
Koos van Zyl, voormalige bemarkingsbestuurder van 'Die Burger'. Foto: Verskaf
Die “eerlike, intelligente en uiters beginselvaste” koerantman Koos van Zyl (88) – wat 40 jaar lank in die Afrikaanse koerantwese gewerk het – is Dinsdag ná ’n kort siekte dood.
Hy is in sy huis in Kusweg in die Strand dood, het sy jongste seun, Cobus, gesê.
Van Zyl het ’n hartkwaal gehad en kanker is ook by hom gediagnoseer. “Dit (die oorsaak van sy dood) was maar natuurlike oorsake.”
Hy sê die familie is verlig dat hy by die huis kon wees en nie in ’n hospitaal, waar Covid-19-protokolle saamwees vir hulle bemoeilik nie.
Van Zyl het in 1953 by Die Volksblad in Bloemfontein in die sirkulasieafdeling begin werk, het Cobus gesê.
“In 1974 is hy aangestel as verspreidingsbestuurder en hy was een van die stigterslede wat Nasionale Nuus Distribueerders in die destydse Transvaal begin het om Beeld in dieselfde jaar as ’n dagblad te vestig.
Van Zyl het hom in 1977 by Die Burger as bemarkings- en-sirkulasiebestuurder aangesluit. “Tydens sy loopbaan het hy vele mylpale bereik en hom as ’n bemarkingsghoeroe gevestig, aldus Pieter Spaarwater in die rubriek 'Van alle kante' in 1993,” het Cobus gesê.
Hy het in 1994 afgetree ná langer as 40 jaar se diens, en van Welgemoed na die Strand verhuis.
Hy laat sy eggenote van 64 jaar, Leviena (82), en drie seuns, Heber, Hendrik en Cobus, agter. Heber en Cobus het ook later loopbane in die pers gevolg.
“My pa het sy hele lewe en tot die einde as ’n eerlike, intelligente en uiters beginselvaste perfeksionis uitgestaan. Hy was ’n formidabele sportman en ’n rotsvaste familieman.”

Koos van Zyl en sy kollegas wat die span uitgemaak het wat 'Die Oosterlig' in 1993 by 'Die Burger' as 'Die Burger Oos-Kaap' ingelyf het. Van links is Abraham van Zyl, Jan van der Merwe, Andries Drury, Jean le Roux, Jonathan Crowther, Innes van Eeden en Van Zyl. Foto: Verskaf