Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Forensiese dienste in SA op rand van ineenstorting

Die forensiese afdeling van die polisie wankel op die rand van ineenstorting weens ’n gebrek aan geld én onvoldoende toerusting om DNS-toetse te doen.

Dít het reeds daartoe gelei dat meer as 10 000 sake van seksuele oortredings feitlik stilstaan omdat dié laboratorium so ver agterstallig is met die uitvoer van DNS-toetse.

Dit kan daartoe lei dat gewoontemisdadigers deur howe vrygelaat word én dat pres. Cyril Ramaphosa se verskerpte veldtog teen geslagsgeweld ontspoor.

Dié toestand van die polisie se forensiese dienste word verwoord in ’n verdoemende verslag wat die uittredende direksie van die Nasionale Forensiese Toesighoudende en Etiekraad (NFTER) Woensdag aan die portefeuljekomitee oor polisie voorgelê het.

Tina Joemat-Pettersson
Tina Joemat-Pettersson Foto: Nasief Manie

LP’s was so ontsteld daaroor dat Tina Joemat-Pettersson, komiteevoorsitter, gesê het Bheki Cele, minister van polisie, en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, gaan binnekort na die komitee ontbied word om antwoorde te verskaf.

Regter Yvonne Mokgoro, voorsitter van die uittredende direksie van die NFTER en afgetrede regter van die konstitusionele hof, skryf in die opsomming van die verslag die nasionale forensiese wetenskaplike laboratorium voel die uitwerking van die besnoeiing van finansiering én ’n gebrek aan die nodige toerusting.

Dit lei daartoe dat die laboratorium nie net aansienlik minder monsters ontvang nie, maar ook sukkel om die beperkte getal monsters wat hy wel ontvang, te verwerk.

Sy skryf hoewel die raad verskeie kere probeer ingryp het, kon ’n volhoubare oplossing steeds nie gevind word vir die verkryging van DNS-reageermiddels, verbruiksgoedere en die instandhouding van instrumente nie.

“Verder word die president se vyfpunt-noodplan, wat in September verlede jaar geïmplementeer is om geslagsgeweld te beveg en wat moet verseker dat geslagsgeweld-verwante sake geprioritiseer word, ook ondermyn.

“Dit gebeur omdat daar tans meer as 10 000 sake van seksuele oortreding van ouer as 35 dae is wat nie ontleed kan word nie omdat daar nie DNS-reageermiddels en verbruiksgoedere beskikbaar is nie.

“Derhalwe word baie reeks- en veelvoudige oortreders vrygelaat deur die howe weens DNS-verslae wat uitstaande bly nadat die saak al verskeie kere uitgestel moes word.”

Mokgoro skryf verder die laboratorium se situasie sal waarskynlik vererger weens die finansiële beperkings van die Covid-19-pandemie.

Die chemiese middels word oorsee aangekoop en wisselvallige wisselkoerse maak die bekostigbaarheid daarvan vorentoe ’n ware bron van kommer.

Die voortbestaan van die nasionale forensiese DNS-databasis (NFDD) word bedreig en sou dit in duie stort, sal dit ’n fasiliteit van wêreldgehalte in onbruik laat.

Die polisie moet dringend die begroting van sy forensiese dienste verhoog.

“Die voortbestaan van die nasionale forensiese DNS-databasis (NFDD) word bedreig en sou dit in duie stort, sal dit ’n fasiliteit van wêreldgehalte in onbruik laat. Dit sal ’n knou wees vir die sterk verbeterde veldtog teen misdaad in Suid-Afrika.

“Dit is veral belangrik in ’n land met sulke hoë vlakke van geweldsmisdaad, seksverwante misdade en herhaalde oortredings.

“ ’n NFDD wat optimaal funksioneer, is ’n uitstekende hulpmiddel in die hande van wetstoepassers om strafregtelike ondersoeke te verbeter en daarom moet al die moontlike gedoen word om te verseker dat dit ondersteun word,” skryf Mokgoro.

Nadat LP’s hul ontevredenheid oor bogenoemde uitgespreek het, het Joemat-Pettersson namens die komitee gesê die DNS-kwessie is “ ’n ramp”.

“Ons kan nie toelaat dat dit so aangaan nie. Ons moet die eenheid aanspreeklik hou.

“Die inligting wat ons vandag gekry het, is uiters onaanvaarbaar”.

Dr. Guy Lamb, polisiekenner en politieke ontleder by die Universiteit Stellenbosch, het gesê die NFTER se kommer moet “baie ernstig” opgeneem word, veral omdat die polisie se forensiese afdeling al jare lank probleme ondervind.

“Dit is die een afdeling wat verwaarloos is. As jy egter wil vorder teen ernstige geweldsmisdade, veral seksuele oortredings, moet jy in forensiese en DNS-dienste belê.”

Daar is in veral verkragtingsake dikwels nie getuies nie en daar moet op forensiese of DNS-getuienis staatgemaak word.

Hy meen dié afdeling moet dringend reggeruk word as die strafregstelsel geslagsgeweld suksesvol wil vervolg, soos wat deur Ramaphosa geprioritiseer is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.