Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ford-klagtes strek verder as Kuga’
’n Ford Kuga wat in November verlede jaar in Randburg aan die brand geslaan het. Foto: Argief

’n “Magdom” klagtes wat by die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) ingestroom het nadat Ford sy 1.6 Ford Kuga Ecoboost herroep het, dui op meer as net ’n probleem met een soort voertuig.

Trevor Hattingh, woordvoerder van die NVK, het Sondag gesê verbruikers het nie net oor die 1.6 Ford Kuga Ecoboost klagtes ingedien nie.

“Wat ons aanvanklik in die media gesien het, was die kwessie met die 1.6 Ecoboost. Maar wat ons nou sien, is ’n veel groter prentjie met die magdom klagtes wat na ons toe inkom,” het Hattingh Sondag by navraag gesê.

Ford het verlede Maandag ná druk van die NVK 4 556 Kuga’s vrywillig herroep wat tussen Desember van 2012 en Februarie 2014 vervaardig is. Al die voertuie wat herroep is, is by Ford se aanleg in Valencia, Spanje, aanmekaargesit voordat dit na Suid-Afrika uitgevoer is.

Een mens, Reshall Jimmy, is dood en minstens 47 motors het uitgebrand sedert Desember 2015.

Hattingh kon nie Sondag presies sê hoeveel klagtes die afgelope week ontvang is nie. Hy kon bloot sê daar was baie en verskillende soorte klagtes. Hy sê die meeste van die klagtes wat al oor die Ford-voertuie ontvang is, handel oor voertuie wat uitgebrand het.

“Daar is mense wat sê hulle wil nie meer hierdie voertuie hê nie. Hulle kla oor die waarde van die kar en handelaars wys hulle weg.”

Hy sê die afdwingings- en ondersoekeenheid van die kommissie het ’n assessering van die klagtes gedoen. Die voorstelle wat die eenheid gemaak het oor die klagtes sal vandeesweek aan die kommissaris van die kommissie voorgelê word vir goedkeuring.

Volgens Hattingh gaan die voorstelle nie oor wat Ford moet doen nie, maar eerder hoe die kommissie die wet in hierdie geval gaan toepas om verligting vir verbruikers te bring.

Hy sê uit die nadraai van die mediakonferensie verlede Maandag besef die NVK daar is baie goed wat hy nie van die saak geweet het nie.

Ek sal meer daaroor kan sê sodra ons weet wat gebeur het
Jeff Nemeth

Volgens Hattingh het die kommissie ook klagtes ontvang oor die 1.6 Kuga 2015-model wat aan die brand geslaan het.

“Daar is ander modelle, nie net die Ecoboost nie, wat ook aan die brand geslaan het. Hierdie is dinge wat nie onder ons aandag gebring is nie,” sê Hattingh.

Hy sê hy is nie seker of die verbruikers wat direk na hulle toe gekom het met hul klagtes, dit ook by Ford aangemeld het nie.

“Die enigste raad wat ek in dié stadium vir verbruikers kan gee, is om hierdie sake onder ons aandag te bring, ongeag wat jou probleem nou met Ford is. Ons weet nie alles wat daar aangaan nie.”

Jeff Nemeth, uitvoerende hoof van Ford Suid-Afrika, het in ’n onderhoud met Rapport wat Sondag publiseer is, gesê dat die uitbrand van ’n Kuga 2.5 en ’n nuwe Kuga 1.5 Ecoboost ondersoek gaan word.

“Ek sal meer daaroor kan sê sodra ons weet wat gebeur het,” het Nemeth aan Rapport gesê.

Die Wet op Verbruikersbeskerming maak dit oor aanspreeklikheid vir skade baie duidelik dat “ ’n vervaardiger of invoerder, verspreider of handelaar van enige goedere aanspreeklik is vir enige skade wat volledig of gedeeltelik veroorsaak is as ’n gevolg van; a) onveilige goedere wat verskaf is en b) ’n mislukte produk, defek of gevaar van enige goedere.”

Meer oor:  Ford  |  Motors  |  Kuga  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.