Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
FOTO'S: Geluk is . . . ’n paar nuwe skoolskoene

Die kinders van Tlhalefang Primary School naby Lichtenburg in Noordwes het Vrydag stroopsoet gesit en wag vir nuwe skoene terwyl sommige hul voetjies opgewonde in vodde skoene sit en rondswaai het.

Samuel Nkone, ’n voormalige distriksbestuurder van Noordwes se onderwysdepartement, het elk van die 86 kinders wat ’n paar blinknuwe skoolskoene gekry het, se naam en skoengrootte uitgelees voordat hulle die skoene gaan haal het.

Die NWK-landboumaatskappy borg dié projek al sewe jaar lank in samewerking met Noordwes se onderwysdepartement, nadat Nkone die maatskappy in 2011 genader het. NWK het net vandeesweek altesame 414 pare skoene by vyf klein skole in die Lichtenburg-omgewing uitgedeel.

Selfs die jonger kinders het geduldig gewag totdat die amptelike verrigtinge verby was voordat hulle hul nuwe skoene uitgehaal het. Van links is Nongethini James, Kopano Motlatudi en Tebogo Molefe. Foto: Susan Cilliers
Johan Bezuidenhout van NWK help Kopano Motlatudi om sy skoene en kouse aan te trek. Nongethini James sit langs Kopano.Foto: Susan Cilliers

3 800 pare skoene is al uitgedeel sedert die projek in 2012 begin het. As fasiliteerder van die projek, is dit ook Nkone se reuse-taak om met skole te vergader en toe te sien dat die regte getal skoene vir meisies en seuns in die regte groottes aangekoop word.

Die gelukkige ontvangers het Vrydag ook elk ’n paar splinternuwe sokkies en ’n mussie gekry in hul skoenpakkies wat elk meer as R200 kos. Selfs die gr. R-leerlinge wat voor in die klas gesit het, het grootoog met die skoendose op hul skote gesit sonder om dit oop te maak, terwyl Nkone hulle gemaan het om die skoene skoon te hou.

Die skool het 50 houers skoenpolitoer en skoenborsels gekry wat by die skool sal bly terwyl lewensoriëntering-onderwysers sal toesien dat die kinders gereeld hul skoene skoonmaak.

Toe die amptelike verrigtinge verby was, het die ouer kinders buitentoe gehardloop om hul nuwe skoene aan te trek. Van hulle het verslete somer-insteekskoene gedra, terwyl ander lomp, ou winterstewels en stukkende skoolskoene met gelapte veters vir die nuwe skoene verruil het. Personeel van NWK het van die jonger kinders gehelp om die nuwe skoene en kouse aan te kry.

Nkone vertel hy was genoodsaak om af te tree nadat hy in 2006 in ’n ernstige motorongeluk beseer is. “Ek het altyd gesien hoe die kinders op die platteland ver en baie keer kaalvoet skool toe loop. Toe besluit ek om ’n borg vir skoolskoene te probeer kry. Ek het NWK genader en hulle was dadelik geesdriftig.”

Johan Bezuidenhout, groepbestuurder van bemarking en kommunikasie by NWK, sê dis vir die maatskappy ’n voorreg om die skoene te skenk omdat kinders die land se toekoms in hul hande hou. Benedict Modise, direkteur van transformasie by NWK, het bygevoeg dis vir NWK belangrik om ’n bydrae tot die gemeenskap te lewer. Daarom het die maatskappy ook ander maatskaplike projekte, onder meer om elke jaar skootrekenaars aan top-matriekpresteerders in die Ditsobotla-distrik in die Lichtenburgomgewing te skenk.

Jane Kgomosotho, ’n onderwyser by die laerskool gemoeid met die skoenprojek, sê die skoene beteken baie vir arm kinders wat sonder of met verslete skoene moet skoolgaan. “Ons is baie dankbaar oor die skenking.”

Klein Nongethini James se ou en nuwe skoene. Voor van links is Samuel Nkone, Homba Bongani en Johan Bezuidenhout van NWK, wat almal betrokke is by die bestuur van die projek. Agter staan Jane Kgomotsotho, ’n onderwyser by die Tlhalefang Primary School waar die kinders Vrydag skoene gekry het. Foto: Susan Cilliers
Van die ouer kinders wys hul ou en nuwe skoene. Van links is Pitso Onkarapile, Tube Oiboleleng, Boipelo Motsepo en Solofilang Rampyaptoli.Foto: Susan Cilliers
Van die kinders wat Vrydag skoene gekry het. Van links is Palesa Mokgotho, Francina van Wyk, Ofentse Machwisa en Shirley Montse.Foto: Susan Cilliers
Twee van die ouer seuns, Mosemedi Piet (links) en Mojalefa Magele, wys hoe hul ou en nuwe skoene lyk.Foto: Susan Cilliers
Johan Bezuidenhout van NWK help een van die jonger kinders om sy skoene en kouse aan te trek.Foto: Susan Cilliers
Johan Bezuidenhout van NWK help Kopano Motlatudi om sy skoene en kouse aan te trek. Nongethini James sit langs Kopano.Foto: Susan Cilliers
Lynn Smit van NWK help een van die kinders om haar nuwe skoene aan te trek. Die meisie se naam is nie bekend nie.Foto: Susan Cilliers
Van die kinders wys ingenome die skoendose met hul nuwe skoene. Van links is Goitsemodimo Ruele, Bonolo Ditabane, Palesa Mokgotho en Francina van Wyk. Foto: Susan Cilliers
Meer oor:  Noordwes  |  Lichtenburg  |  Liefdadigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.