Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ferdi Barnard oorweldig deur vrylatingsnuus

Ferdinand Barnard het Donderdagoggend eerste sy vrou, Betsie, gebel, met die nuus: Hy word op 2 April op parool vrygelaat.

Ferdi Barnard toe hy destyds voor die Waarheid- en versoeningskommissie getuig het. Foto: JOHANN VAN TONDER

Hyself was toe pas ingelig dat die minister van justisie en korrektiewe dienste, adv. Michael Masutha, sy parool, ná verskeie mislukte aansoeke en meer as 20 jaar in die tronk, goedgekeur het.

“Ferdi is oorweldig. Toe hy my vanoggend vertel, was dit asof die nuus nog nie mooi by hom ingesink het nie,” sê Betsie.

Barnard, ’n lid van die Burgerlike Samewerkingsburo (BSB) uit die apartheidsjare, is op 4 Junie 1998 twee keer tot lewenslange tronkstraf, plus 63 jaar, gevonnis, onder meer vir die sluipmoord op dr. David Webster, ’n akademikus aan die Universiteit van die Witwatersrand en anti-apartheidsaktivis, en die poging tot moord op Dullah Omar, latere minister van justisie.

Luidens ’n verklaring van die minister wat Donderdag uitgereik is, voldoen Barnard nou aan die vereistes vir parool.

Masutha het ook voor sy finale besluit met Maggie Friedman, Webster se lewensmaat, gepraat.

Hoewel sy sekere bekommernisse geopper het, het sy volgens Masutha geen beswaar teen Barnard se vrylating op parool gehad nie.

Friedman was destyds saam met Webster in ’n kar toe Barnard hom in die verbyry doodgeskiet het.

Beeld se voorblad op 2 Mei 1989 ’n dag ná die moord op David Webster.
Onthullings oor Barnard en die Burgerlike Samewerkingsburo (BSB) in Beeld, November 1992.
Barnard word twee lewenslange vonnisse opgelê. Beeld, Junie 1998.

Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder, sê Barnard kwalifiseer al ’n geruime tyd vir parool, maar daar was redes – “sommiges goed” – hoekom dit in die verlede afgekeur is.

“Ek hoop dat hy hom nou op sy oudag hom só gedra dat hy nie terug gaan tronk toe nie. Ek aanvaar dat sy paroolvoorwaardes waarskynlik streng sal wees,” sê Croucamp.

Op ’n vraag oor hoekom Barnard se paroolaansoek nou geslaag het terwyl Janusz Walus, wat reeds meer as 25 jaar in die tronk is vir die sluipmoord op Chris Hani, se paroolaansoeke telkens geweier word, sê Croucamp die sake kan nie vergelyk word nie.

“Dit wat ’n regter tydens ’n persoon se vonnisoplegging gesê het, die gevangene se gedrag in die tronk, die tipe misdaad en die slagoffers se familielede speel alles ’n rol by die besluit oor parool.

“Ek dink die houding van Webster se lewensmaat, me. Friedman, het ’n groot rol in die minister se besluit gespeel. Dit is interessant dat sy gesê het sy het nie ’n probleem met Barnard se vrylating nie,” sê Croucamp.

Hy voeg by dat Barnard eintlik al langer as die byna 21 jaar agter tralies sit omdat hy reeds ’n ruk voor vonnisoplegging in aanhouding was.

David Webster

“Hy het destyds (as lid van die BSB) opdragte uitgevoer. Daardie mense, die opdraggewers, het weggekom, is nog buite, terwyl Barnard die enigste een was wat vir die gelag betaal het.

“Daar is nog wat verdien het hom saam met hom in die tronk te wees, want hy het nie in isolasie opgetree nie,” sê Croucamp.

Barnard is destyds gevonnis vir die moorde van Webster en Mark Francis, poging tot moord op Omar en ’n destydse hoof van die Brixton moord en roof-eenheid.

Hy is ook skuldig bevind en gevonnis op aanklagte van huisbraak, bedrog, die onwettige besit van ’n vuurwapen, ammunisie en plofstof, en motordiefstal.

