Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
FW groet Pik, sy ‘gewaardeerde kollega en vriend’

Wyle oudminister Pik Botha was gedurende intense gesprekke in die leierskap van die destydse Nasionale Party (NP) in die 1980’s ’n prominente en konsekwente voorstander van hervorming, grondwetlike onderhandelinge én die vrylating van oudpres. Nelson Mandela, sê oudpres. FW de Klerk.

De Klerk het dít Vrydag gesê nadat hy “met hartseer” van Botha (86) se afsterwe verneem het.

Oudpres. FW de Klerk. Foto: Lerato Maduna

“Hy was baie jare lank ’n gewaardeerde kollega en vriend. Ek en my vrou Elita wil graag ons medelye met Ina (Botha se vrou) en sy familie uitspreek,” sê De Klerk in ’n verklaring wat die FW de Klerk-stigting Vrydag ná Botha se dood uitgereik het.

De Klerk het bygevoeg dat Botha destyds ook oudpres. PW Botha se hervormingsmaatreëls gesteun het en hy was gevolglik een van die sterkste voorstanders van die grondwetlike transformasieproses wat op 2 Februarie 1990 begin is.

“Hy het ’n konstruktiewe rol in die daaropvolgende onderhandelinge sowel as ná die 1994-verkiesing gespeel, terwyl hy ook as NP-minister in die regering van nasionale eenheid gedien het.”

De Klerk het bygevoeg dat Botha se kleurvolle styl en reguit retoriek ook vir hom wydverspreide gewildheid onder wit kiesers gewen het en dat dit hom in 1978 en 1989 aangemoedig het om as NP-leierskandidaat te staan.

“Dalk was sy belangrikste bydrae die wyse hoe hy en sy kollegas in die departement van buitelandse sake hul man gestaan het teen groeiende internasionale druk totdat die ineenstorting van internasionale Kommunisme in 1989 die weg gebaan het vir die onderhandelinge wat tot die stigting van ons nierassige grondwetlike demokrasie gelei het,” sê De Klerk.

Volgens hom was Pik Botha ’n “unieke en kleurvolle” persoonlikheid wat ook ’n enorme bydrae gelewer het tot die vreedsame en grondwetlike oplossing van die groot geskiedkundige uitdagings waarmee die NP-regering tot voor 1994 geworstel het.

“Hy was een van die leierspersoonlikhede in Suid-Afrikaanse politiek van 1970 tot en met sy aftrede uit aktiewe politiek in 1996.

“Hy het met groot onderskeiding gedien as Suid-Afrika se minister van buitelandse sake van 1977 tot 1994 en was een van die wêreld se langs dienende ministers van buitelandse sake.”

De Klerk sê dat Botha in hierdie tydperk Suid-Afrika onverskrokke teen groeiende internasionale isolasie verdedig het.

“Botha het ’n leidende rol in Suid-Afrika se verhouding met Suidwes-Afrika/Namibië gespeel: eers as lid van Suid-Afrika se regspan in die internasionale hof vir justisie se positiewe uitspraak in 1966 en toe weer tussen 1974 en 1989 in Suid-Afrika se uitgerekte onderhandelinge met die Westerse kontakgroep en die Verenigde Nasies (VN) oor die onafhanklikheid van Namibië.

“In 1998 het hy die drieledige ooreenkoms met Angola en Kuba onderteken oor die onttrekking van Kubaanse soldate uit Angola en die implementering van die VN-onafhanklikheidsproses in Namibië,” sê De Klerk.

“Hierdie ooreenkoms was van deurslaggewende betekenis vir die evolusie van die politieke situasie in Suid-Afrika.”

Meer oor:  Fw De Klerk  |  Pik Botha  |  Kollega  |  Vriend
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.