Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Gatvol-groep betoog in Kaapse metro

Die drukgroep Gatvol Capetonian het vroeg Maandagoggend met grootskaalse betogings in die Kaapstad-metro begin.

Die groep het Saterdag in ’n verklaring gesê hy gaan hoofpaaie in die hele metro tussen 05:00 en 11:00 sluit en verwag dat inwoners van minstens 14 gebiede by die betogings aansluit.

Plekke wat tot dusver geraak word, luidens Maxine Bezuidenhout, woordvoerder van Kaapstad se verkeersdienste:

  • Bande brand op die hoek van die R102 en Forrestweg
  • 102-noord is by Pleinstraat gesluit
  • Betoging in Kraaifontein: Ou Paarlweg en Maroelastraat is gesluit.
  • Klippe in die pad op die N2-hoofweg, rigting Kaapstad, ná die Duinefontein-afrit 
  • M5-hoofweg by Parkwood en in Uitsig by Peninsula/Vrygrondlaan
  • Betoging by Steeberg-stasie/Floraweg in Steenberg
  • Ou Marme/Darling-pad tussen Silverstroom en Dassenberg by Atlantis
  • Militêreweg by die treinspoor in Steenvilla is gesluit 

Die betogers is ontevrede oor die toestande waaronder agterplaasbewoners op die Kaapse Vlakte bly.


gatvol, betogers
Die R102 by Eersterivier is vroeg Maandagoggend deur betogers versper. Foto: Jaco Marais
gatvol, betoging
Betogers op die R102 by Eersterivier. Foto: Jaco Marais

Intussen het Dan Plato, die burgemeester, Sondag in ’n verklaring ’n beroep op die polisie gedoen om te keer dat wetsgehoorsame inwoners geterroriseer word.

“Dit kan nie wees dat ’n sogenaamde ‘sluiting’ aangekondig en bevorder kan word deur opportunistiese politieke groepe wat beplan om inbreuk op die inwoners se regte te maak nie. Dit is beplande misdaad wat in die kiem gesmoor moet word.”

Volgens Plato het hy ’n skriftelike versoek vir ’n gekoördineerde wetstoepassingsreaksie om die inwoners te beskerm tot die provinsiale polisiekommissaris gerig.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het Sondag ook bevestig dat die metroraad kennis neem van die beplande betoging en dat die reg om te betoog eerbiedig word solank dit vreedsaam is en nie inbreuk maak op ander se regte, soos toegang tot paaie, nie.

“Die metroraad was oor die afgelope twee weke verplig om saam met die polisie teen gewelddadige betogers op te tree en byna 30 mense is in hegtenis geneem. Die voortdurende nodigheid om hulpbronne weens betogings en grondbesettings te herprioritiseer is ten koste van kwesbare en arm gemeenskappe wat die ergste deur misdaad geraak word.”

Volgens Smith gaan die herleiding van polisiehulpbronne om onluste te hanteer tot gevolg hê dat die polisie se aandag afgelei word van bendegeweld en die vlaag van grondbesettings wat tot die verdere onwettige besetting van grond kan lei.

“Ons doen ’n beroep op die publiek om nie aan gewelddadige protes deel te neem of toegang tot openbare paaie te versper en infrastruktuur en eiendom te beskadig of te verwoes nie.”

Fadiel Adams, nasionale woordvoerder van Gatvol Capetonian, het vandeesweek in ’n video op sosiale media bekend gemaak dat die groep Kaapstad “tot stilstand gaan ruk” en verskeie redes daarvoor verskaf.

Dit sluit in ’n tekort aan geleenthede vir bruin mense, die viktimisering van onderwysers, Hophuise wat gebou word, die afbreek van strukture in Houtbaai wat die metroraad as onwettig beskou, ’n tekort aan politieke wil by die ANC om bendes en dwelms te bestry en bruin mense wat gemarginaliseer word.

Adams het ook geëis dat Smith afgedank word en gesê hy kan verstaan nie hoe hy ná die sloping van strukture in Hangberg, Houtbaai as burgemeesterskomiteelid kan aanbly nie.

Hy het Sondag ook beklemtoon dat geen lede van Gatvol Capetonian vir enige geweld al in hegtenis geneem is of skuldig bevind is nie.

Die groep het Saterdag in ’n verklaring genoem dat hy op 8 Augustus 2019 ’n soortgelyke betoging gehou het om die aandag op die lot van die agterplaasbewoners op die Kaapse Vlakte te vestig.

“Vanjaar se betoging is om presies dieselfde rede, want niks is gedoen om die lewe van die agterplaasbewoners te verbeter nie. Die memorandum wat oorhandig is, is blatant geïgnoreer.”

Volgens Gatvol Capetonian het die “agterplaasbewonerberaad” met die Menseregtekommissie (MRK) en Kaapstad-metroraad se amptenare net tot “vergadering ná vergadering gelei en niks opgelewer nie omdat niemand enige verantwoordelikheid wil neem nie”.

“Oor die afgelope jaar het ons situasie vererger en ons is glad nie naby enige oplossing nie. Mense word steeds uitgesit en op straat uitgegooi in dié ramptoestand met geen kwelling oor hul veiligheid en gesondheid nie. Ons sal aanhou om die metro tot stilstand te bring totdat ons gehoor word en daadwerklik opgetree word.”

Die drukgroep het in nog ’n verklaring Saterdag gesê hy verwag die hoogste vlak van dissipline en beheerstheid van sy lede en geen misdadigheid teen mense of eiendom sal geduld word nie.

Lede word ook gewaarsku om nie uit nalatigheid skade aan mense of eiendom aan te rig nie, terwyl hulle belet word om infrastruktuur soos verkeersligte, skole, biblioteke en hospitale te beskadig.

Die leierskap verbied ook lede om van mense of ondernemings te steel of te plunder, en distansieer hom van dié gedrag.

In Augustus 2019 is paaie in Kaapstad tydens die protes van Gatvol Capetonian gesluit, onder meer in Mitchells Plain, Delft, Ocean View, Belhar, Parkwood, Beacon Valley, Kensington, Ottery, Elsiesrivier en die Bo-Kaap.

* Voorvalle van openbare geweld of ander misdade in Kaapstad kan by die metroraad se noodkommunikasiesentrum by 021 480 7700 aangemeld word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.