Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Fouriesburg-man soek sy gesteelde ‘hartsperd’ terug
Japie Weideman op Kordaat se rug.Foto: Verskaf

’n Mens kry net een keer in ’n leeftyd ’n perd waarmee jy so ’n hegte band het, sê Japie Weideman wie se geliefde perd, Kordaat, in Fouriesburg in die Oos-Vrystaat gesteel is.

Weideman sê Kordaat is sy hartsperd en ’n bekende gesig in Fouriesburg en eintlik die hele Oos-Vrystaat.

Kordaat, ’n boerperd-hings, is op 12 Julie uit ’n kampie op die munisipale meentgronde buite die dorp gesteel.

Weideman sê die kampie waarin Kordaat gebly het, se drade is geknip en hy kon sy spore ’n ent tot naby ’n pad volg.

Kordaat het tien jaar lank in dié kampie gebly, sê Weideman.

“Ek weet nie of iemand hom hier opgelaai het nie, want hy is so ’n goedgeaarde perd dat dit baie maklik sou wees om hom op ’n sleepwa te laai,” sê hy.

Die Caledonspoort-grenspos na Lesotho is ook net 9 km van Fouriesburg en dit kan ook wees dat Kordaat nou in dié land is, sê Weideman.

Kordaat is geleer om in ’n karretjie ingespan te word en hy is gereeld op troues en matriekafskeide gebruik, sê hy.

“In 2013 toe Fouriesburg as Kwêla/kykNET se Dorp van die Jaar bekroon is, was Kordaat deel van die feesvieringe,” sê Weideman.

Die Anglikaanse kerk het selfs een keer vir Kordaat gebruik om ’n biskop van die kerk met ’n perdekar deur die Mashaeng-township te neem.

Kordaat, ’n boerperd-hings wat 16,1 hande hoog staan, is in Fouriesburg gesteel. Foto: Verskaf

Weideman sê Kordaat het so ’n goeie temperament dat sy kleinkinders onder toesig op hom kan ry, of hy trek hulle in ’n karretjie.

Weideman sê hy en sy ma het Kordaat as ’n week oue vulletjie gekoop.

Weideman, ’n sakeman en oudonderwyser, sê hy is bereid om R5 000 as beloning te gee vir inligting wat kan help om Kordaat op te spoor.

Hy sê Kordaat is ’n besonder groot perd wat uitstaan tussen ander perde. Hy is 16,1 hande hoog en ’n besonderse ryperd en enkeltuig-trekperd.

Mense wat Weideman kan help om Kordaat op te spoor, kan hom by 083 794 1349 bel.

Landi Groenewald van Wepener het ná ’n soektog van drie weke haar twee gesteelde perde in Lesotho opgespoor.

Groenewald se perde is by Wepener gesteel en oor die grens geneem.

Danksy die hulp van die polisie in Lesotho en die polisie in Wepener se veediefstaltak het sy haar perde op 12 Julie in Lesotho gaan uitken en terug na Suid-Afrika gebring.

https://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/geliefde-perde-dalk-in-lesotho-gevind-20190711

Meer oor:  Fouriesburg  |  Veediefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.