Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Fortuinsoekers na KZN: Dié ‘diamante’ dalk net skyn
vals diamante, ladysmith
Twee vrouens stap met 'n graaf en pik verby 'n man wat reeds 'n gat gegrawe het op soek na die ''diamante''. Foto: Reuters

Duisende fortuinsoekers het na KwaZulu-Natal gestroom met die hoop om hul hande te lê op “diamante” wat onlangs daar gevind is.

Skares mense sonder maskers is Dinsdag opgemerk waar hulle op die KwaHlathi-gebied buite Ladysmith toesak op soek na die kosbare klippies.

Twee fortuinsoekers wys die stene wat hulle opgetel het. Foto: Verskaf

’n Geoloog sê egter dat die “diamante” waarskynlik kwarts is wat van die Drakensberge af kom.

Netwerk24 het by ’n betroubare bron verneem die klippies is verlede week op stamgrond gevind toe veldwagters na diere gaan omsien het.

Die stamhoof wou nie met die media praat nie.

Die departement van minerale bronne en energie, asook die KwaZulu-Natalse departement van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake, het Dinsdag die gebied besoek om die gesteentes te analiseer.

Luidens ’n gesamentlike verklaring sal die uitslae binne die volgende 30 dae beskikbaar wees.

“Soos verwag, het die nuus oor die stene daartoe gelei dat mense na die gebied gestroom het. Ons is bekommerd oor die bedreiging wat dit vir die gesondheid en veiligheid van die mense kan inhou. Dit is ook kommerwekkend dat Covid-19-regulasies nie nagekom word nie. Daarom doen ons ’n beroep op lede van die publiek om nie na die gebied te gaan nie. Ons vra mense op die perseel om te gaan totdat alle prosesse afgehandel is,” lui die verklaring.

Honderde mense is Dinsdag afgeneem terwyl hulle na die ‘diamante’ soek. Daar word beraam dat daar nou meer as 2 000 mense in die gebied is. Foto: Verskaf
vals diamante, ladysmith
Fortuisoekers het op die KwaHlathi-gemeensdkap buite Ladysmith in KwaZulu-Natal toegesak op soek na ''diamante''. Foto: Reuters

Bheki Mbanjwa, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse departement van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake, sê daar is tans meer as 2 000 mense in die gebied.

Die polisie het bevestig hulle is op die toneel om die situasie te monitor.

’n Vrou wys die handvol ‘diamante’ wat sy opgetel het. Foto: Verskaf

Dr. Herman van Niekerk, ’n geoloog verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, sê dit is hoogs onwaarskynlik dat die klippies wel diamante is.

Hy meen dit kan kwarts wees wat in die holtes van die Drakensberge gevorm het.

“Kwarts is hard soos diamante en dit kon byvoorbeeld in riviere afgevloei het,” sê Van Niekerk.

Hy sê as dit wel diamante is, het dit waarskynlik uit Lesotho met riviere afgespoel na die gebied.

“Maar ek glo nie dit is die geval nie. As dit diamante is, moet mense ’n lisensie hê om dit te besit,” sê Van Niekerk.

Hy voeg by dat kwarts nie ’n groot geldwaarde het nie en dat die fortuinsoekers waarskynlik teleurgesteld gaan wees.

Die departement van gesondheid het nie op navrae gereageer nie oor die massa mense sonder maskers wat daar saamtrek sonder dat die nodige afstande gehandhaaf word.

vals diamante, ladysmith
'n Vrou kyk na die grond wat sy uitgegrawe het om te sien of daar nie 'n blink klippie is nie. Foto: Reuters
Meer oor:  Ladysmith
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.