Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Fokofpolisiekar dóén met ’n miljoen
Fokofpolisiekar het Dinsdag die R1 miljoen-kerf oorskry met sy skarefinansieringsveldtog op Thundafund.com

Die rockgroep Fokofpolisiekar het Dinsdag die R1 miljoen-kerf oorskry met skarefinansiering om geld in te samel om ’n nuwe album op te neem.

Hulle het gehoop om R500 000 in te samel en het dié teiken in ’n rekordtyd van nege dae behaal. Boonop is R1 miljoen die grootste bedrag wat tot nog toe op Thundafund ingesamel is. Daar is nog vier dae van die veldtog oor. Die musiekgroep het dus twee Suid-Afrikaanse rekords vir skarefinansiering opgestel.

“Die mikpunt vir skarefinansiering in Suid-Afrika het ’n nuwe hoogtepunt bereik, en die naam daarvan is Fokofpolisiekar!” sê Patrick Schofield, uitvoerende direkteur van Thundafund.

“Die druk is nou op ons om iets spesiaals te maak,” sê Francois van Coke, die groep se hoofsanger, oor hul eerste nuwe album in 11 jaar. “Daardie soort druk gee ’n goeie energie.”

Wynand Myburgh, die groep se baskitaarspeler en bestuurder, sê elke mylpaal in die skarefinansiering het hulle nog meer gemotiveer vir die skryf van die album.

“Ons is definitief verstom deur die reaksie,” sê Van Coke. “Ons het gedink ’n halfmiljoen is reeds far-fetched.”

Die album, wat op 3 Oktober 2017 uitgereik sal word, het nog nie ’n titel nie, maar 11 liedjies is reeds voorlopig geskryf.

Volgens Myburgh is die liedjies introspektief en dit is asof Hunter Kennedy, die groep se liedjieskrywer, “stukkies van ons gedagtes in woorde omsit”. Van Coke sê die klank van die album is uiteenlopend met ’n groot invloed van hul jong dae in die vroeë 2000’s.

Die voorlopige titels van 11 van Fokofpolisiekar se nuwe liedjies op die album. Foto: Instagram/Fokofpolisiekar

“Iets wat baie uitkom is dat dit 90’s klink,” sê Myburgh. “Ons sê gereeld iets klink soos Cranberries, of Pixies, of Nirvana of grunge.”

Van Coke sê die musiek van die 1990’s het ’n groot invloed op hul hoërskooldae gehad.

Die meeste van die R1 miljoen om die album te vervaardig, is ingesamel met die verkoop van verskeie versamelitems op Thundafund, en ’n baie klein bedrag met albumverkope. Slegs ’n duisend eksemplare van die nuwe album – in verskeie formate – is verkoop.

“Dis ’n teken van die toestand waarin die musiekbedryf in die wêreld is,” sê Myburgh. “Mense is sulke groot aanhangers van kunstenaars dat hulle hul kitare sal koop of hul handelsnaam sal ondersteun. Maar hulle weet hulle kan die musiek op ander maniere in die hande kry. Iemand sal eerder sy vermaakbegroting aan ’n vertoning of T-hemp bestee as aan ’n album.”

Hy sê die R1 miljoen is nie genoeg om ’n dubbelalbum of ’n tweede album te finansier nie. “Dit is nie ’n ware weerspieëling van ons geld nie. Die koste van die handelsware wat ons in die veldtog verkoop het, moet nog daarvan afgetrek word en daar is nog baie berekeninge om te maak.”

Hy sê dit lyk tog of Fokofpolisiekar ’n wins sal maak uit die verkope van die nuwe album.

As deel van die skarefinansieringsveldtog het die groep belowe om gratis in Kaapstad op te tree as hulle R700 000 insamel, en ook in Gauteng as hulle R800 000 insamel.

Die gratis Kaapse vertoning word op 25 Mei in Mercury Live in die stadskom gehou.

Meer oor:  Francois Van Coke  |  Album  |  Miljoen  |  Fokofpolisiekar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.