
Anisa, Landi Groenewald se Arabierperd, is Donderdag in Lesotho opgespoor. Groenewald en haar pa, Johan, het haar en Ginger, haar ander perd, Vrydag gaan haal.
Hoewel een van haar perde ernstig in Lesotho beseer is, is die Kaapse fotograaf Landi Groenewald net dankbaar dat Ginger, haar plaasperd, en Anisa, haar Arabierperd, weer veilig tuis op die familieplaas buite Wepener is.
Ginger is al 26 jaar oud en was Groenewald se perd toe sy ’n kind was.
Groenewald en haar pa, Johan, het verlede Vrydag die perde sowat 200 km van waar hulle by Wepener gesteel is, in Matelile in Lesotho gaan haal.
Sy sê met die oplaaislag het ’n senuagtige Anisa haar borskas baie diep teen een van die perdewa se knippe gesny.
“Dit het erg gebloei en ek het ’n bottel yswater gebruik om die bloeding te probeer stop.”
Iemand het intussen na die Ladybrand-dierekliniek gery om medisyne te gaan haal.

Die polisie in Lesotho het dié foto van Ginger verlede Donderdagoggend aan Landi Groenewald gestuur. Sy het Ginger en Anisa Vrydag in Lesotho gaan haal.
Groenewald sê dit het meer as drie uur geneem om Ladybrand te bereik, omdat ’n mens nie vinnig kan ry nie en die grenspos baie besig was.
Die spoedbeperking in Lesotho is meestal 50 km/h of 80 km/h.
Ses uur later kon hulle Anisa ’n kalmeermiddel gee, die wond versorg en haar saam met Ginger oplaai en na Suid-Afrika bring.
Die snywond was baie diep en dr. Marike Badenhorst, ’n veearts, het Saterdagoggend steke ingesit.
Groenewald sê sy is bekommerd oor haar twee perde, maar Badenhorst sê dat hulle vir haar goed lyk.
“Ek is seker maar net oorbeskermend,” sê Groenewald.
Haar perde is op 22 Junie buite Wepener gesteel en deur die Lesotho-grens gejaag. Sy het twee private speurders aangestel en selfs ’n beloning uitgeloof.
’n Polisielid van Lesotho het verlede week vir haar foto’s van Ginger gestuur en ’n ruk later is Anisa ook opgespoor, maar in ’n ander nedersetting.
“Ná die diefstal is ons ook nou maar bekommerd oor ons veiligheid op die plaas,” sê sy.