Masutha het Donderdag gesê Webster is “op aandrang” van die destydse “apartheidspolisie” se veiligheidstak (BSB) vermoor, wat hom as ’n terroris voorgehou het, terwyl “dr. Webster ’n pasifis was”.

Barnard het later aansoek om parool gedoen. Sy vorige poging is in 2016 geweier, onder meer omdat hy juis op parool vir ander misdrywe was toe Webster en Francis vermoor is.

Die minister wou in daardie stadium ook gehad het dat Barnard aan ’n Slagoffer/Oortreder-dialoogprogram met die slagoffers moes deelneem.

Barnard het nou aan dié vereistes voldoen, lui die minister se verklaring.

“Dit is belangrik om te besef dat dit nié die einde van mnr. Ferdinand Barnard se lewenslange vonnis beteken nie,” het Masutha bygevoeg.

“Hy is oorgeplaas na die gemeenskapskorrektiewe kantoor wat sal toesig hou en hom sal monitor terwyl hy die res van sy vonnis in die gemeenskap uitdien.”

Barnard se paroolvoorwaardes sal ook aan gereelde hersiening onderworpe wees en “kan verander, afhangende van sy gedrag”.

Betsie Barnard sê haar man is reeds voor die verklaring uitgereik is, van die minister se besluit ingelig.

“En toe bel hy (Barnard) vir my”.

Sy ken vir Barnard van voor hy destyds tronk toe is.

“Lank voor dit,” sê sy.

Hulle is in November 2007 getroud terwyl hy sy vonnis uitgedien het.

Nou is Barnard reeds in sy vroeë 60’s.

“Dit was ’n lang tyd. En ’n lang pad. Maar, as ons daardie pad kon loop, sal ons enigiets kan oorkom, so ek is vreeslik opgewonde dat hy huis toe kom,” sê Betsie.

Barnard se geskiedenis in 'n neutedop

Ferdi Barnard was eers ’n speurder van die polisie se narkotikaburo. Hy is in 1984 tot nege jaar gevangenisstraf gevonnis vir die moord op twee dwelmverslaafdes en poging tot moord op ’n derde.

Ná sy vrylating op parool in 1988 het hy by die BSB aangesluit.

Daar is vroeër berig dat die BSB aan Barnard sou gesê het dat Webster, ’n bekende antropoloog, betrokke was by “terroriste-bedrywighede”. Barnard en ’n motorbestuurder het op 1 Mei 1989 tydens ’n sluipmoordaanval in Troyeville, Johannesburg, verby die voertuig waarin Webster en Maggie Friedman was, gery en die akademikus doodgeskiet.

Die tweede moordklag waarvoor Barnard destyds ’n lewenslange vonnis opgelê is, spruit uit die moord van Mark Francis. Dié het glo begin om die bedrywighede van ’n “geheime departement” te onthul.

Barnard is blykbaar opdrag gegee om vir Francis dood te maak, maar sonder om hom te skiet.

Hy en ’n medepligtige, Eugene Riley, het die slagoffer in ’n donker stegie ingewag en met ’n bofbalkolf geslaan.

Die kolf is in die Westdene-dam gegooi.

Reilly is later dood in sy huis gevind nadat hy deur ’n venster geskiet is.

Barnard het voorts ook erken hy wou Dullah Omar, destyds ’n advokaat wat vir talle anti-apartheidsaktiviste opgetree het, doodskiet. Hy het hom in sy motorhuis ingewag, maar het van plan verander toe hy sien Omar se vrou is saam met hom.

Die ander poging tot moord was toe ’n bom onder die voertuig van ’n hoof van Brixton se moord-en-roofeenheid geplaas is omdat dié geweier het om deel van die BSB te wees.

Vir jare ná die moord op Webster was daar geen sukses met die ondersoek nie.

In 1991 is ’n taakspan van regslui aangestel om die saak te ondersoek, maar kon volgens die destydse prokureur-generaal “geen relevante feite” kry nie.

Die jaar daarna is ’n geregtelike ondersoek gehou in die hoop dat lede van die publiek met inligting na vore sou kom.

Barnard is eers daarna gearresteer.

Meer oor:  Michael Masutha  |  Ferdi Barnard  |  Tronk  |  Poging Tot Moord  |  Parool  |  Sluipmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.