
Fifty Shades Freed word Vrydag 9 Februarie landwyd in rolprentteaters uitgereik.
Die menseregtegroep Cause for Justice (CFJ) het ’n veldtog begin teen die rolprent Fifty Shades Freed as deel van sy stryd teen seksuele mishandeling en geweld teen vroue.
Die doel van die veldtog is om die publiek bewus te maak van en in te lig oor die gevare van boodskappe wat die uitbuiting van vroue normaliseer en verromantiseer.
Fifty Shades Freed, die derde rolprent in die Fifty Shades-reeks, word Vrydag landwyd uitgereik.
CFJ sê in ’n verklaring die gruwel van die dwang, soms subtiel en onregstreeks, wat mishandelde vroue in hul verhoudings ervaar, word in die rolprent as ’n romantiese sprokie uitgebeeld. Die groep moedig alle Suid-Afrikaners aan om aktief alle vorme van dwang, mishandeling en geweld teen te staan.

Dakota Johnson en Jamie Dornan in een van die stomende tonele in Fifty Shades of Grey. Foto: Verskaf
CFJ sê hy is veral besorg oor die impak van die skadelike boodskappe wat deur die Fifty Shades-boeke en -rolprente versprei word, “op naïewe en ontvanklike skoolgaande jeug tussen die ouderdom van 16 en 18 jaar”.
Die groep sê verder die Rolprent-en-publikasieraad se ouderdomsbeperking vir die rolprent “is ’n klug”.
Luidens die verklaring word die rolprent sterk deur organisasies soos die Amerikaanse National Center on Sexual Exploitation en Fight the New Drug, ’n Amerikaanse teenpornografiegroep, gekritiseer, asook deur navorsers wat op mishandelde vroue fokus.
“Uiteindelik kan die waarheid nie ontken word nie: Fifty Shades probeer om ’n ongesonde verhouding gekenmerk deur intimidasie, manipulasie, dwang, vernedering, afbreking, aggressie, uitbuiting, mishandeling en geweld, as liefde uit te beeld.
“Hierdie wanvoorstelling van liefde staan in skrille kontras met Suid-Afrika se grondwetlike en maatskaplike ideale vir gesonde verhoudings wat deur respek, toestemming, gelykheid en menswaardigheid gekenmerk word en vry van verbale en fisieke geweld is.”
Die eerste rolprent, Fifty Shades of Grey, is op 13 Februarie 2015 uitgereik. Die tweede rolprent, Fifty Shades Darker is in Februarie 2017 uitgereik. Die rolprente was baie gewild in Suid-Afrika.