Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Flenters geplunder

Diefstal en misdaad op die spoorlyne neem krisisafmetings aan en stel die lewe van pendelaars in gevaar, berig Julian Jansen.

Jeppe-stasie Foto's Deon Raath

Van die Kaap tot in Johannesburg word die land se treinstasies stuk-stuk deur misdadigers gesloop: Vloerteëls word uitgekap, bogrondse kabels en sinjale weggedra, heinings afgetakel, vensters en deure uit mure gebreek, en die mure self tot puin gemaak.

Lank voor Covid-19 en die inperking is ’n meerderheid van Metrorail se dienste landwyd weens agteruitgang gesluit, en nou hoop die owerhede dat ’n peperduur veiligheidsplan weldra vrugte sal afwerp sodat die dienste kan hervat.

Rapport het die afgelope week talle stasies besoek op Kaapstad se hoofspoorlyn tussen Langa en Khayelitsha, waarvan tienduisende mense eens gebruik gemaak het om soggens by die werk uit te kom.

Nou is hulle van taxi’s afhanklik wat heelwat duurder is.

Veiligheidswagte by die stasies het vertel dat bendes die hef in die hand het en dat kwajongens veiligheidswagte beroof, aanrand of bloot verjaag.

Die wagte sê hulle is weerloos – ’n knuppel help niks as die booswigte met pangas en vuurwapens opruk nie.

Veral die nagskof loop deur.

Foto: Deon Raath

Bronne na aan die veiligheidsmaatskappye sê ’n vername rede vir die vandalisme op die Kaapse stasies is dat die Suid-Afrikaanse Passasierspooragentskap (Prasa) nie die veiligheidsmaatskappye betyds betaal nie.

Verlede jaar is van dié maatskappye hof toe nadat Prasa in November meer as 1 000 kontrakte vir veiligheidswagte summier beëindig het.

Dié geskil sloer steeds.

Maar die natuur haat ’n vakuum – en op stasies wat onvoldoende bewaak is, beweeg vandale en plakkers in.

Op die Langa-stasie het besetters plakkershutte op en tussen die spoorlyne opgeslaan. ’n Vrou hier sê sy het uit die “oorvol” Dunoon-plakkerskamp naby Milnerton verhuis in die hoop dat die owerhede haar later alternatiewe behuising sal gee.

Foto: Deon Raath

By talle stasies hang beskadigde bo­grondse kabels van die maste. Talle maste is afgesaag.

Op die Netreg-stasie is van die geboue net murasies oor. Kaartjieskantore is óf uitgebrand óf die bakstene uitgekap.

Metaalpype is uit mure verwyder, relings afgesaag en vensterrame verwyder.

Rapport het ’n groepie kinders gesien wat ywerig aan ’n ysterheining saag.

’n Inwoner sê die stasie is “moer toe gestroop”.

Die aftakeling duur al maande.

“As jy die polisie bel, ry die vêns net verby,” sê hy. Anderkant die spoorlyn sien hy hoe mense met afgesaagde skroot oor hul skouers tussen die huise verdwyn.

Kliptown-stasie (Gauteng) Foto: Twitter

’n Verbyganger sê hy was verlede Sondag in die kerk en toe hy weer buite kom, was ’n stuk heining net weg.

Hy skud sy kop in ongeloof.

By die Nyanga-stasie is bogrondse en ondergrondse kabels verwyder en die spoorinfrastruktuur meestal gestroop. So ook op die ewe verlate Nolungile-stasie in Khayelitsha.

Metrorail se Wes-Kaapse woordvoerder, Riana Scott, sê die uitdagings is groot. Tydens die inperking is metaalhekke, deure, teëls, kantoortoerusting en wasbakke voor die voet gesteel.

Tans loop die treine net op twee spoorlyne: van Kaapstad na Vishoek, en van Kaapstad na Heathfield op die Kaapse Vlakte.

Die suidelike en Kaapse Vlakte-lyn; die noordelike lyn (Strand na Worcester oor Somerset-Wes, Stellenbosch en Malmesbury) en die sentrale lyn (Bishop Lavis oor Khayelitsha na Kapteinsklip) is almal gesluit. By laasgenoemde lyn is dit chaos, sê Scott.

Bonteheuwel (Wes-Kaap)

Stasies word ook op die noordelike spoorlyn deur booswigte geteiken, veral Firgrove, Goodwood en Parow.

“Veselkabels is afgesny voordat die vandale agtergekom het dat dit geen skrootwaarde het nie, maar toe is die skade reeds gedoen,” sê Scott.

Dienste op die spoorlyn tussen Kaapstad en Khayelitsha oor Kapteinsklip en Lavistown bly opgehef totdat die herstelwerk voltooi is. ’n “Modernisering” word beplan. “Om net die drie sentrale lyne te herstel, sal nagenoeg R1,2 miljard kos,” sê Scott. “Dit sluit die bou van mure in om kritieke gebiede om die nuutgeboude infrastruktuur te beskerm.”

