Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Fietsryer trap duisende kilometer vir liefdadigheid
Grant Clark (40) het vanaf Kaïro tot Kaapstad fietsgery om geld in te samel, asook om bewustheid te skep vir Shine Literacy, ’n niewinsgewende organisasie wat daarna streef om geletterdheid by kinders van agtergeblewe gemeenskappe te bevorder. Foto: Lulama Zenzile

Altesaam 10 000 km, tien lande, en drie en ’n half maande later is die 40-jarige Grant Clark terug op eie bodem.

Dié Kapenaar het vanuit Kaïro tot in Kaapstad fietsgery om R50 000 in te samel, en om bewustheid te skep vir die Shine Literacy-sentrum in Zonnebloem, Kaapstad. Shine Literacy is ’n niewinsgewende organisasie wat daarna streef om geletterdheid by kinders van agtergeblewe gemeenskappe te bevorder.

Die fietstog was iets wat Clark al lank wou doen.

“Ek het die idee om vanaf Kaïro na Kaapstad fiets te ry vir die afgelope 15 jaar gehad. Maar ek was nog altyd ’n bietjie senuweeagtig om dit regtig aan te pak. Toe is ek verlede jaar outomaties ingeskryf vir die Cape Epic vir die jaar, omdat ek as vrywilliger daar gewerk het. Dit is glo baie moeilik om in te kom by die Epic.

“Ek het geweet dat jy baie energie en tyd vir die fietstoer moet insit. Ek het nie geweet hoe om my vir die Cape Epic voor te berei nie en die Kaïro-tot-in-Kaapstad-idee het weer by my opgekom. Dit is toe dat ek myself daaraan verbind het en ook sommer besluit het dat dít my oefening sal wees.

“Ek het intussen by Shine as vrywilliger begin werk en omdat ek so passievol oor die organisasie is, wou ek iets vir hulle doen,” vertel Clark, wat die afgelope 16 jaar in die bemarkingsbedryf werk.

Ek was fisiek en emosioneel moeg, daar was slegte paaie en my fiets het in Soedan gebreek, maar dit het merkwaardig goed afgeloop
Grant Clark

Die kranige fietsryer het verwag dat die fietstog erger sou wees.

“Dit voel ek moet goed opmaak om te vertel, want niks het met my gebeur nie. Dit was ’n eenvoudige rit. Alles wat jy verwag met jou sal gebeur wanneer jy so ’n lang fietstog aanpak, het gebeur. Ek was fisiek en emosioneel moeg, daar was slegte paaie en my fiets het in Soedan gebreek, maar dit het merkwaardig goed afgeloop.”

Vir Clark was die beste deel van die fietstog die eerste en die laaste dag.

“Die eerste dag het ek besef dat ek dit uiteindelik begin het en dat ek dit kan doen. Die ander deel is toe ek by Soedan en Egipte ingery het. Dit is ongelooflike mooi en vriendelike lande.”

Hy gee toe dat dit die eerste en die laaste keer is dat hy so iets sal aanpak.

“Ek sal wel so iets in ’n ander land wil aanpak, maar nie gou weer in Afrika nie. Nou kan ek op my sterfbed sê dat ek iets mal gedoen het,” sê Clark laggend.

Clark gaan nog aan die Cape Town Cycle Tour, Absa Cape Epic en die Ysterman-kompetisie deelneem.

Clark word toegejuig deur vrywilligers en skoolkinders van Shine Literacy. Foto: Lulama Zenzile

Meer oor:  Kaapstad  |  Duisende  |  Vir  |  Liefdadigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.