Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Forensiese ontleder geskors ná vrae oor bloedmonsters

Die nasionale departement van gesondheid het een van sy forensiese ontleders in Pretoria weens moontlike bedrog en ander strafregtelike oortredings geskors.

Joe Maila, die departement se woordvoerder, het Vrydag in ’n mediaverklaring gesê die skorsing is voorlopig, hangende die ondersoek, en die amptenaar sal steeds sy volle salaris ontvang.

Die departement het die saak aan die Valke en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) oorhandig omdat forensiese laboratoriums ’n belangrike rol in die strafregstelsel speel.

Die amptenaar het na bewering nie die streng en behoorlike bedryfsprotokol gevolg wat vereis word wanneer bloedmonsters ontleed word nie.

Die werk wat daar gedoen word, is ontsettend belangrik vir die strafregstelsel, die versekeringsbedryf en die gesondheid van die land in sy geheel

Luidens die verklaring is dié beweerde oortredings opgemerk toe senior amptenare ’n roetine-inspeksie gedoen het by die forensiese laboratorium in Pretoria waar hy werk.

Die laboratorium doen onder meer toetse op bloed om alkohol of gif daarin te vind en ontleed kos. Daar is nog drie ander laboratoriums in die land wat hierdie toetse doen: in Kaapstad, Durban en Johannesburg.

“Die werk wat daar gedoen word, is ontsettend belangrik vir die strafregstelsel, die versekeringsbedryf en die gesondheid van die land in sy geheel,” sê Maila.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het luidens die verklaring so op die bewerings teen die ontleder gereageer: “Ons stel die werk van forensiese laboratoriumdienste hoog op prys en verwag daarom niks minder nie as professionaliteit, hoë etiese standaarde en absolute eerlikheid.

“Enige verbreking van die streng protokol en prosedures in so ’n sensitiewe bedryf word met erns bejeën en sal nie geduld word nie. Dis onaanvaarbaar.”

Die departement van gesondheid het die polisie versoek om vinnig werk te maak van hul ondersoek na die bewerings.

Meer oor:  Geskors  |  Bloed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.