Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Foeta Krige skryf oor sy woede oor Suna se dood
Foeta Krige, uitvoerende vervaardiger by RSG.Foto: Felix Dlangamandla/Argief

"Ek is kwaad oor Suna Venter se dood en ek is nog steeds kwaad en wag nog steeds. Jy verdien meer," skryf Foeta Krige in ’n brief aan Venter.

Krige se brief het oorspronklik op HuffPost SA verskyn.

***

Een van die dinge wat jy my in die lewe geleer het, is dat ’n mens nooit moet praat of skryf wanneer jy kwaad of emosioneel is nie. So ek het gewag.

Ek het nie iets op Facebook gepubliseer nie. Ek het nie getwiet of gehertwiet nie. Ek het probeer om al die huldeblyke oor jou te lees, die lofbetuiginge en die koerantberigte.

Maar die woede het nie weggegaan nie. So ek het gewag.

Jou familie het my gevra om iets by jou dankdiens te sê, maar ek het geweet ek gaan nie in staat wees om oor jou liefde en barmhartigheid te praat as die woede nog daar is nie.

Dit is vier dae later, maar die woede is nog steeds aan die kook. So ek het besluit om eerder oor my woede te skryf.

Ek is kwaad vir elke liewe SAUK-werknemer wat deel was van Hlaudi Motsoeneng se stille oornamekomplot.

Ek is kwaad vir elke bang personeellid by menslike hulpbronne wat hul rug op onwettige

of nieprosessuele aanstellings en afdankings gedraai het.

Ek is kwaad vir elke bewindvoerder by die regs- en finansiële departemente wat in hul ontwerpersklere en luukse motors elke oggend laat by die werk aangekom het en weer vroeg geloop het met net een doel: Om deur die dag se werk te kom sonder om verantwoordelikheid te aanvaar vir wat by die openbare uitsaaier gebeur.

Ek is kwaad vir mense wat geweet het wat die finansiële toestand van die SAUK is en gehelp het om finansiële state te kook en sonder om iets te sê, gekyk het hoe die topbestuur en die vorige raad vir die parlement en Suid-Afrikaners op verskeie geleenthede gelieg het.

Foeta Krige, uitvoerende vervaardiger by RSG, en Suna Venter, joernalis en een van die SAUK-8 – sy is verlede Donderdag dood in haar huis aangetref. Foto: Felix Dlangamandla/Argief

Ek is kwaad vir wit kollegas wat hul ervaring van ’n wit en bevoorregte SAUK gebruik het om deel van die “nuwe” SAUK te word en gelieg het om die man weer aan te stel wat verantwoordelik is vir die toestand waarin ons is. Wit, middeljarige mans met net een doel: om so veel as moontlik pensioengeld bymekaar te maak en elke tweede jaar ’n nuwe wit Mercedes-Benz te koop – mans met kankeragtige liggame wat teruggekeer het van aftrede as adviseurs met uitbundige pakkette om ’n ongeletterde narsissis met ’n Godskompleks te adviseer wat die SAUK laat leeg bloei het in die naam van transformasie en opheffing.

Ek ken hierdie mans al van voor 1994. Hulle het op Sondae kerk toe gegaan en hulle het nooit ’n wedstryd van die Blou Bulle by Loftus of ontkleeklubs oor etensure gemis nie.

Hulle weet wie hulle is. Hulle uiter rassistiese en seksistiese aanmerkings wanneer hulle met wit vriende by koffietafels praat terwyl hulle die gatte van hul gewetenlose base lek. Hulle dank elke persoon af wat ’n struikelblok in die pad van sogenaamde transformasie is, verloor elke bemiddelingsaak en pak dan die skuld op hul “swart base”.

Maar ek is ook kwaad vir al die politici: Ons verkose leiers wat nie kon en kan wag om die openbare podium te gebruik om hul skok en afgryse te deel oor dit wat by die openbare uitsaaier gebeur nie, en oor dit wat met jou gebeur het nie, wat nou aandring op polisiebeskerming vir joernaliste in gevaar en wat net wag vir die volgende geleentheid om ’n sexy mediaverklaring uit te stuur om te wys hoe baie hulle omgee. Polisieministers wat alles vir die publiek en Twitter-aanhangers doen deur woorde te gebruik en beloftes te maak wat hul beeldpoetsers skryf sonder om dit te glo en sonder die bedoeling om op te tree. Ek is kwaad vir die leë beloftes en valse kommer.

