Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Frik du Preez se redders vertel van drama
Trish Armstrong en Ina Strijdom by Frik du Preez tydens hul besoek aan die oud-Springbok Saterdagaand.

Dat twee “bleddie vroumense hom nou moes red”, het Frik du Preez, oud-Springbok, gekorswel toe Trish Armstrong en Ina Strijdom hom Saterdagaand in die hospitaal besoek het.

Armstrong, direkteur van spesiale projekte van die Tshwane-metropolisie, en Strjidom, raadslid vir wyk 66, het Du Preez Donderdag bygebring nadat hy by Leriba Lodge in Centurion inmekaargesak het.

“Die eerste rukkie langs die hospitaalbed was baie emosioneel, ons het almal gehuil,” sê Strijdom.

“Sy vrou het ons vasgegryp en gedruk.”

Armstrong sê ná die trane het hulle land en sand gesels. “Ons het oor sy plot gepraat, rugby, die vreeslike toestand waarin die Blou Bulle verkeer, waaroor hy amper weer ’n hartaanval gekry het! Wat ’n wonderlike mens. Dit was soos as ’n mens as kind kans sou kry om met Superman te praat. Hy’s so sterk soos ’n os!”

Armstrong, wat ’n noodhulpkursus gedoen het “toe ek nog in my 20’s was”, het mond-tot-mond-asemhaling toegepas toe sy Donderdag by Leriba aangekom het en Du Preez buite die restaurant sien lê.

“Ek het vir Ina gevra om ’n ambulans te ontbied en toe dat sy Frik se kop agtertoe hou.”

Strijdom beskryf haar aandeel in dié spanpoging as “minder as 20%”.

“Maar ek sien nou hoe die Here die legkaartstukke inmekaar laat pas het.”

Ons het oor sy plot gepraat, rugby, die vreeslike toestand waarin die Blou Bulle verkeer, waaroor hy amper weer ’n hartaanval gekry het!
Dié foto van Ina Strijdom en Frik du Preez is geneem sowat ’n kwartier voordat hy Donderdag inmekaargesak het.

Strijdom was vroeër die middag by die lodge in ’n vergadering saam met ’n burgemeesterskomiteelid toe Peet du Preez, eienaar van Leriba, hulle nooi om vir ’n wynproe-geleentheid aan te bly.

“Die volgende oomblik kom Frik du Preez by die restaurant ingestap en word aan ons voorgestel. Ek het nie eens geweet hy was daar vir ’n gholfdag nie.”

Sy het ’n foto van haar en Du Preez na Armstrong, wat sy al vroeër genooi het om by hulle aan te sluit, gestuur met ’n boodskap: “Kyk net wie is hier.”

Armstrong het toe vinnig gespring om uit Pretoria-Noord te ry om haar “kleintydheld” te kan ontmoet.

Intussen het Du Preez ’n oproep gekry en buitentoe gestap om dokumente te ontvang wat vir hom afgelewer sou word.

Ek het vir die Here gebid om dankie te sê dat hy ons op die regte tyd op die regte plek gehad het.

“Die volgende oomblik het iemand geskree: ‘Ina kom help!’ Ek het my in ’n ander bloedgroep in geskrik en buitetoe gehardloop.”

Strijdom vertel verder hoe sy daar vir Armstrong aangetref het wat reeds met noodhulp besig was en hoe Du Preez hulle vanuit sy hospitaalbed in trane bedank het.

“Ons het ook die snaakser oomblikke van daai aand herleef. Jy weet, ek het van die lig af in die donker in gehardloop by Leriba en daar haak my voet oor Frik du Preez se nr. 14-voete vas en ek slaan neer! Nadat alles by Leriba verby was, was Trish se motorsleutel soek. Ons het dit op die ou end in die hospitaal in Frik se baadjie opgespoor.”

Sy sê Du Preez was ook vol grappies en het gespot hy kan nie glo dat hy deur “twee bleddie vroumense” gered is nie.

“Maar as ek nou terugdink, was dit eintlik ’n groot voorreg om te help. Ek het vir die Here gebid om dankie te sê dat hy ons op die regte tyd op die regte plek gehad het.”

Bes du Preez, Frik se vrou, het Sondagmiddag gesê hulle is ontsettend dankbaar teenoor Armstrong en Strijdom. “Ons sal vir die res van ons lewe vriende bly.”

Mev. Du Preez het ook almal bedank wat boodskappe van ondersteuning gestuur het.

“Mens kan nie glo van waar af al die boodskappe kom nie, maar ons is dankbaar oor elkeen.”

Meer oor:  Frik Du Preez  |  Hartaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.