Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Familie wag steeds op geregtigheid ná vrou se dood

Die familie van ’n vrou van Kempton Park wat dood is nadat sy na bewering deur haar man aangerand is, wag al langer as ’n jaar dat geregtigheid geskied.

Familielede van Karien Janse van Rensburg (37) het Donderdag voor die landdroshof in Kempton Park bymekaargekom waar Karien se man, Deon Janse van Rensburg (43), op aanklag van moord verskyn het.

Karien is op 18 Augustus in die hospitaal dood nadat sy na bewering op 5 Augustus 2019 aangerand is.

Elsie Lubbe, Karien se ma, was ook voor die hof en sê sy onthou die dag van die beweerde aanranding goed.

Karien het haar jongste seun (nou 14), wat aan downsindroom ly, die Vrydag voor die voorval by Lubbe afgelaai sodat sy na hom kon omsien.

Deon van Rensburg Donderdag buite die landdroshof in Kempton Park. Foto: Deaan Vivier

Volgens Lubbe was Karien en Deon toe reeds van mekaar vervreem en het Karien in haar eie woonstel gebly.

“Sy het hom by my afgelaai, want Deon sou daardie naweek na haar woonstel toe gaan. Ek het gedurende die dag ’n boodskap gekry wat sê hulle gaan Rustenburg toe en hy moet by my oorslaap. Toe ek bel, het ek dadelik geweet iets is fout,” sê Lubbe.

Die kind het die naweek by Lubbe deurgebring en sy het hom Maandagoggend vroeg na die skoolbus geneem. Lubbe en haar dogter het saam gewerk en kort voordat sy hom afgelaai het, het hul baas gebel om te sê Deon het laat weet Karien het glo in die stort geval en hy moet haar na die hospitaal neem.

“Maar my kind het nie ’n stort gehad nie, het ek gedink. Ek het soontoe gery en toe ek daar stop, het die veiligheidswag by haar kompleks gesê hulle het baklei en ek moenie ingaan nie. Iets in my het gesê ek moet gaan kyk.”

Sy sê toe sy daar aankom, was haar dogter “blou in die gesig en vol merke”.

“Ek het vir hom gesê ek wil haar hospitaal toe vat, maar hy het volgehou hy gaan dit doen.

“Ek onthou haar gesig – sy het met haar kop agteroor in die bakkie gesit. Sy was byna dood toe sy by die hospitaal aankom, maar hulle kon haar weer bybring. Sy was twee weke in ’n koma voordat sy gesterf het.”

Familielede en ondersteuners van Karien Janse van Rensburg betoog Donderdag buite die hof in Kempton Park. Foto: Deaan Vivier
Elsie Lubbe (links agter), die oorlede Karien se ma, en Billy Schorn (regs agter), haar neef, Donderdag by die hof in Kempton Park. Voor is Kerry-Ann Prinsloo, stigter van die Facebookblad “Justice for Karien”, en Alet Schorn (Karien se tannie). Foto: Deaan Vivier
Karien Janse van Rensburg

Lubbe sê Deon het beweer haar dogter het pille en drank gedrink. Daarna het hy, volgens Lubbe, beweer Karien het ’n epileptiese aanval gehad en geval.

“Dit was sy derde storie. Die verpleegster het vir my gesê haar lyf vertel ’n ander storie en dis toe dat ek die polisie bel.”

Deon is in hegtenis geneem en is einde Augustus 2019 op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Sedertdien wag Lubbe en die res van Karien se familie vir geregtigheid. Lubbe sê die saak kan nie voortgaan nie, “omdat ons steeds vir die uitslae van die lykskouing wag”.

Sy sê die familie het aanvanklik die nuus stilgehou, “maar noudat ons genesing gekry het, is ons gereed om te baklei vir geregtigheid”.

Karien het nog ’n seun wat vanjaar in matriek is.

• Netwerk24 is weens die koronavirus en gevolglike plekbeperkings nie in die hof toegelaat nie. Volgens die nasionale vervolgingsgesag wag hy nog op die uitslag van die lykskouing. Die saak is tot 24 November vir verdere ondersoek uitgestel.

Karien Janse van Rensburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.