Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Frans Cronjé praat oor sy jongste fliek

Frans Cronjé, oud-Bloemfonteiner, is bekend omdat hy Faith like Potatoes vervaardig het, dat hy Hansie se broer is en omdat hy self suksesvol in sport was. Marguerite Vermeulen gesels met hom oor sy jongste fliek, The Roar.

Hy praat nie van politieke gemeenskapstransformasie nie, maar hy maak flieks om mense te transformeer.

“Ek wil graag die wêreld ’n beter plek maak as hoe ek dit gekry het,” sê Frans Cronjé wat voorskoue van sy jongste fliek, The Roar, landwyd aanbied.

The Roar, wat op 2 Maart in teaters uitgereik word, plaas pa-en-dogter-verhoudings in die kollig, breek stereotipes oor renosterstropery in Suid-Afrika af en is toepaslik op Suid-Afrikaners wat emigreer.

Cronjé speel self ook in sy jongste rolprent. Hy sê sy karakter is ’n baie hardkoppige pa.

Frans Cronjé, vervaardiger van die fliek The Roar, die week met die bekendstelling in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

“Met die dat ons die pa-dogter-verhouding inskryf, kon ek by my karakter ’n paar goed inwerk waarmee ek kan vereenselwig.”

Cronjé se dogter was ook agter die skerms.

Die karakter wat Cronjé speel, sukkel om te praat. Hy sukkel om te verwoord wat in sy emosies binne-in hom aangaan.

“En ek dink ons Afrikanermans sukkel juis daarmee, veral ons generasie en ouer weet nie hoe om hulself uit te druk nie en dit veroorsaak baie keer ’n probleem in verhoudings. Of dit nou huweliksverhoudings of verhoudings met ons kinders of met ons ouers is. Ek dink ons moet almal leer hoe om te kommunikeer. Dit is my karakter in die fliek se grootste journey.

Cronjé hou ook van aksie in sy flieks. Daarvoor moes Kevin Richardson, bekend as die leeufluisteraar, met sy leeus in ’n leeuaanval vir Cronjé as dubbel instaan. Daar is ook aktuele aksie – ’n skietery met stropers.

Nog ’n deel van die fliek wat Cronjé se hartsnare tokkel, is die dogter en hoofkarakter Louise, gespeel deur Almarie du Preez, se besluite in die fliek.

“Sy is op ’n pad om uit te vind sy wil graag ’n verskil maak, sy is lief vir die Here en sy voel ’n roeping in haar lewe, maar sy moet besluit of daai roeping op ’n baie klein dorpie of in New York is.”

Terwyl Cronjé dié fliek vervaardig het, het hy twee Amerikaanse flieks gevind wat mense sal inspireer om hul lewensdoel te ontdek. Daarom bring hy nou ook op 2 Februarie die fliek 6 Below: Miracle on the Mountain en op 13 April die fliek Victor na Suid-Afrikaanse teaters.

Cronjé sê hy het gekies om The Roar te maak omdat hy die tema van ’n lewensdoel in ’n fliek wou uitbeeld.

Hy beskryf dit soos volg in die Engels: Fulfilling your purpose is worship.

“Soveel kere wanneer mense lief is vir die Here en hulle ’n verskil wil maak, dink hulle hulle moet heeltyds in die bediening ingaan eerder as om aan te hou werk in die media of as ’n sanger of as ’n politikus. Ek dink die meeste van ons se roeping is juis om daar waar jy is ’n verskil te maak.”

En sy flieks maak ’n verskil.

Hy sê in Baroudeur was daar nie geld toe hulle die fliek gemaak het nie, want dit was gedurende die resessie.

“Verskeie mense het ons gekontak en gesê hulle het die fliek gekyk toe hulle op die punt was om selfmoord te pleeg. Hulle het weer hoop gekry.”

Die tema in Baroudeur was volgens Cronjé dat selfs wanneer dit lyk asof jy alles verloor het, kyk om jou rond, gebruik wat jy het, sit dit in die Here se hande en kyk hoe Hy dit vermenigvuldig.

Frans Cronjé, vervaardiger van die fliek The Roar die week met die bekendstelling in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

“Daar is altyd hoop, maak nie saak hoe desperaat die situasie lyk nie.”

Vir Cronjé was dit ook ’n lewensveranderende ervaring om The Roar te vervaardig, soos met al sy flieks.

“Ek het al baie vir die Here gesê ek wil graag eenmaal leer. Ek wil nie die heeltyd stukkies leer nie.”

“Die lesse wat ek in die laaste twee jaar geleer het, terwyl ons dié fliek gemaak het, was soms baie harde lesse. Jy moet kyk na wat jy goed doen en wat jy dalk nie so goed doen nie. Jy moet die heeltyd daaruit leer en aanpas om dit volgende keer beter te doen.”

The Roar is klaarblyklik met ’n groter begroting as die meeste Suid-Afrikaanse flieks gemaak. Dele is in New York verfilm, daar is lugskote van die natuur in die Waterberge en daar is ook twee Amerikaanse akteurs. Cronjé sê hulle het nie gespaar op naproduksie of klank nie.

Een van die staaltjies wat hom altyd van dié fliek sal bybly, is oor die twee Amerikaanse akteurs, Torry Martin en Shaullanda Lacombe. Dit was albei akteurs se eerste keer buite Amerika en hulle was bang om na Afrika te kom.

“Op die tweede dag waarop die fliek verfilm is, op ’n wildplaas in die Waterberge, is ’n boomslang in die kamer langs Martin se kamer aangetref. Ek het almal laat belowe hulle sal nie vir hom sê nie, maar hy het uitgevind.”

Die rolprentspan was ook bang oor die mense se veiligheid, wat darem ’n kleiner bekommernis op die wildplaas was as wat dit in Gauteng was.

“Toe ons in die Atterbury-teater afneem, het Martin alleen opgestap na die winkelsentrum. Hy kom toe by die winkels aan enkele minute nadat agt rowers met AK-47’s ’n juwelierswarewinkel beroof het. Toe het ek besef sy Afrika-trippie is nou mooi klaar.”

* Cronjé nooi skole, kerke en ander instansies om deel te wees van die Lewensdoelweek van 2 tot 10 Maart. Dit moedig mense aan om hul doel in die lewe te ontdek. Die inisiatief val saam met die bekendstelling van The Roar.

Meer oor:  Fliek  |  Frans Cronjé  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.