Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Families van Denel-slagoffers wend hulle tot OB

Die openbare beskermer (OB) is gevra om klagte van wanbestuur, nalatigheid en onbevoegdheid teen die Denel Rheinmetall-wapenaanleg in Makassar en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, te ondersoek ná die noodlottige ontploffing in 2018 by dié aanleg.

Die families het ná byna twee jaar geen klarigheid oor wat presies gebeur het toe ’n deel van die Somchem-aanleg buite Somerset-Wes op 3 September 2018 ontplof het en agt mense dood is nie.

Luidens ’n brief van Sam and Nicholas Attorneys verteenwoordig hy Christine Hartzenberg, namens die oorledene Jason Hartzenberg, Wayne Haydricks namens Jamie Haydricks (oorledene), Susan Tandy namens Bradley Tandy (oorledene), Lizle Davids namens Triston Davids (oorledene), asook Shafeeqa Naidoo en Justin Isaacs namens Stevon Isaacs (oorledene).

Die prokureursfirma het op 20 Augustus die klag aan die OB gestuur. Daarin vra die firma die OB om verskeie bewerings te ondersoek omdat Gordhan nooit ’n onafhanklike ondersoek na die voorval gelas het nie. Hulle vra sy moet ondersoek waarom hy dit nie gedoen het nie en waarom hy nooit die aanleg ná die voorval besoek het nie.

Die bevindings is ook aan die families van die oorledenes verskaf.

Luidens die klag is daar op daardie dag ’n ton plofbare materiaal gemeng “wat gevolglik tot die ontploffing gelei het”. Die klaers het nou eers daarvan bewus geraak dat ’n onstabiele dryfmiddel glo getoets is, wat later gebruik is om die plofstof te meng.

Volgens hulle het hulle rede om te glo dat daar “opdrag gegee is” om die plofstof (Clear Blaster Ignites) te meng, terwyl die laboratorium dit glo nie goedgekeur het nie. Dit is na bewering een van vier plofstowwe wat daar geberg is en “teen die maatskappy se regulasies was”.

Luidens die klaers vervaardig Denel toerusting namens die staat. Hulle voer aan dit is die minister se verantwoordelikheid om toesig te hou omdat Denel ’n openbare funksie verrig. Hy het, volgens hulle, sy pligte versuim deurdat hy nie toesig gehou het nie en ook omdat hy nie redes vir die ontploffing aan die parlement gegee het nie.

Laastens het hulle die OB in kennis gestel van “ ’n skenking deur ’n barmhartige samaritaan” aan Denel wat glo gebruik is om salarisse te betaal. Hulle vermoed egter dat die skenker verbonde is aan die moedermaatskappy Rheinmetall Denel Munition (RDM).

Volgens die klaers kan dit beteken dat RDM geld gebruik om ’n staatsbeheerde maatskappy se salarisse te betaal “en ’n onafhanklike ondersoek probeer ontduik”.

Die groep vra dat die OB al die bewerings ondersoek en ook die name bekend maak van diegene wat na bewering die geld geskenk het.

Denel het bevestig hy is bewus van die klag.

Ruby Maree, woordvoerder van Denel, sê hulle het sedert die voorval alle regstappe ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid gedoen om sy interne ondersoek af te handel. Die bevindings is aan die departement van arbeid verskaf.

“Die bevindings is ook aan die families van die oorledenes verskaf,” sê sy.

Dit is ook op 23 Oktober 2019 met die media gedeel.

Sy sê die departement van arbeid se ondersoek is nog nie afgehandel nie, maar wanneer dit afgehandel is, sal die departement sy bevindings aan die nasionale vervolgingsgesag, ingevolge wetgewing, moet gee.

“Die OB moet besluit of sy ’n afsonderlike ondersoek wil doen na aanleiding van die klag,” sê sy.

Meer oor:  Ob  |  Pravin Gordhan  |  Makassar  |  Wanbestuur  |  Nalatigheid  |  Ontploffing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.