Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boetie en sussie sterf saam in plaasdam

Nog ’n tragedie het die naweek die gemeenskap van Gansbaai getref toe twee kinders van die distrik in ’n plaasdam op die plaas Vlooikraal in die omgewing van Baardskeerdersbos buite Gansbaai verdrink het.

Dameon de Vries (7) en sy suster, Kaylie (5), was veronderstel om ’n middagslapie te neem. Toe André de Vries en sy vrou, Odete, egter kort ná 16:00 wakker word, was daar van Dameon en Kaylie geen teken nie.

Hulle het onmiddellik na hul kinders begin soek.

Dameon (7) en sy suster, Kaylie (5), se lyke is in ’n plaasdam in die Baardskeerdersbos-omgewing by Gansbaai gekry. Foto: Verskaf

Later het Odete haar suster, Berindine Venter, gebel sodat sy en Johan Bester, haar verloofde, kon kom help soek na die twee kinders.

Bester het Maandag gesê die oproep na hulle was omstreeks 19:00.

“Ons het kort ná 20:00 op die plaas aangekom. Die twee kinders se lyke is toe al in die plaasdam gevind.”

Die kinders se speelgoed is ook op die damwal gevind.

Bester sê Japie Swart, eienaar van die plaas, het die kinders se lyke uit die dam gehaal.

Volgens Bester is die plaasdam sowat 20 m van die huis waar die De Vries-gesin woon.

“Ons vermoed die twee het uitgeglip terwyl André en Odete nog geslaap het."

Ons vermoed die twee het uitgeglip terwyl André en Odete nog geslaap het.

Die egpaar en hul kinders woon sedert verlede jaar op die plaas. Hulle het voorheen in Kleinbaai gewoon.

“Ons gaan die kinders mis. Hul ouers is gebroke. Ons is gebroke.”

Bester het Dameon as ’n regte kaalvoetseuntjie beskryf. “Hy was ’n plaaskind. Hy wou buite wees. Hy wou beeste jaag en buite speel.”

Kaylie was saam met sy seun by die Kleine Gansies-kleuterskool in Gansbaai.

“Sy was ’n liefiekind wat almal net drukkies en liefde wou gee."

Sy was ’n liefiekind wat almal net drukkies en liefde wou gee.

Janine Taylor, inwoner en gemeenskapswerker van Gansbaai, het Maandag gesê sy is geruk deur die tragedie.

“Ek ken die kinders en hul ouers baie goed. Ek het nog onlangs foto’s van die tweetjies geneem. Wat doen ’n mens? Wat sê ’n mens vir die ouers?”

Sy het Maandag gesê sy het met André gepraat. “Hy, hulle is stukkend. Sy ma is nou by hulle, maar niemand sal ooit daai seer kan wegvat nie.”

Op die Facebook-blad "Wie maak vir Gansbaai lekker" het talle mense sedert Maandagoggend boodskappe van medelye en simpatie geplaas.

Bester skryf: “skoonsus... Liewe heer het groot plan met julle... Alle sterkte vir julle... Dis n baja hartseer dag en die 2 kidos gaan verseker gemis word... Maar weet ons is hier om te help... En Gansbaai is hier om te help... Die kids sit nou aan die regter hand van God en sit sonder pyn... En sal altyd in ons gedagtes bly...”

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het Maandag bevestig dat die kinders se lyke gevind is. Sy sê ’n geregtelike doodsondersoek sal gedoen word.

• Daar was die afgelope maand nog twee tragiese voorvalle in Gansbaai.

Die tienjarige Jayden Montagu van Blompark het op 17 Junie by die Gansbaai-hawe verdrink nadat hy vermoedelik op dolosse gegly en in die water beland het. Sy lyk is die volgende dag deur polisieduikers uit die troebel water by die hawe gehaal.

Op 27 Junie is Bridgenay Slingers (18) van Blompark, Gansbaai, vermoor. Haar gewese kêrel, Roderick Ward (24), is vir haar moord in hegtenis geneem.

Meer oor:  Gansbaai  |  Dam  |  Kinders  |  Lyke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.