy hom Dinsdagoggend gaan besoek, was sy toestand onveranderd.

“Ek kon hom darem sien. Ek het vir hom in sy oor gebid en met hom gesels.”

Personeellede het gevra sy en haar ma moet buite die hospitaal gaan wag.

Hulle wou aanvanklik eers huis toe gaan om te rus, maar is deur die veiligheidsmense teruggeroep.

“Die dokter het ons toe laat weet dat my stiefpa aan ’n ventilator gekoppel en kritiek is en dat my man dit ongelukkig nie gemaak het nie.”

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê hulle ondersoek die saak en wag op die uitslae van die nadoodse ondersoek.

My kindertjies moet nou sonder hul held grootword.

Hy sê hulle ondersoek geen ander soortgelyke voorvalle aan die Oos-Rand nie.

Joubert sê haar en haar twee kinders se lewe “het in ’n oogwink verander deur iemand anders (die mens wat die drank gemaak het) se selfsug.

“My kindertjies moet nou sonder hul held grootword.”

Sy sê Joubert was ’n grapjas en gek na hengel.

“Hy het almal se lewe met vreugde gevul en net liefde vir almal om hom gehad. As jy Juan geken het, het jy ’n broer gehad en hy sou enigiets vir sy naaste doen.

Hy het nog soveel drome gehad en (daar was) soveel dinge wat hy nog wou bereik.

“Hy het nooit lank kwaad gebly nie en het altyd gesê die lewe is te kort.

“Hy was ook nie bang vir doodgaan nie, sy woorde was altyd ‘as dit jou tyd is, is dit jou tyd’.

“Juan het sy lewe voluit gelewe, foute gemaak en daaruit geleer.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.