Ek is kwaad vir polisiebeamptes.

Die polisiebeamptes wat saaknommers bymekaar gemaak het van elke liewe doodsdreigement, daad van geweld en van intimidasie, net om dit in een groot lêer saam te sit om hul lynhoofde te wys dat hulle hul werk doen.

Daardie polisiebeamptes wat nie jou verklarings wou aanvaar nie, wat jou verbaal beledig het – ’n vrou in nood en angs – en jou dan daarvan beskuldig het dat jy jou motor met pap bande bestuur. Vier motorbande was inderdaad stukkend gesny.

Foeta Krige, Thandeka Gqubule, Suna Venter en Jacques Steenkamp, vier lede van die SAUK-8, staan verlede jaar voor die konstitusionele hof met ’n betoging teen besluite wat by die SAUK geneem is. Foto: Claudi Mailovich/Argief

Die polisieman wat sy rug op jou gedraai het en weggeloop het omdat hy geglo het die koeëlwonde aan jou gesig is die gevolg van gesinsgeweld, al het jy alleen gebly.

En nou is jy dood.

Ek het jou gevra om ’n boek oor jou ervaringe te skryf. Ek het gedink dit sal goeie terapie wees terwyl jy wag vir die wiel om te draai. Jy het vir my die eerste drie hoofstukke van die boek gestuur. Jy het gesê die boek se naam moet Rudely Interrupted wees. Hoofstuk een begin met dié sin: “They couldn’t look me in the eye . . .”

Ek is kwaad vir hulle. Daardie mense wat jou nie in die oë kon kyk nie, diegene wat jou gevra het om nie ’n bohaai te maak nie en dié wat jou ’n kwartier gegee het om die perseel van die plek te verlaat wat jy so lief gehad het.

Ek is kwaad vir die lynbestuurders wat elke liewe e-pos geïgnoreer het wat ek oor jou veiligheid geskryf het. Ek is kwaad vir die informante in die kantoor wat inligting aan die hanteerders gevoer het en dit dan vir die intimideerders gegee het. Die woordvoerders wat die magtige platform van die SAUK gebruik het om jou te verkleineer, wat gesê het die doodsdreigemente teen jou is ’n polisiesaak en nie die probleem van die korporasie nie.

Daar is mense wat hulleself konsultante by menslike hulpbronne noem. Hulle het jou geïgnoreer toe jy vir raad oor jou gesondheid gevra het.

En nou is jy dood.

En nou stuur dieselfde mense mediaverklarings uit wat jou lewe prys en die dood betreur van ’n fantastiese joernalis wat ’n bate vir die uitsaaier was.

En omdat ons in die stelsel geglo het, het ons geduldig gewag vir die reg om sy gang te gang. Ons wag steeds.

En ja, ek is kwaad vir myself dat ek jou oortuig het om in die stelsel te glo is die regte ding om te doen.

Jy het iets ’n paar dae voordat jy gesterf het, op Facebook geskryf: “Some people were for it and said it out loud and clear; some people were against it and made it clearly known, and some people said nothing at all. It is this group I struggle hardest to forgive.”

Ek is ook kwaad vir daardie mense – die kollegas wat bang was, wat in die hysbakke en rookkamers en raserige hoekies oor al die voortslepende ongeregtighede gefluister het. Dit alles terwyl hulle verlam was van vrees vir die denkbeeldige versteekte mikrofone en spioene in ons midde. Mense wat gedink het jy doen dit vir aandag, kwaadpraters en sogenaamde joernaliste wat nie kon wag om stories en gerugte sonder feite te versprei nie.

Jy het meer verdien. Ek wag steeds. Ek is steeds kwaad.

* Foeta Krige is die uitvoerende vervaardiger van die nuus- en aktualiteitsprogramme Monitor en Spektrum op RSG. Hy was een van die SAUK-8 wat die SAUK in 2016 geskors het. Hy was ook Venter se lynhoof.

Meer oor:  Suna Venter  |  Foeta Krige
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.