Daar is egter suksesse, sê Scott: 432 oortreders is in hegtenis geneem, van wie 31 suksesvol vervolg en gevangenisstraf van altesame meer as 370 jaar opgelê is.

Die langste vonnisse was 30 jaar.

“Die oortreders is hoofsaaklik die voetsoldate van die ‘breins’ agter die sindikate en weens die hoë werkloosheid is daar ’n oneindige voorraad van ongelukkige individue, gedrewe deur dwelmverslawing, bende-affiliasie, en armoede, om hulle te vervang.”

Langa-stasie Foto: Edrea du Toit

Nog nie ’n enkele skrootwerf – die eindbestemmings van gesteelde skroot – is egter al gesluit nie en die uitvoer van skrootmetaal gaan ongehinderd voort.

J.P. Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit in die Kaapse stadsraad, sê daar is deesdae ’n besliste toename in aanvalle op spoorinfrastruktuur in die Kaap, ondanks ’n nuwe wysigingswet wat strenger vonnisse voorgeskryf het vir diegene wat noodsaaklike infrastruktuur beskadig, en ondanks die verbete pogings van die stad se kabeldiefstaleenheid, die “koperkoppe”, wat in 2007 gestig is.

In Gauteng gaan dit ewe beroerd.

Lillian Mofokeng, woordvoerder vir Metrorail in Johannesburg, sê die sluikhandel in koper en staal vereis dat Prasa geld en energie wat gebruik sou word om die spoorstelsel te verbeter, alles moet belê in pogings om die skade te herstel en veiligheid te verhoog.

Misdaadkrisis

Wat doen die spoorversterkingseenheid, ’n projek deur die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke, Prasa en die Kaapse stadsraad, om die misdaadkrisis te takel?

In die jaar tot 30 Junie is?.?.?.

* 37 000 individue voorgekeer en deursoek;

*  4 000 patrollies gedoen by brandpunte;

*  424 verdagtes aangekeer;

*  2 000 m gesteelde koper- en aluminiumkabels herwin;

*  4 107 inspeksies van brandpunte en skrootwerwe gedoen; en

*  talle gevaarlike wapens en vervalste treinkaartjies gekonfiskeer.

Pendelaars trek aan die kortste ent.

Sy sê dit is ’n nagmerrie om Gauteng se 218 stasies en haltes en die spoorlyn van 1 380 km te bewaak – én peperduur.

Mofokeng sê gemeenskappe kan help deur misdadigheid dadelik aan te meld.

Soms is daar deurbrake: Prasa se interne intelligensiedienste, met behulp van wetstoepassers en die polisie, het onlangs beslag gelê op gesteelde materiaal by verskeie skrootwerwe.

Kabels ter waarde van R20 miljoen is by ’n huis in Heidelberg en in Garankuwa gekonfiskeer.

Treindienste hervat stuk-stuk; op 1 Julie het ’n diens tussen Pienaarspoort en Pretoria met diesellokomotiewe hervat en beperkte dienste is ook begin na Johannesburg vanaf Leralla en Naledi.

Metrorail het ook kragtens die minister van vervoer, Fikile Mbalula, se nuut aangekondigde geïntegreerde veiligheidsplan 200 veiligheidswagte in Gauteng aangestel. Mbalula het op 16 September dié plan bekend gestel.

Private veiligheidsdienste het Metrorail in die vorige boekjaar (2018-’19) sowat R700 miljoen gekos. Mbalula sê dit het nie gewerk nie. Die nuwe strategie is om die SAPD, Valke, nasionale vervolgingsgesag, metropolisie en die spoorwegveiligheidsreguleerder almal te betrek.

Mbalula sê die misdaad op die spoorlyne neem krisisafmetings aan en stel die lewe van pendelaars in gevaar.

Die ekonomiese koste is onberekenbaar – en dít terwyl geen modernisering van die spoordiens kan plaasvind nie, wat die koste tot diep in die toekoms uitstel.

Die armstes ly die meeste, want hulle word gedwing om duurder taxi’s en busse te gebruik.

Mbalula sê die nuwe veiligheidsplan, wat pas in Augustus ingestel is, het reeds sukses behaal: Ses mans is betrap met koperkabels en sinjaaltoerusting ter waarde van meer as R5,5 miljoen. Inhegtenisnemings is aan’t toeneem.

Mbalula glo dié ingrypings “sal sindikate se rug breek”.

Die sigbaarheid van polisie gaan ook op brandpunte verhoog word. Meer aandag sal ook aan die skrootwerfbedryf en handelaars in tweedehandse ware, sowel as die gepaardgaande onwettige mark, gegee word.

Onlangs is twee voormalige Prasa-werknemers vasgetrek met spoorwegtoerusting van meer as R2 miljoen.

Meer oor:  Fikile Mbalula  |  Vandalisme  |  Metrorail  |  Spoorwegstasies  |  Treinstasies  |  Prasa  |  Misdaad  |  Veiligheidsplan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.