Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Frans Steyn kom terug Vrystaat toe
Die Springbokheld Frans Steyn, met twee Wêreldbekers agter sy naam, het Woensdag met sy gesin in Bloemfontein aangekom. Hy en sy vrou, Linca, het drie dogters. Hul huis is hier en hulle gaan hulself hier vestig wanneer sy rugbyloopbaan volgende jaar in Montpellier, Frankryk, tot ’n einde kom. Hy is ook ’n boer in die Vrystaat. Van lniks is Lilé, Frans, Miya, sy vrou, Linca, en Carle. Foto: Mlungisi Louw

Frans Steyn, die Vrystaatse boerseun wie se naam op twee Wêreldbekers pryk, kom huis toe na waar hy kaalvoet rugby begin speel het.

Dié merino-boer met boerderybelange in die Vrystaat het ’n huis in Bloemfontein en wil sy kinders hier grootmaak.

Steyn en sy vrou, Linca, en hul drie dogters, Lilé, Miya en Carle, het Woensdag in Bloemfontein aangekom vir ’n kort vakansie ná die Springbokke se oorwinningsparades oor die land heen.

Hy was lid van die Springbokspanne wat die Wêreldbeker in 2007 en 2019 verower het.

Die ster wat vir Montpellier in Frankryk speel, sê hy eindig sy lang oorsese loopbaan in Junie volgende jaar en keer dan finaal terug Suid-Afrika toe. Na die Vrystaat, waar hy boer, en na Bloemfontein, waar hul huis is. Daar was vroeër bespiegelings dat hy ook sy loopbaan hier kan afsluit.

Hy is dankbaar dat die Wêreldbeker ook vir die boere iets beteken het.

Deur die Vrystaat en die Karoo het veral die Konsortium-merinoboere, waarvan hy ’n lid is, ekstra trots gevoel toe hy gehelp het om die Engelse te kelder.

“Rugby was nog altyd ’n opkikkering vir die Afrikaners, veral vir boere. As ons ’n slegte week gehad het, maar ons kyk die Saterdag goeie rugby, dan is alles weer beter,” het hy net ná sy aankoms in die Rosestad gesê.

“Net soos goeie reën, gee ’n goeie rugby-naweek vir ons die krag om die Maandae weer in die oë te staar.”

Die veelsydige Bok-agterspeler boer onder meer by Rouxville in die Suid-Vrystaat.

Hy het sy rugbyloopbaan aan die Laerskool Aliwal-Noord afgeskop en het in 2005 aan Grey-kollege in Bloemfontein gematrikuleer.

Die boere het ’n paar rowwe jare agter die rug en die droogte is steeds nie verby nie.

“Ons as boere kan mekaar net probeer help, maar ’n mens kan net soveel doen. Elke boerdery word deur sy eie uitdagings in die gesig gestaar,” sê hy.

Steyn sê hy is dankbaar dat hy bevoorreg genoeg was om ’n ander bron van inkomste te hê tydens die droogte.

“Dis ’n voorreg wat baie boere nie het nie. Ons kan net die jare wat verby is, sien as ’n leerskool sodat ons kan weet wat om in die toekoms te doen en wat ons in plek moet hê.”

Hy sê die Vrystaat is ’n spesiale plek vir hom en sy vrou. “Ons wil ons kinders hier grootmaak en is geheg aan die plattelandse gevoel wat Bloemfontein bied.

“Ons wil graag hê ons kinders moet ook ’n lekker ervaring hier hê soos wat ek en my vrou gehad het toe ons hier grootgeword het.”

Steyn vlieg die naweek terug Frankryk toe waar hy hom tot Junie by Montpellier aansluit.

Meer oor:  Vrystaat  |  Frans Steyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.