Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Feesstalletjies verklap ware stand van ekonomie
Serita Swart is met haar stalletjie Kxoxo Leather Designs vanjaar vir die eerste keer by die kunstefees. Foto: Morné du Randt
Noluthando Mkwentla en haar stalletjie Joe Gqabi District waar sy tradisionele Afrika-klere verkoop. Foto: Morné du Randt
Motaz Balabaki in sy Shawarma Wrap-kosstalletjie. Dis een van die min stalletjies waar die besoekers in ’n lang tou staan en wag om bedien te word. Foto: Morné du Randt

Wil jy regtig weet hoe gaan dit met die ekonomie? Gaan hoor dan by die stalletjiehouers by ’n groot fees soos die Grahamstad Nasionale Kunstefees hoe hulle sake doen.

Hier, tussen feitlik enigiets te koop onder die son, klink dit feitlik soos ’n refrein op: “Dit gaan nie goed met die ekonomie nie, verkope is stadig.”

Daar is wel enkele stalletjiehouers wie se voorraad feitlik uitverkoop is – in die meeste gevalle is hul artikels handgemaakte produkte wat nie sommer in die kommersiële handel verkrygbaar is nie.

Goeie waarde vir geld, veral wat lekker kos betref, bly ook ’n wenner. Een van die gewildste stalletjies by die fees, gemeet aan die lang ry hongeres, is Shawarma Wrap.

Die eienaars van dié stalletjie, Motaz Balabaki en sy vrou, Iman, sê die stalletjie is hul enigste inkomste. Dit is hul sesde jaar by die kunstefees.

By die Joe Gqabi District-stalletjie, met tradisionele Afrika-skeppings van Noluthando Mkwentla en ander vroue van Aliwal-Noord, lyk dit asof die besoekers net inloer en loop.

“Ek hoop dat die mense hierdie naweek sal kom koop, ek het al baie mense gehad wat kom kyk het, maar niemand het nog gekoop nie. Ek dink hulle kyk eers rond wat hier alles is en kom later terug,” sê Mkwentla.

Dis al die sesde jaar dat Mkwentla die handvervaardigde klere na die fees bring, maar sy is nie seker of sy volgende jaar sal terugkeer nie.

Jeff Mwazha van die Kaap hoop weer dat hy volgende jaar ’n groter stalletjie sal kan kry.

Vir die afgelope 15 jaar staan Jeff Mwazha met sy stalletjie Mixt Idea’s op dieselfde plek.

Elke jaar kom ek met nuwe goed en van die idees is idees wat my kliënte vir my gee.
Jeff Mwazha

Mwazha maak olifant-, buffel-, renoster-, springbok- en sebra-koppe uit herwinbare houers wat hy by ’n skrootwerf kry.

“Ek ontwikkel elke jaar. Elke jaar kom ek met nuwe goed en van die idees is idees wat my kliënte vir my gee,” sê Mwazha.

“Ek probeer soveel moontlik werk skep. Ons werk as ’n groep, ek leer een persoon om iets spesifiek te maak. Die een sal die houers plat maak, die ander sal die gate maak vir die draad, ’n ander sal die horings maak.”

“Ek werk met groepe van twee tot 10 mense, afhangende van hoeveel bestellings daar is. ’n Olifantkop kan tot drie weke neem om te maak.”

Serita Swart van die stalletjie Kxoxo Leather Designs is vir die eerste keer by die fees nadat ’n vriendin, Elize Breewis, haar aangemoedig het om haar unieke produkte (onder meer bokvelkussings en fotorame asook tafellopers van springbokvel) daar te verkoop.

“My grootste kliënte sal ek sê is oorsese studente en toeriste. Die fees het wel vir my baie deure oopgemaak,” sê Swart.

Breewis, wat al die 15de jaar opeenvolgens by die fees is, het al ’n gereelde kliëntebasis. “Mense leer jou ken en kom dan elke jaar terug.”

Breewis en haar man, André, (van André Leerprodukte) was voor die nasionale kunstefees by die Kirkwood-wildsfees en hul volgende stop is die Vrystaat Kunstefees.

Meer oor:  Kunstefees  |  Grahamstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.